Wednesday, October 13, 2010

Dink aan hulle wat gered word, maar onthou veral vir hulle wat die redding bring....


Die reddingsaksie van mynwerkers by Kamp Hoop in Chile word nou wêreldwyd oor al die groot nuuskanale uitgesaai. Dit is boeiende beelde en roerende rapportering.

Dit is indrukwekkend watter ongekende tegnologiese hulp in hierdie reddingspoging na vore kom: ‘n spesiale boor is deur ‘n Amerikaanse firma ingevlieg om vinniger as gewoonlik by die vasgekeerde werkers te kan uitkom. Meer as 300 ingenieurs van oor die hele wêreld het hul hulp aangebied. Verskeie kapsule’s is gemaak om die mans uit te lig vir die 620 meter reis van onder uit die myn. Die reis na die oppervlakte, word ons vertel, is sleg want die kapsule draai al in die rondte en kan die mynwerkers erg benadeel. Dus kry hulle ‘n spesiale drankie wat deur die Amerikaans NASA ontwikkel is om hul ruimte-vaarders te help om stabiel te bly in tollende kapsule’s.  Psigiaters, sielkundiges en medici pluis elke aspek van die mans se fisieke en geestelike versorging in die fynste detail uit.

Die belangstelling in die reddingspoging is oorweldigend. Meer as tweeduisende media-mense het hul kamera’s by die boorgat opgestel. Die president van Chile, later met die president van Bolivië aan sy sy, verwelkom vaderlik elkeen wat uit die kapsule klim. Een van die mynwerkers is ‘n Boliviaan. Sy president het hom met sy vliegtuig kom haal en vir hom ‘n plasie geskenk sodat hy nooit weer in ‘n myn hoef te werk nie. Terwyl die president langs die myn staan en toekyk, wys hulle hoe hy die een oproep na die ander van staatshoofde kry om hom geluk te wens met die suksesvolle redding.

Maar dit is die menslike drama en die tonele van herontmoeting met geliefdes wat ‘n mens bybly. Die mynwerker wat na sy redding sy seuntjie by hul herontmoeting vashou, lank, lank, lank. Voor die tyd het die seun hardop in trane uitgebars toe hy sy pa op ‘n afstand herken. As hy sy seun so vasgehou het, groet hy dan sy vrou, maar gaan dan weer terug na sy huilende seun om hom weer lank in ‘n vaderlike, vertroostende en beskermende omhelsing vas te hou.

Nog ‘n mynwerker wat sy swanger vrou omhels: hulle soen mekaar, maar dan bêre sy haar gesig in sy nek om minute lank so te staan, met trane wat stil bly vloei en vloei. Albei van hulle druk mekaar vas, hul hande strelend, liefdevol, tewyl hulle mekaar in klein, liefdesbogies hoog agter die rug vryf. Dit is oomblikke wat eintlik te na, te teer en te fragiel is om so voor almal oor ‘n kamera gesien te word.

Daar is die ligte oomblikke: Die tweede mynwerker, ‘n totale ekstrovert, wat die groep onder in die myn glo in hul moeilike tye aan die gang gehou het tydens hulle traumatiese ervaring, kom uit die kapsule, groet sy geliefdes en vou dan ‘n doek oop waaruit hy ‘n paar rotse haal, waarvan hy een vir die president gee en verder vir die reddingwerkers. Dit is tyd vir presente van dankbaarheid! Dit is tyd om aan ander te dink...

Daar is die diep geestelike moment: Die negende mynwerker, die oudste van almal, klim uit die kapsule, hou sy vrou lank vas en gaan dan op sy knieë staan om eers by homself ‘n lang gebed, in stilte, tot God te bid uit dank vir sy redding. Die kamera fokus al die tyd op die stil, rustige man, verlore in sy gebed. Dit is tyd om God te aanbid....

Maar ek onthou iets anders: tydens ‘n onderhoud vertel ‘n Nieu-Seelander van sy ervaring met so ‘n reddingsaksie. Julle moet onthou, sê hy, dat dit veral die reddingwerkers is wat ook begelei moet word. Vir weke lank het hulle geswoeg en gesweet om kosbare lewens te red. Die paar wat daar om die boorgat saamgedrom het, het ‘n intense band met die vasgekeerdes ontwikkel. Vir weke lank was hulle bestaan totaal op hul redding ingerig.

Wanneer alles oor is, sê die spesialis, is dit veral die reddingwerkers wat ‘n groot leemte ervaar. Skielik is al die inspanning verby. Die mense wat gered is, is vort. Hulle is verenig met hul families. En die reddingwerkers sit met ‘n gevoel van leegheid in hulle. Vir hulle, die reddingswerkers, moet daar ook afsluiting kom. Hulle moet ook heling vind.

Skielik, toe ek dit hoor, herroep ek ‘n klomp beelde: die gejuig deur die reddingswerkers wat in vroeëre nuus-uitsendings opgeklink het toe ontdek is dat die mynwerkers nog lewe en ook toe die boor uiteindelik die vasgekeerdes bereik het. Ek sien ook meteens raak hoe versigtig en selfs delikaat die reddingswerkers elke keer die kapsule oopmaak, asof diep onder die indruk van die kosbaarheid van die mens aan die binnekant. Dit val my op hoe hulle amper vertederd die persoon uit die kapsule haal en hom met vele gewilige hande help om die eerste treë te gee. Ek merk hoe hulle soms met eerbiedige, afgekeerde gesig langs die mens staan wat sy vrou omhels – so asof hulle vir hulle die intieme oomblik van hereniging in volle privaatheid wil laat geskied. En dan volg daar die oomblik dat hulle hom wegneem, geduldig, van die herontmoeting met familie en die omhelsing van die president om hom op ‘n draagbaar te lê. Om dan weer terug te keer tot die reddingpoging – onvermoeid, in absolute konsentrasie, met totale toewyding.

Om gered te word, is ‘n ekstatiese ervaring. Sewentien dae het hierdie mense in die donker geleef. Onbewus van alle reddingspogings wat dalk aan die gang was. Hulle is nou by hulle families. Hulle het uit die dood teruggekom.

Maar om te red? Watter diep, ryk gevoelens van geluk oor ‘n suksesvolle redding moet daar tog in jou wees. Trots, dankbaarheid, vervulling: ‘n mens se beker loop oor...

Ek wil-wil aan die mistagogie dink wanneer hierdie gedagtes in my opkom. Op ‘n mens se geestelike reis gebeur dit dikwels dat ‘n mens met iemand wandel wat in die dieptes weggesink was. Wat ‘n vreugde as daar heling vir hulle gekom het. Jy kyk na hulle en jy sien ‘n mens wat nuut geword het.

Om een of ander vreemde rede is daar ‘n onverbreekbare band met so iemand. Jy kom nooit weer los nie van iemand met wie jy so ‘n intense reis geloop het en gesien het hoe daar vir so iemand uitkoms gekom het. Dikwels, soms gereeld, kom die beeld en die geskiedenis van daardie persoon by jou op, onthou jy die tye van spanning en kommer.

Dit is asof jy, lank na die tyd, as alles verby is en weer goed geword het, weer by hom of haar wil wees om te vra hoe dit gaan, of om net weer ‘n hand om die skouer te sit, of om saam bly te wees. ‘n Mens kom nooit los van hulle wat jou pad gekruis het en wat jou met hul sorge vertrou het nie. Jy deel met hulle ‘n ervaring wat nooit ophou nie. Gedurigdeur wil jy maar weer afrond, weet dat alles nog goed loop.

Die tye van hulle donkerte en die vry-word van die donkerte, sit nie net in hulle lewe vas as blywende herinneringe nie. Dit bly in ‘n mens as mistagoog en begeleier en mede-reisiger se eie lewe vir altyd ook vasgebrand.

As jy na ‘n lang tyd weer so iemand sien, is dit asof jou lewe weer opnuut ryk word by die herinneringe, die herontmoeting, die besef van gedeelde tye en geskenkte vervulling. Dit is ‘n sterker band wat tussen julle is as tussen jou en geloofsgenote met wie ‘n mens nie sulke moeilike tye meegemaak het nie. 

Wat is dit tog? Dalk is die besef dat ons as mistagoog, as geestelike begeleier, en hulle wat saam met ons gereis het, vir altyd aan mekaar gebind is, ‘n teken van die dieper werklikheid, die goddelike teenwoordigheid in ons geestelike reis. Saam hou ons, die begeleier en die begeleide, altyd vas aan die ervaring van bevryding wat ons gedeel het:

Onthou jy, onthou jy, die tyd toe ons soveel geworstel het, gedink het daar is nie uitkoms nie, wou ondergaan aan die briesende golwe? Kan jy nog in herinnering roep hoe die golwe bedaar het, hoe die redding gekom het, daardie stil dag dat my lewe heel geraak het? Sien jy die rowe van daardie traumatiese tyd, merk jy die lig wat ek lig-weg in my hart dra omdat ek gesond kon word, heel kan wees, by God vrede kon vind?

Ek weet, ek onthou dit: die tye toe ons soveel gepraat het, toe ek jou so baie moes troos, toe ek soveel woorde gesoek het, die tye van jou donkerte en twyfel en soeke. Ek onthou die dag toe jy kom vertel het jou pyn is verby. Jy verstaan nou beter. Jy sien kans om aan te gaan. Jou lewe het sin gevind. Ook vir my was die pyn oor, het die vreugde in my hart opgevlam, die dankbaarheid lank bly broei. Jou heling was my heling. Jou welsyn is my welsyn.

Ons weet beide, ons het te doen met die Verborgene. Dit is die tye dat dinge uit ons hand geneem is en genesing geskenk is – buite verstaan en eie krag om.

Dit het gebeur – hierdie redding en genesing – omdat daar ‘n Redder was, wat alles in die hand gehou het, wat deur die storm-tye ons, die mistagoog en die soeker, in liefde vasgehou het. 

Maar dit is asof hierdie gedagtes vanuit die mistagogie my ‘n nuwe blik op God en op die hart van God gee:

Meer nog, dink ek, as die onverbreekbare band wat die gesamentlike geestelike reis tussen mense oprig, is daar iets te leer oor wie God is. Ons is, in ons mistagogiese reis, beeltnis van God: God se redding, God se heilswerk, is maar net die begin. Juis omdat ons so hartgrondiglik deur God uit die dieptes opgetel is, is daar in die hart van God, die Reddingswerker by uitstek,  ‘n diepe verlange om by ons te wees. God vind voltooiing in die durende, voortgaande nabyheid met ons, die gevallenes en die opgestanes. Ons deel die ewige lewe.

Ons is nooit alleen nie. Ons is gebind aan mekaar deur die liefde waarmee ons mekaar dra, deur ons gesamentlike geestelike reis deur die tye van trauma en heling. 

Maar ons is bo alles gebind aan God wat gebind is aan liefde vir ons. Ons ervaar hoe God ons heel maak en gedurig deur weer opnuut vir ons vernuwe en by ons wil bly.

Ons is almal gevangenes van die liefde. Gelukkig.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive