Tuesday, November 16, 2010

Hoe lyk iemand wat deur God aangeraak is?

Binne Bybelse spiritualiteit is daar baie Bybelse motiewe vir God. God is Skepper, Verlosser, Regter, Ontsaglik, Ontfermend.

Maar hoe lyk die mens wat deur God aangeraak word?

1.  In die Bybel tref ‘n mens telkens die motief van die mens as Beeld van God, die imago Dei, aan. Bybelskrywers het die mens reeds in die vroegste tye verbind met die skepping na die Beeld van God (Gen.1:26). Die mens wat in ‘n verhouding met God leef, lyk soos God.

2. Die mens is nie net beeld van God nie. Die mens tree namens God op. In die Ou Testament is die koning God se verteenwoordiger in die wêreld. En wat opval is hoe die koning die een is wat sorg vir die wat swaarkry. Die koning gee hierin uitdrukking aan God se ontferming en bewoëndheid. Maar die koning wil ook die regspraak beskerm en is ingestel op die geestelike welsyn van ander. In die bedeling van Christus word hierdie motief gekontinueer. Mense word konings en priesters wat God se saak in hierdie wêreld verteenwoordig en daarom vir hulle instel op ‘n wêreld waarin geregtigheid en ontferming gesoek word.

3. Maar die mens is, skryf Waaijman, ook leerling van God. Die mens leer van God om soos God te word. Wanneer God met die mens ‘n verhouding aanknoop, leer hy daardie mens wat die diepste betekenis van die skepping is. As leerling ontdek ‘n mens wat die goeie is en verwerp ‘n mens die bose. ‘n Mens wat deur God aangeraak is, leer die skoonheid van die skepping ken, ontdek die waarde van alle mense, kyk na alles met die oë van God, ervaar God se wet as ‘n bevrydende rigsnoer tot die lewe, maar hy of sy word veral iemand wat kontemplatief leef. Die mens wat so kontemplatief lewe, ontdek die geestelike betekenis van die lewe.

4. Maar as God ‘n verhouding met mense aanknoop, maak hy die mens ook tot verbondsvennoot. Dit is ‘n verreikende daad van God: as ‘n mens met iemand ‘n verbond sluit, lê jy jouself ook sekere verpligting op. God staan dus, by wyse van spreke, onder ‘n verpligting teenoor die mens om met die mens die goddelike heerlikheid te deel. Dit is ‘n ontsagwekkende gedage, want God se heerlikheid vul die tabernakel sodat die volk dit nie wou waag om nader te gaan nie (Ex.40:34-35). Die Ou Testament het verduidelik dit verder in Exodus 34. Moses was veertien dae lank op die berg waar God die tien gebooie as teken van die verbond aan Moses gegee het. In Exodus 34:28-35 word vertel hoedat Moses se gesig geblink het as die Here het met hom gepraat het. Hy moes ‘n doek oor sy gesig dra omdat die ander bang was om naby hom te kom. In die “verheerliking” op die berg word Jesus se gesig en klere ook blink en skitterwit (Lk.9:29).

Daar is iets huiweringswekkend, ontsaglik en mistiek in die verhouding met God. Die mens wat deur God aangeraak word, ontvang seëninge wat nie gepeil kan word nie.

Beeld, verteenwoordiger, leerling en vennoot – so lyk die mens wat in ‘n verhouding met God leef. Al vier vertel iets anders en iets spesiaals oor die mens. In die mens wat 'n geintegreerde lewe het waarin die mens vir God leef, sal God se beeld ook in die mens begin leef. Die rykheid van die goddelike lewe word ook aan die mens gegee. En die mens word nou God se ewebeeld in hierdie wereld. Dit is ook spesiaal - dat die mens vertrou word om God te verteenwoordig. En al hoe meer leer die mens God ken, onderskei die mens die dinge waarop dit aankom. Waar iemand dan gerigd op God leef, volg 'n lewe vol heerlikheid. God wil, God moet selfs, 'n glansryke lewe deel met die mens wat in 'n verbondsverhouding met God tree.


Hoe wonderlik is die mens -  met heerlikheid en eer geklee, die een aan wie alles onderwerp is....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive