Sunday, November 21, 2010

Die sin van die lewe...


Om mens te wees, beteken om te weet dat die lewe sin het.  Maar vra maar wat is dan nou die sin van die lewe? Hierop kan ‘n oneindige klomp antwoorde gegee word. Daar is immers nie so iets soos “die” sin van “die” lewe wat vir alle mense geld nie.

Daarom sou ‘n mens kon sê dat ‘n mens se lewe ‘n aanhoudende proses is waarin ‘n mens steeds dieper nadink en antwoorde vind oor die sin van die lewe.

‘n Mens loop darem nie die pad heeltemal alleen nie. In hierdie proses van singewing, help dit baie om te luister hoe ander mense hul geestelike reis geloop het. Hulle ervaringe kan leersaam en insigryk wees.

Maar om sin in die lewe te ontdek, is ook ‘n hoogs individuele proses. Elke mens moet op sy eie die sin van sy lewe ontdek. Ander mense kan nie die finale, bindende antwoorde gee vir ‘n individu se vraag na sin nie.

Jesus, wat by die wet en die profete aangesluit het en hulle lewenskrag bevestig het (nie een jota of titel...), het tog duidelik bygevoeg: “Maar Ek sê...”  Vir Sy tyd was nuwe sin nodig. Nuwe wyn kon nie in ou leersakke gegooi word nie. En Hy het vir die toekoms voorspel dat sy volgelinge groter dinge sou doen...

Die sin wat sommige mense in en vir hul lewens ontdek, is dus baie keer nie vir ander se lewens geldig nie. Dit kan soms selfs gevaarlik wees om ander mense se antwoorde vir hul lewens sommer eenvoudig as ‘n antwoord vir ‘n mens se eie lewe oor te neem.

God loop ‘n unieke pad met elke mens.

‘n Mens tel ‘n geestelike boek op en sit dit onvervuld neer. Die persoon wat die boek geskryf het, kan vol entoesiasme wees vir al die dinge wat hy of sy sinvol ervaar het. En tog kan die leser wegstap van die boek sonder om veel van daardie entoesiasme te deel.

‘n Mens sit soms in ‘n geestelike byeenkoms, onaangeraak en soms selfs geïrriteerd. Alles wat gebeur kan wel onderhoudend, interessant en dalk soms selfs indrukwekkend wees. En tog verander dit niks aan ‘n mens se lewe nie.

Dat dit gebeur, is heel verstaanbaar. Dikwels, heel dikwels, kan ‘n mens op ‘n heel ander plek as jou geloofsgenote wees. En dit sou ‘n fout wees om ‘n mens hieroor te kwel. Dit is dalk iets waaroor ‘n mens dankbaar moet wees – dit is ‘n teken van die dinamiek van geloof, wat steeds nuut uitbot en groei.

Om op ‘n ander plek te wees, moet egter nie misverstaan word asof dit “die” “regte” plek is nie. Dit is bloot vir ‘n individu ‘n regte plek vir waar hy of sy in die lewensreis is. Steeds weer is ‘n verwerpende houding teenoor ander se anderse geloofsbelewing afbrekend.

Sekerlik is daar so iets soos ‘n oor-kritiese en afbrekende houding teenoor ander se geestelike ervaringe. Wanneer ons weet dat elke mens sy of haar eie pad met God loop, bewaar dit ons juis van só ‘n afbrekende houding teenoor ander. Dit help ons om ruimte te skep vir al die baie maniere waarop mense met hul onderskeie gawes ‘n pad met God loop. Die liggaamsbeeld, het Paulus immers geskryf, vertel vir ons daar is ‘n helder kop, ‘n fyn-kyk oog, ‘n skerp oor, ‘n vlytige hand en ‘n nederig voet. Selfs ‘n toon het tien verskillende vorme. Die gemeente blink uit in sy ryke, godgegewe verskeidenheid waarvan nie een deel sonder die ander kan nie en almal belangrik is. Aanvaar dit, skryf Paulus, en vier dit!

Dit is ‘n gawe van die Heilige Gees om ander toe te laat en, meer nog, toe te juig in die pad wat hulle met God loop. ‘n Mens moet geestelik besonder volwasse wees om aan ander geestelike vryheid te gun.  Dit vra van ‘n mens om te weet dat elkeen ‘n Godgegewe reg het om hulle lewe op hulle manier sinvol te beleef.

Terwyl ‘n mens dit aan ander gun, beteken dit nie dat ‘n mens daarmee hulle lewensantwoorde joune hoef te maak nie. Wat sinvol is, hang af, het Jesus geleer, van ‘n mens se talente toe Hy die gelykenis van die goue muntstukke vertel het (Mt.25). Die Skepper se gawe van sulke dinge soos iemand se persoonlikheid, karakter, liggaam, vaardighede speel alles ‘n rol in die sin wat ‘n mens vir jou lewe vind. Terwyl een sinvol leef deur melaatses in die arm wêreldstad Kalkutta te verpleeg, is die ander een ‘n prokureur in ‘n ryk klein landboudorpie in die Wes-Kaap. Die geduldige kategeet dien God so sinvol soos die noukeurige saakgelastigde.  Die man met die twee goue muntstukke het net soveel vreugde vir sy werkgewer gebring as die een met vyf stukke.

Maar hierdie opmerkings lei tot ‘n belangrike insig: ‘n mens kan nie wag totdat iemand vir jou sê wat sinvol is nie. ‘n Mens moet sin ontdek. Dit is ‘n proses van persoonlike groei. Dit is ‘n verantwoordelikheid en ‘n uitdaging. Hieroor sê die gelykenis van die talent groot dinge. Wie nie woeker nie, bring die vernietiging oor sy of haar lewe. Moenie gaan begrawe wat kosbaar is nie – dit is sinloos, destruktief sinloos. Daardie een wat die een goue muntstuk gekry het, was gedurig bang, sê hy self (Mt.25:25). En sy eienaar som hom netjies op as “’n lui slaaf” (Mt.25:26).

In hierdie proses van sin ontdek, loop ‘n mens, soos hierbo gesê is, uiteraard ‘n pad met die wyses van die eeue, die Bybelskrywers, maar ook met ons geloofsgenote in die geloofsgemeenskap. Uiteindelik egter, ontdek ‘n mens die sin van die lewe, word ‘n mens getransformeer, al meer en meer, na God toe. Sin in die lewe kom wanneer ‘n mens so leef, elke dag, in ‘n lang groeiproses, dat ‘n mens steeds inniger met God verbind word.  Dit is dan die lakmoestoets vir die sinvraag: of ‘n mens se lewe staan in die teken van ‘n goddelike verinnigingsproses. Juis daarom praat ons met eerbied oor mense se lewensreis – want wie is ons om te oordeel oor die pad wat God met hulle in hulle lewens loop? En waarom kan ons dan nie ons eie pad met groter vreugde loop nie – selfs al is dit bietjie onkonvensioneel en onortodoks. Wat saak maak, tog, is of dit vir God tel. Vir God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive