Monday, November 08, 2010

Tien dae in beproewing en Die kroon van die lewe. Bybelstudie oor Openbaring (18)


Julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood en ek sal julle die kroon van die lewe gee. Openbaring 2:10.

Die gemeente in Smirna, een van God se twee oogappels onder die sewe gemeentes (sien vorige twee Bybelstudies), gaan deur die duiwel in die tronk gesmyt word. Hulle gaan in beproewing kom. Tien dae lank gaan hulle baie swaar kry.

‘n Mens sou dink dit is om van depressief te word.

Daarom moet ‘n mens Openbaring 2:10 mooi bekyk – veral om die fokus van die opmerking oor die beproewing te peil.

Die “tien dae wat hulle gaan swaar kry,” is een van die moeilike uitdrukkings in Openbaring. Mense het baie daaroor bespiegel.

Sommige dink dit is ‘n relatief kort tydjie – net tien dae. Soms word die tien dae vergelyk met die tien vingers van ‘n mens se hand. Tien word in die Ou Testament vir so ‘n kort tyd gebruik (Gen.24:55; Num.11:19; 14:22). Daarmee sou die skrywer die gelowiges in Smirna troos: hulle swaarkry is net vir ‘n kort tydjie.

Ander dink weer die tien dae kom uit Daniel 1:12-15 waar Daniël en sy vriende vir tien dae getoets word of hulle die koning se kos wat aan die afgode geoffer is, sou eet. Johannes wil dus vir die gemeente in Daniël sê dat hulle tydelik swaar getoets gaan word.   

Nog ander wys daarop dat die getal 10 in Openbaring 12:3; 13:1; 17:3, 7, 12, 16 gebruik word wanneer gepraat word van “tien” horings. Dit is veral die bose karakters in Openbaring wat hierdie getal het en wat hulle mag gebruik om gelowiges aan te val.

Johannes steek nie vir die gemeente weg wat op hulle wag nie. Hulle gaan beproewing ly en baie swaar kry. “Tien” dae lank gaan hul deur die maghebbers van hul tyd aangevat word. Hulle het nie geringe, klein, lastige vyande nie. Dit is fanatieke mense en magte wat hulle kan opsluit in ‘n tronk waar hul geloof tot op die been en tot die dood toe getoets gaan word. Trouens, die beproewing is so erg dat die kanse goed is dat hulle hul geloof sal wil opgee.

Daarom bemoedig Johannes hulle: hulle moet volhard in die tye van swaarkry.

Om die betekenis van die “tien” dae te verstaan, moet ‘n mens ook na die volgende simbool van die “kroon van die lewe” kyk.

Met hierdie simbool bevestig Johannes diepe gevoelens van lig en lewe. Hierdie “armes” wat teen ‘ n magtige vyand ‘n swaar tyd lank gaan stry en die dood in die oë staar, skryf hy, kan met vreugde leef in die wete dat hulle die kroon van die lewe ontvang. In Openbaring is hulle wat getrou bly altyd in pragtige klere, op trone en met krone op hul koppe geteken. Hulle ontvang dus lig, heerlikheid en die lewe. Alles staan in die teken van die absoluut mooie – selfs te midde van die donkerte. Hier is Johannes se eintlike punt: ‘n mens moenie vaskyk teen die tronk van swaarkry nie. In die geloof kyk ‘n mens altyd dieper na wat innerlik bly maak, wat ‘n mens ‘n ervaring van total vervulling gee. Die fokus moet altyd skuif na die Lig, na die Glans, na die Kroon.

Dit is in hierdie konteks dat ‘n mens weer moet dink aan Johannes se beeld vir die sewe gemeentes. Hy simboliseer hulle in Openbaring 1:12 en 20 met lampe. As Johannes aan die kerk dink, dink hy aan suiwerheid, aan lig. Maar hierdie sewe lampe herinner ‘n mens ook aan die lampstaander in die tempel. Die gemeentes straal lig uit, maar hulle doen dit terwyl hulle deel is van ‘n heiligdom. Hulle lig is die lig van goddelike suiwerheid.

‘n Lamp se hele bedoeling is om donker te verdryf. Wanneer ‘n mens gelowig word, tree jy ‘n heilige, vervullende ruimte binne waar jou hart in totale reinheid en suiwerheid tot rus kom. Dit is juis die innerlike vervulling wat ‘n mens teen die donker opstel en wat die mag van die kwaad tot “tien dae” beperk. Dit is soos Paulus se middernagtelike vreugdesliedere in die Filippi-tronk: wat saak maak is nie waar jy is nie. Wat tel is wie jy is en by Wie jy is.

Daarom moet nou verder ook nog die dieper gedagte uitgelig word dat gelowiges se lig nie uit hulself kom nie. In Openbaring 1:12-20 loop die Menseseun in hulle midde rond. Lig deurstraal sy hele wese. Sy oë het soos vuur gevlam, sy voete was soos geelkoper wat in die smeltoond gloei, sewe sterre skyn helder in sy hand en dan die klimaktiese beskrywing aan die einde: “sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.” In die goddelike brand alles wat die donker verslaan en verdryf – so verblindend soos die son wat op sy helderste skyn!

Lig, helder, skitterlig – so dink ‘n mens aan die gemeentes en aan die Een van wie hulle hul lig kry. Hulle deel in die glans, die heerlikheid van die Seun van God. Hulle kroon, die teken van hul koningskap, van hul sit op die troon (Open.20:4), is net ‘n deel van hul groot erfenis: hulle sal, soos Openbaring 20:6 nie aan die mag van die tweede dood uitgelewer word nie.

En dan: die eintlike hoogtepunt – hulle sal ‘n “duisend” jaar met die krone op hul kop saam met Christus regeer. Die ewige tuiste by God in Openbaring 21 word vergesel van die duisendjarige ryk van vrede. Die kroon van hulle wat op die troon regeer saam met Christus, skitter vir ‘n millennium – oorweldigend meer as die tien dae in die tronk in Smirna.

“Tien” dae lank kan die maghebbers van die wêreld hulle aanvat, in die donker gevangenis smyt en hulle lewenslig probeer uitdoof. Maar nou reeds, wanneer hulle Openbaring lees, weet hulle : In die donkerte van die tien dae bly skyn hul lamp helder. Die lig in hulle kan nie geblus word nie.

Sondag na Sondag het die gelowiges in Smirna hierdie brief gelees en geweet – die vrederyk van duisend jaar is ‘n teken van die ryk van vrede wat reeds met die koms van die Menseseun aangebreek het. Wat hulle eendag ten volle sou beleef, wat hulle in Christus, die Lam van Vrede met sy slagting (Open.1:9) ontvang het, het hulle elke keer weer voluit ervaar as hulle in die byeenkoms van heiliges by Christus en God was. Om in die geloof te lewe, is om in die lig te wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive