Daar is in die gelykenis van die verlore seun ‘n opmerking dat hy “tot homself gekom het.” Dit staan in Lukas 15:17 wat vertel van die oomblik toe sy terugkeer na die Vader begin het.
Hierdie opmerking is ‘n sleutel om “verlossing” te verstaan. Iemand wat redding vind, is iemand wat hom- of haarself ontdek.
Nie te gou moet ‘n mens nou dink dat dit ‘n New Age-erige ontdekking is van jou eie innerlike goddelike potensiaal wat tot ontplooing moet kom nie. Baie meer is op die spel as net jou eie lewensbestemming.
In die oomblik van die goddelike aanraking, kry ‘n mens ‘n ontmaskerende insig in wie jy is en wie jy werklik is. Twee dinge gebeur:
Aan die een kant is die insig sekerlik ontnugterend: dit is ‘n raaksien van die varkhok waarin jy beland het, die ontdekking van wat jy geword het. Die skille val van jou oë af. Jy word bevry van die illusies van die lekker lewe in die ver land. Die verlore seun vind uit wat nie regtig saak maak nie. Hy sien wie hy is: 'n eensame verkwister in ver land.
Maar aan die ander kant is die oomblik van herkenning ook ‘n bevryding tot die liefde toe. Dit is die oomblik van heldersiendheid – van besef waar ‘n mens werklik behoort, van watter plek joune is: Nie op jou eie in die ver land nie, maar die Vader se woning.
Die Seun het sy goed gevat en na die ver land gereis. Maar uiteindelik het hy besef dat sy reis nie weg van die Vader moet loop nie, maar juis na die Vader toe. Hy wou dáár wees, by sy familie, die knorrige, voorbeeldige ouboet, maar ook die nederige werksmense van sy Vader. As hy maar tussen hulle kon wees, sou sy lewe sinvol en vervullend wees. ‘n Kneg saam met ander, saam met die geliefdes, is beter as op sy eie in die verte. Hy sien wie hy werklik is: die seun van die Vader.
Dit is ‘n bevrydende ervaring gewees: hy word in een oomblik oorval met ‘n intense gewaarwording van sy werklike tuiste. Hy voel vir die eerste keer die liefde vir die Vader en van die huisgesin van die Vader.
Die sin van die lewe, ontdek ‘n mens, bevrydend, lê juis buite jouself, lê in die verhoudinge met die Liefde – met die bron van die liefde en hulle wat uit die liefdesbron drink en leef. Spiritualiteit wil juis beklemtoon: egte transformasie, egte lewenssin, vind plaas in die verhouding tot die Ander. Spiritualiteit is altyd om die eindelose vreugde van jouself verloor in liefdesrelasies.
Maar wat die seun in daardie bevrydende oomblik ervaar, verdiep in wat hy doen: hy staan op en gaan na sy Vader toe. Dit is die mistieke perspektief – hy is op soek na die vereniging, die intieme eenheid met die Vader van die Liefde.
Twee keer in Lukas 15:18 en 20 word hierdie motief uitgespel. Sy subjektiewe ervaring, sy belewing van ‘n helder oomblik van self-verstaan, word opgevolg deur sy terugkeer na die Vader. Hy knoop homself aan die Ander. Hy gaan “huis” toe, seker, na die “plaas”. Maar die teks vertel duidelik en onmiskenbaar, mistiek, dat hy na die Vader van die huis op pad was. “Ek sal na my Vader gaan...” (nie huis toe nie). En tuis, het hy hom aan die Vader oorgegee, toegelaat dat die Vader se liefde op hom uitgestort word.
Hier vind die ommekeer plaas: het hy aan die begin sy goed opgeëis en afgesit om dit te spandeer (Lk.15:13 – mooi: hy het kwistig, losbandig gelewe, volgens die ou vertaling), is hy nou volledig leeg aan homself: ek is ‘n sondaar teen God, ‘n nikswerd (Lk.15:21), net so goed soos ‘n huurling. Leeg aan homself, besef hy dat hy alleen by die Vader tuis sal wees. Dit is mistiek. Hy sterf aan homself, verlang om in die arms van die Vader te wees, deur hom omhels en gesoen te word. Om deur die Vader tot nuwe lewe opgewek te word.
En die Vader bevestig die transformatiewe potensiaal van sy verlange: hy was dood, maar lewe (2 keer – vers 24 en 30). Wie verlang na die Verborgene, die Ander, die Liefde, sal deur die Liefde ingeneem en omvorm word.
Eintlik het die seun, toe hy tot homself gekom het, nie homself “ontdek” en sy eie innerlike, goddelike potensiaal ontwikkel nie. Hy het juis besef hoe ellendig hy is. Maar tog was dit ‘n bevrydende ontdekking. Hy het daardeur tot verlossing gekom. Hy het ontdek dat hy by die Vader hoort. Hy het die grootste van alle geheime ontdek: die kragtige liefde van die Vader. Hy het gewaag om huis toe te gaan. En die Liefde het hom nie gefaal nie.
Wat is die diepste sin van die lewe? Om te weet: op jou eie is dit alles net varkhok. Om jouself te leer ken as iemand wat nie sonder God en God se mense kan leef nie. Hy homself eers gevind toe hy sy goddelike bestemming bereik het, toe hy in die Liefde gaan woon het. Eers toe het hy die lewe in sy volheid ervaar – nadat hy dit in God verloor het.
Verlossing, dus, is om God te ontdek, na God te haas en by God in Liefde te gaan bly.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.