Van Gogh het in 1890, ‘n paar dae voor hy homself geskiet het, ‘n skildery geteken wat op die oog af verskriklik gewoon is.
Trouens, as 'n mens die skildery sien, stap jy maklik sommer daarby verby omdat dit so gewoon is. Ek weet, ek was in die Kroller-Muller museum (sien blog) en het dit self gedoen.
Van Gogh was, toe hy die skildery geteken het, baie siek en het langdurige behandeling in die hospitaal in St Remy, gekry. Dit is een van sy laaste skilderye. Al klaar 'n rede waarom 'n mens maar moet tyd maak en kyk....
Dit is so gewoon, hierdie skildery: Die voorwerp is eenvoudig net ‘n man op ‘n stoel voor ‘n kaggelvuur. So simpel soos dit.
Dat die skildery tog ongewoon is, lei 'n mens af uit die feit dat hy al voorheen met dieselfde tema gewerk het. Reeds jare tevore het dit in sy gedagtes geluier toe hy in November 1882 ‘n litograaf daaroor gemaak het.
In November 1882 skryf Vincent aan sy broer, waarskynlik oor die skildery:
Heden en gisteren teekende ik twee figuren van een oud man die met de elbogen op de knieen en ’t hoofd in de handen zit. Ik heb het indertijd van Schuitemaker gedaan & bewaarde steeds de teekening omdat ik ’t nog eens beter wilde doen. Misschien zal ik daar ook eene lith. van maken.
Interessant is hoe hy dan self oor die figuur skryf:
Wat is zoo’n ouden werkman in zijn gelapt bombazijnen pak met zijn kalen kop toch mooi.
Dit is besonder: vir hom is die gelapte pak, die bleskop - tekens van verweer en ouderdom - "mooi." En hy teken bewustelik 'n ou werkman, 'n eenvoudig, arm arbeider. Ook: hy is so geboei deur die figuur dat hy beplan om dit eendag weer te doen - maar dan "nog beter."
Maar 'n mens besef eers eintlik hoe spesiaal die werk is as jy die titel onderaan raaksien. Van Gogh skryf dit duidelik in, aan die onderkant van die litograaf - in 1882 (soos duidelik te sien is hierbo): “By die poort tot die ewigheid.” Hy doen dit in Engels: Eternity's gate.
By die poort van die ewigheid!
Hier word 'n arbeider, verweer deur die lewe en deur die ouderdom, vanuit 'n ewigheidsperspektief geteken.
Maar kyk net hoe lyk die arbeider: Die skildery en die litograaf wys albei hierdie afgetakelde ou man wat sy hande in sy gesig verberg.
Sy gesig in sy hande – as ‘n teken dat hy neerslagtig is? Wanhopig? ‘n Siel wat aan die einde van sy lewenspad gekom het? Op die manier word in baie, baie besprekings gepraat van die somberheid in die skildery wat dan die donker gemoedstoestand van Van Gogh sou reflekteer.
Dit lyk op die oog af of die ou man verswelgd is deur sy smart. Byna asof 'n mens wil dink hy kan nie verder nie.
Maar tog – die titel van die werk is: by die poort tot die ewigheid.
Die ou man ervaar iets anders as wanhoop.
Van Gogh wys deur die mansfiguur uit dat hy selfs wanneer die smart hom oorweldig het, bly vasklou aan sy geloof in God en in die ewigheid, soos Erickson dit stel.
In hierdie ellende, gee Van Gogh te kenne, is dit net ‘n treetjie na die ewigheid.
Teen die agtergrond lees ek vanaand Van Gogh se brief oor die litograaf wat hy op 27 November 1882 aan sy broer skryf (http://vangoghletters.org/vg/letters/let288/letter.html). 'n Mens moet die brief eintlik sonder enige kommentaar lees, want dit vertel die hele verhaal van die skildery heel boeiend.
Die brief is om baie redes insiggewend. Ek het die afgelope tyd, terwyl ek sy briewe gelees het, my verwonder aan die belesenheid van Van Gogh, sy liefde vir taal, sy waarnemingsvermoë, maar ook van sy dieper nadenke (sien vorige blog). Dit is onvoorstelbaar dat hierdie man by die skilder van die blou, ewigheidsfiguur toe ‘n wilde lewe agter die blad gehad het, kritiek siek was en eintlik nog net in sy middel dertigs was.
Dit is ‘n brief wat diep in ‘n mens se binneste gaan sit – nie net oor die manier waarop Van Gogh uitreik na die dieper dinge nie, maar veral ook oor die manier waarop hy dit in woorde uitdruk. Ek verstom my steeds weer oor sy intellektuele vaardigheid, maar veral ook oor sy woordvaardigheid.
As ‘n mens die brief lees, huiwer ‘n mens voor sy gedagtes daardie dag toe hy die olie-skildery met die titel by die poort van die ewigheid geskilder het:
Net voor hy in hierdie brief oor sy tekening van die ou man begin skryf, sien ‘n mens heel eerstens sy presiese waarneming wanneer hy sommer terloops vir Theo vertel wat hy alles die oggend gedoen het. Hy het ‘n ongelooflike oggend beleef, skryf hy (ek haal die Van Gogh museum se Engelse vertaling aan en die aksente is myne). Van Gogh se verbintenis aan die natuur staan skerp uit - kyk net na sy entoesiastiese taal:
It was extraordinarily beautiful this morning, and it did me good to go for a long walk, for with all the drawing and the lithographs I’d hardly been out of doors this week.
Dan, in die volgende paragraaf, leer ken ‘n mens hom as die presiese stilis: sy skilderwerk veronderstel goeie instrumente en kennis van die produksie-proses en dan – probeer en probeer. Steeds weer moet die bestaande metodes verder getransformeer word – en moet die ou dinge op nuwe maniere uitgedruk word. Vernuwing soos hierdie kom deur intense oefening (lectio...):
As to the lithography, I hope to get a proof tomorrow of an old man. I hope it turns out well. I did it with a kind of crayon that’s specially intended for this process, but I fear that the ordinary lithographic crayon will turn out to be the best after all, and I’ll be sorry I didn’t use that. Well, we’ll see how it turns out.
Tomorrow I hope to learn various things about printing that the printer’s going to show me. I would love to learn how to print myself. I think it quite possible that this new method will revive lithography. I believe that a way could be found of uniting the advantages of the new with the old method. One can never predict anything for certain, but who knows whether it might not lead to new magazines being founded again.
Monday
That was as far as I got yesterday evening — this morning I had to go to the printer’s with my old man. Now I’ve followed everything: the transfer to the stone, the preparation of the stone, the actual printing. And I have a better understanding of what I can change by retouching. Herewith the first impression, not counting one that went wrong.
Dit is duidelik - vir hom is dit nie net 'n kwessie van teken nie. Meditatio - bedink wat 'n mens doen. Die skeppingsproses is geboorte gee, nuwe dinge tot stand bring deur barensnood.
En dan kom hy uiteindelik by die ou man self uit. Hy teken nie maar net losweg nie. Deur sy tekening kommunikeer hy ‘n “idee” – wil hy iets verborge uitbeeld:
I hope to do it better in time. I myself am very far from satisfied with this but, well, getting better must come through doing it and through trying. It seems to me that a painter has a duty to try to put an idea into his work.
Hier kom die dieper dinge - die "idee" na vore.
Dit is nie maklik om die idee te kommunikeer nie. Hy besef sy eie eindigheid. Wat hy kan doen, is maar ‘n afskynsel van iets groters, van ‘n werklikheid wat ‘n mens net feilbaar kan probeer uitbeeld. Dit is hier waar Van Gogh woorde uit 1 Korintiërs 13:2 gebruik (in ‘n spieël in ‘n raaisel). En dan – die oomblik wat hy oor sy figuur praat. Daar is ‘n onuitspreeklike roerende kwaliteit aan ‘n ou man wat stil in die hoek by sy kaggelvuurtjie sit. Dit is iets kosbaars - dit is goddelik:
I was trying to say this in this print — but I can’t say it as beautifully, as strikingly as reality, of which this is only a dim reflection seen in a dark mirror — that it seems to me that one of the strongest pieces of evidence for the existence of ‘something on high’ in which Millet believed, namely in the existence of a God and an eternity, is the unutterably moving quality that there can be in the expression of an old man like that, without his being aware of it perhaps, as he sits so quietly in the corner of his hearth. At the same time something precious, something noble, that can’t be meant for the worms.
(Hier is die Hollandse oorspronklike: “In dit blad wou ik trachten dit te zeggen, maar ik kan het zoo mooi, zoo treffend niet zeggen als de werkelijkheid, waarvan dit slechts als eene zwakke reflectie in een donkeren spiegel is, dat het mij voorkomt dat een van de sterkste bewijzen voor ’t bestaan van “quelque chose là-haut” waarin Millet geloofde, in ’t bestaan van een God en een eeuwigheid nl., wel is het onuitsprekelijk roerende dat in de expressie van zoo’n oud mannetje zijn kan, zonder dat hij zelf zich zulks bewust is misschien, als hij zoo stillekens in ’t hoekje van zijn haard zit. Tegelijk iets edels, iets nobels dat niet voor de wormen bestemd kan zijn.”)
Maar waar kom die "idee" vandaan? Van Gogh teken nie maar net sommer ‘n ou man uit sy gedagtes nie. ‘n Mens kan sy werk in terme van intertekstualiteit verstaan wanneer hy die volgende gordyn lig waar hy sy idee van die ou man vandaan kry. Van Gogh was betower deur Stowe se Uncle Tom’s cabin. In die brief verwys hy dan spesifiek daarna om sy ou man te verduidelik:
Perhaps the most wonderful passage in Uncle Tom’s cabin is the one where the poor slave, sitting by his fire for the last time and knowing that he must die, remembers the words
Let cares like a wild deluge come,And storms of sorrow fall,May I but safely reach my home,My god, my Heaven, my All.
Watter donker woorde, maar watter woorde van lig en kalmte: die slaaf sit by die vuur vir die laaste keer. Hy weet hy moet sterf. En tog kan hy verlangend uitbid om veilig tuis te kom, by God, by alles.
In hierdie skildery teken Van Gogh seker homself. Hy is by die vuur, vir die laaste keer. Dae later sou hy sterf.
En die intertekstuele oratiwiteit is die gebed van die slaaf: “Mag ek veilig my tuiste bereik, o my God, my hemel, my Alles....”
Wanneer die ou man kop in die hande wegbêre, is sy hart gevul met begeerte en verlange na die ewigheid.Hy het uiteindelik aangekom - by die poort, die deur tot die ewige tuiste.
Van Gogh hou van eenvoud. Hy het ook nie veel aan teologie nie. Daarom skryf hy die volgende paragraaf:
“This is far from all theology — simply the fact that the poorest woodcutter, heath farmer or miner can have moments of emotion and mood that give him a sense of an eternal home that he is close to. “
Die arbeider, die armste van arm werker, dra in hom ervarings om en ‘n geestelike houding wat hom ‘n sin gee van sy ewige huis waar hy spoedig sou aankom.... En wat tel is nie allerhande slimmighede oor God en oor dogmatiek en oor intellektuele dinge nie. Wat tel is die ervaring, die simpel wete, die sin vir 'n ewige tuiste - wat so naby is.
Om by die poort te wees, is om naby God te wees.
Ek kan nie besluit nie: wat roer my die meeste – die skildery of die brief?
En ek bely - ek het hierdie skildery self gesien. En vlakkerig daarby verby gestap. Onbewus van die dieper dinge wat dit uitbeeld. En totaal onbewus van die lydende mens wat in sy desperaatheid, sy alleenheid, sy skynbaar so mislukte lewe waarin niemand sy skilderye wou koop nie en niemand sy skilderye verstaan het nie - nogtans nie ophou skep het nie. Tot die allerlaaste oomblik het hy sy diepe verlange na wat werklik saak maak op sy eie, nuwe manier uitgebeeld.
Mistiek het 'n lang tradisie. Maar elke keer weer kom dit op nuwe manier na vore. Van Gogh het nie verniet skepties gestaan teenoor ou, verslete tradisionalistiese godsdiens nie. Hy het geweet - die mistieke kom steeds weer in nuwe gedaante, gryp die mens elke keer weer anders en nuwer as ooit tevore vas.
Om te dink: In daardie bleskop, in daardie ou gelapte pak, skuil vir Van Gogh die mooie. En hoe radikaal hy hierin was, besef 'n mens eers as jy die teatrale godsdienstige kuns van die tyd voor hom gaan bedink.
Net dan nog hierdie een deurslaggewende punt: In Erickson se werk, wat so insigryk is, hierbo ook genoem, kyk sy iets heel belangriks en fundamenteels in die skildery mis.
Terwyl ek haar en ander menings lees, bly knaag iets aan my. Ek bly kyk die skildery. Van Gogh het dit spesiaal in olieverf geskilder. En as 'n mens dit keer op keer met die litografies druk vergelyk, kom die helder blou al hoe sterker op 'n mens se gemoed af.
Die ou man word geheel en al in blou geskilder, dring dit al hoe skerper tot my deur.
Ek begin weer bietjie lees: Blou is 'n lieflingskleur van Van Gogh wat hy heel idiosinkraties gebruik het.
Dat hy die ou man totaal in blou skilder! En, boeiend, hy gebruik glad nie sy ewe gewilde geel kleure nie.
'n Mens kan die Poort na die Ewigheid nie verstaan as jy nie die simboliek van blou begryp nie, besef ek.
Ek sou dit dan so wou stel: die ou man met die gesig in die hande verborge, is deurtrek met die Oneindige. Met 'n hoofletter O.
In sy lyding, in sy verlange, is God reeds op pad na hom toe. Sy verlange is die teken van God se aanwesigheid.
Die mistieke antifrase.
Die mistieke antifrase.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.