Sunday, November 14, 2010

Om 'n lemoen te bekyk. Oor tafelgebed.



Cezanne het hierdie stillewe - Appels en lemoene - in 1899 geskilder. Dit is sy beroemdste skildery.



‘n Mens kan ‘n lemoen in jou hand neem, dit skil en opeet. Lekker lemoensmaak.

Of jy kan die lemoen vir ‘n oomblik eers in jou hand hou, die sagte tekstuur daarvan bekyk en daaraan raak. Met jou vinger kan jy daaroor streel en die andersheid van ‘n sagryp vrug voel, blink van soetigheid, net reg om te eet. Jy kan die kleur daarvan bedink, die ryk geel van ‘n lemoen wat vol belofte van soet is.   

En jou gedagtes kan jou dan terugneem na die lemoenboord waar die lemoen gehang het.

Stadig het die son dit oor ‘n tyd gevorm totdat dit in sy geel, ryp kleur reg was vir pluk.

Maar eers was dit maar ‘n klein harde groen knop wat groter en groter uitgebot het. Tussen die groen van die boom se blare, sou jy mooi moes kyk om hulle raak te sien – totdat later die geel van die ryper wordende vrug al hoe helderder die aandag getrek het.  

Van tyd tot tyd het die boer deur die boord gestap en noukeurig gekyk hoe dit groei. Sy tyd, sy aandag, sy kundigheid, sy versorging, sy materiële insette het weke lank in die boord en die boerdery ingegaan.

Werkers het geduldig ook hulle deeltjie gedoen om die bome te sproei, kos te gee en te laat gedy.

In hierdie tyd was daar die warmte van die son, die vogtigheid van die reën, die toevoer van lewenssappe uit die boom se wortels, die opneem van die stowwe uit die grond.

En voor dit was daar die tenger lemoenbloeisel – met sy soet geur waarop besige bye op sonskyndae zoemend kom sit het voordat hulle skaars, unieke lemoenheuning in hul korwe loop maak het. Net een keer per jaar kan lemoen-heuning gemaak word. Lig, geel, soos die lemoen self – so lyk die heuning van lemoenbye.

Agter daardie lemoen in ‘n mens se hand is daar ‘n hele lewensloop – verborge vir die oog.

En tog kan dit bedink word deur die een wat die lemoen in die hand hou. En as ‘n mens bedink waar die lemoen vandaan kom, hoe dit oor weke gegroei het, hoe dit getransformeer het, hoe dit uit die fragielste van bloeisels uitgebot het, is dit meer as ‘n vrug wat jy in jou hand hou.

Dit word ‘n wonder.

Dit is dan dat jy die aarde geniet, die skepping waardeer, die Skepper verheerlik.

Elke keer as ‘n mens ‘n lemoen in jou hand neem, kan die ritueel van nadenke, van meditasie, van refleksie ‘n mens in jou verlange en begeerte na die diepere aanspoor. En ontdek jy op ‘n keer, telkens weer, hoe iets heel gewoons, iets so aards, in jou ‘n ruimte skep waarin jy vir God kan ervaar.

Dít dink ek, was waarom daar tafelgebede is. Elke keer weer, wanneer ons bid voor ete, word ons deur die voedsel op ons tafels in God se teenwoordigheid gebring – op ‘n mistieke manier, nugtere mistiek, verwonder ons ons aan al die verborge dinge waarby ons so maklik leef en wat tog vir ons van die Wonder vertel. En hoe ons lewe ryk gemaak word deur die aarde, deur mense, deur diere, deur die natuur - en alles as gawe van die Een wat dit vir ons gee en gee.

‘n Mens kan ‘n lemoen in jou hand neem, vir ‘n oomblik terugstaan en nadink oor wat ‘n mens nou daarmee doen. En as jy die lemoen eet, smaak, lekker lemoensmaak, kan ‘n mens saam met die smaak op jou tong, met blydskap, eenvoudige, dankbare blydskap die Lewe besing.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive