Saturday, November 20, 2010

Die liefde wil begeer word...



In die teenwoordigheid van God word liefde in die mens se hart ontsteek.  

Daar is baie dinge aan hierdie goddelike liefde wat ‘n mens se verstand te bowe gaan. Dit is ‘n liefde wat verborge, onpeilbaar en oorweldigend is.

En tog is daar iets glashelders aan die liefde. As ‘n mens voor God staan, in die godddelike liefde opgeneem word, is die reaksie onvermydelik: Die aangeraakte mens besef helder dat dít, hierdie leef in die liefde, dat dít is wat werklik saak maak. Om in die liefde opgeneem te word, om tot die stille besef en ervaring van die liefde te kom, gee aan ‘n mens iets wat ‘n mens nêrens anders kry nie. Dit bring die mens in ‘n vredesruimte waar totale geborgenheid aan jou geskenk word. Die liefde, ontdek ‘n mens saam met Paulus, is die grootste van alles. Dit is só ‘n helder saak –jy hoef nie ‘n profeet, ‘n talespreker, ‘n genie, ‘n uitblinker  te wees om dit te peil nie. Deur en in die geloof kom ‘n mens tot hierdie glashelder wete.

Maar iets méérs gebeur met iemand wat deur God aangeraak word as net ‘n besef van hoe groot die liefde is. As iemand deur hierdie goddelike liefde aangeraak word, ontstaan daar ‘n begeerte na nog meer daarvan. Die liefde wek die liefde wek die liefde.

Tog is daar hier iets anders om ook te bedink. Dit het te doen met ‘n belangrike eienskap van die liefde. Die liefde verteer ‘n mens al hoe meer deur die immergroeiende verlange wat dit in ‘n mens ontsteek – dit is waar. Maar die liefde is iets wat ‘n mens dring, sonder dat dit aan ‘n mens opgedring word. Die liefde wil begeer word.

En hiermee hang iets anders saam: Hoe meer die verlange na die liefde van God, hoe meer liefde vir God het ‘n mens! En hoe sterker die verlange, hoe meer liefde wag op ‘n mens.

Verlange! Begeerte!

Bedink ‘n mens dit, klink dit eenvoudig. Tog is dit belangrik. Die geheim is om te verlang. Die resep is om te begeer.


Hierdie wete dat die liefde begeer moet word, bring ‘n mens in beweging – om meer daarvan te kry, om dieper daarin opgeneem te word. In die hande van die soeker na die liefde rus nou hierdie taak: om steeds weer te bly verlang na die liefde. Daarom voed ‘n mens hierdie beweging, vertroetel ‘n mens die begeerte na meer. Die geestelike lewe beteken om steeds weer die verlange na God aan die gang te hou, om die vlam van verlange aan te blaas.  

‘n Mens kan dit nog eenvoudiger stel:  die liefde kom tot hulle wat vra en verlang. Bid, en vir julle sal gegee word.... God is so: God wil gevra word. Die liefde wil gesoek en begeer word. ‘n Koue hart is ‘n hart wat nie verlang nie. Die teendeel is: My hart “brand” van verlange – dit is die beeld wat hier ‘n rol speel.  

“Gebed” het so ‘n verslete woord geword. Ons assosieer dit met “vra”, “versoek”, lysies maak. In spiritualiteit, waar oratiwiteit ‘n sleutelwoord is, word gebed dikwels met verlange verbind. Soms word die mistieke ervaring geknoop aan die inisiële soeke by die mens – die biddende verlange na God. Oratiwiteit is die versugting van die mens wat weet van die liefde wat verlange ontsteek na nog meer liefde. Om te bid is die begeerte na méér van God, om nader aan God te kom, om dieper in die Liefde ingetrek te word.

Dit is tog merkwaardig: hoe meer ‘n mens na die liefde verlang, hoe meer lief het ‘n mens en hoe meer liefde sal ‘n mens ontvang. Die liefde kom tot ons in die maat waarin ons dit begeer. Soveel liefde word aan ons gegee as wat die mens wil hê!

Dikwels vra ons gulsig baie dinge wat ons nooit kry nie.

Maar wie die goddelike liefde vra, sal nooit onverhoord bly nie. Die gebed om liefde is die een gebed waarvan verhoring gewaarborg is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive