Thursday, November 18, 2010

Hoe Christus in die mens se bestaan binnekom.



Shirley Kelley se skildery met die tema: Oneindigheid



Simone Weil, oor wie ek die vorige twee dae geblog het en wat vertel het hoe die gedig van Herbert oor die Liefde vir haar geestelik verdiep het, vertel hoedat sy op ‘n keer Grieks begin leer het en toe woord vir woord die Onse Vader in Grieks deurgewerk het. Dit is ‘n boeiende verhaal, gelaai met raad wat vir die geestelike weg van groot waarde kan wees.

Sy en haar Grieks-leermeester het mekaar belowe hulle sou die gebed in Grieks memoriseer. Sy dink nie hy het dit ooit gedoen nie, maar ‘n paar weke nadat hulle die belofte gemaak het, het sy, terwyl sy op ‘n keer deur die Evangelie geblaai het, vir haarself gesê dat sy die voorneme wil nakom – ook omdat dit goed is. Sy het gevoel sy moet dit doen.

 En dan volg die merkwaardige opmerking: Sy, skryf sy, het toe die teks gememoriseer. Maar die “oneindige skoonheid” van die Griekse teks van die Onse Vader het so ‘n houvas op haar gekry dat sy haarself nie kon keer om dit gedurig oor en oor op te sê nie.

‘n Week later het sy begin werk met die insameling van die druiwe-oes. Elke oggend voor werk het sy die Onse Vader opgesê en dit baie dikwels ook gedurende haar werkstye in die wingerd herhaal.

Van toe af het sy aangehou om elke oggend die Onse Vader uit haar geheue op te sê.

Maar, soos sy skryf, dit het sy met “absolute” konsentrasie en aandag gedoen. As haar aandag tydens die opsê enigsins begin dwaal of verdwyn het, selfs in die kleinste detail, begin sy weer totdat sy uiteindelik daarin slaag om dit ten minste een keer met absolute suiwer aandag deur te werk.

Simone Weil is bekend vir haar belangrike gedagtes oor die rol van aandag in ‘n mens se lewe. Dit is ‘n saak wat elders aandag verdien. En, in die lig van ons masjien-agtige bestaan waarin ons alles oppervlakkig doen en beleef, van groot belang.

Maar belangriker vir my hier is wat sy verder oor haar opsê van die Onse Vader skryf. Soms, vertel sy, het sy die Onse Vader net uit blote plesier oor en oor opgesê. Maar sy doen dit net as sy regtig die drang daartoe voel. Die gevolg hiervan was vir haar wonderbaarlik en het haar keer op keer weer verstom. Hoewel sy elke dag die spesiale ervaring het, word sy elke keer weer opnuut bo alle verwagting in daarmee verras.

Boeiend skryf sy: “By tye skeur die eerste woorde van die gebed my gedagtes uit my liggaam en neem dit na ‘n ruimte waar daar nie perspektief of ‘n gesigspunt is nie.” In wat sy dan skryf, merk ‘n mens hoedat sy iets uitsonderliks in woorde probeer vasvang: “Die oneindigheid van die gewone ontwikkeling van waarneming word vervang deur ‘n oneindigheid na die tweede en soms na die derde graad.” Met ander woorde, ‘n mens het ‘n oneindige klomp indrukke en ervaringe wat ‘n mens eindeloos waarneem. Maar deur die Onse Vader op te sê, het sy bo dit alles in ‘n ander soort oneindige ruimte ingetree – ‘n oneindigheid van die oneindigheid.  Dit is ‘n ruimte verby waarneming, hoër en dieper en anders as sintuiglikheid.

Maar dan kom sy by die eintlike punt: Terselfdertyd wanneer sy in hierdie oneindige ruimte opgeneem word, is daar ‘n stilte wat elke deel van hierdie oneindigheid van oneindigheid vul.

Sy is versigtig oor hierdie stilte: Dit is vir haar ‘n stilte wat nie afwesigheid van klank is nie. Dit is nie dat sy niks hoor nie. Dit is ‘n stilte wat die voorwerp is van ‘n positiewe ervaring, meer positief as die ervaring van klank. Geluid, as daar enige geluid is, kom tot haar eers as sy in hierdie stilte inbeweeg. Wanneer ‘n mens dus in hierdie stilte is, oorweldig ‘n mens dit meer as enige klank ooit kan doen.

Maar Simone Weil vul hierdie mistieke ervaring ook heel spesifiek met ‘n Christelike karakter. Vir haar bring die gebed haar voor Christus. Soms ook, skryf sy, gedurende die opsê van die gebed, is Christus persoonlik by haar.

En, nog boeiender is hoe sy die mistieke ervaring as ‘n steeds groeiende proses beskryf. Aan die begin van haar Christelike ervaring, het die oomblik gestaan toe Christus, in haar woorde, van haar besit geneem het. Maar elke keer weer, as sy die Onse Vader bid, word Christus opnuut weer in haar lewe teenwoordig, in ‘n “persoonlike” sin. Dit is nie ‘n blote herhaling van wat die eerste keer met haar gebeur het nie. Hierdie nuwe koms van Christus tot haar, hierdie teenwoordigheid is oneindig meer werklik, meer roerend as wat met haar gebeur het die eerste keer dat Christus van haar besit geneem het.

Hoe baie kan ‘n mens hieroor skryf, tog: so baie is daar van die mistieke weg. Daar is die onverwagte, onverdiende, onvoorsiende koms van God in die lewe van die bidder – die teenwoordigheid van God breek deur. Een oomblik bid sy ‘n mooi Griekse teks, onder die indruk van die skoonheid daarvan. Die volgende oomblik besef sy dat die woorde verdwyn en dat Christus verskyn (die teenwoordigheid van die ervaringskern). Die fokus skuif weg van wat sy doen en bid. Die perspektief skuif: een oomblik praat die mens, die volgende oomblik is God daar. Dit oorweldig die bidder. Die teenwoordigheid van God is veel werkliker as enige iets anders wat die bidder ooit ervaar het. Die mistikus is nie meer in ‘n normale ruimte nie, maar die perspektief daarvan verander in ‘n perspektieflose oneindigheid van oneindigheid. Dit word terselfdertyd die ekstase: die mens is los van alles – ek-stase – die gewone dinge verloor hul houvas. Daar is selfs nie eers meer woorde nie, selfs nie klanke nie. Die mens beweeg in ‘n ander ruimte in. Dit is terselfdertyd ‘n nietiging. Alles van die gewone lewe word nietig. Dit is nie meer die mens se bestaan wat tel nie, maar iets groters en heerlikers. Die goddelike word nou onmiddellik en reël in die mistikus se bestaan. Kyk hoe intens praat Weil oor die teenwoordigheid van Christus: Christus kom na haar, neem haar in besit – of sy word in besit geneem. Passief ervaar sy die direkte ingryping van God in haar lewe. Daar is vereniging, maar ook aanskouing. Hier word nie feite oor God uitgepak nie. Die mistikus weet – dit is Christus wat in haar lewe teenwoordig is.  

Dit is ‘n moderne voorbeeld van hoe iemand met groot intellektuele gawes en insigte uiteindelik te doen gekry het met die diepste sin van ‘n mens se bestaan – met die Verborgene wat by die mistikus wil inwoon in ‘n liefdevolle verhouding van wederkerigheid. Niks spekulatiefs nie, niks intellektualisties nie, niks feiterig en wetenskaplikerig nie. Einlik alleen maar God wat in Christus by die mens kom in ‘n verruklike ontmoeting.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive