waar u troon gesetel is,
is pure glans, helder, suiwer lig, –
‘n lig-teken van U heerlikheid.
Die hemel is nie die spog-plek, die uithang-plek nie.
Dit is nie ‘n glans-paleis,
‘n afwys-plek waar U almal om U
trots bekyk omdat U die middelpunt van alles is nie.
Die hemel waar U uittroon
bo alles wat geskape is,
is U plek waar alles skyn, helder skyn, glansryk is
omrede U liefde.
In U hemelruim, wyd oopgestrek van die ooste tot die weste,
woon U, die Een wat bemin.
En so groot is hierdie liefde soos die uitgespande hemelruim,
oneindig, onmeetlik groot.
Só het die profeet U hemelse liefde in sy gedig bedink:
as U in die hemel troon, is die aarde die rusplek vir U voete.
Hier, tuis by U skepping, vind U ‘n voetbank van vrede.
U eindelose liefde, o Skepper, kom in en op die aarde tot voltooiing.
En tog, Here, is selfs dít nog nie die finale woord nie: U kom tot rus
op U aarde, die plek wat U liefderyk gemaak het, trots na U beeld,
by hulle, U skepsels, die mense wat U nodig het. U liefde word volrond vir hulle
wat in berou treurig weet hoe U liefdesglans in U skepping deur mensewerk uitgedoof is.
Hulle weet: U het geroep, uitgenooi, as ‘n Beminde gewink, maar niemand het geantwoord nie.
U het gepraat, soos ‘n Minnaar gepleit, maar daar was nie ‘n oor om te hoor nie.
U liefde is té verborge, té hemels, te weggesteek. Verleidelik is eerder die mag van die aarde,
die heers oor die ander, die oordeel van mekaar, die self-gelding, die eie voordeel.
Só anders, ontdek ons, is U liefde – Immanuel – dit kom nie tot rus tensy dit onder mense woon nie.
Dit vind voltooiing in U nederig menswording, in U stille koms as Vredevors, as wasser van voete –
U wat U hoë Godgelykheid graag prysgegee het om onder ons te wees,
een van ons, in volledige menslikheid, en magteloos gekruisig in onstuitbare, hemelse liefde.
Hoe dryf U liefde U! U let, hoor ons nou, liefderik, op daardie een wat arm is, verslae van gees,
U begeer, verlangend, om te wees by hulle wat U herken, voor U woord bewe.
Want altyd deur, genadiglik, laat U hemelse Gees ‘n mens dieper dink, dieper voel, nader kom
by die Een wat egte vrede gee, wat die gebrokenes van hart terug in die Paradys, hemel in, neem.
En hierin, in die liefde, is U onmeetlike mag, U onstuitbare krag: uiteindelik oorwin dit alles.
U heerlikheid is nie in Uself te vind nie. U mag is verborge in die Onmagtige Verlange
na hulle wat U aanraking moet voel en sal weet hoe nodig hulle U, die kribkind van die kerse, het.
Liefdevol is U in U heerlike nabyheid by hulle wat onder lyding smag.
U lei die vrede na ons toe soos ‘n rivier
en die rykdom van die nasies soos ‘n oorlopende stroom.
Ons drink uit die helder stroom van U vertroostinge
en verlustig ons in die oorvloed van U heerlikheid.
U is heerlik, Here, Hemelse Vors, want U wou onder mense kom woon,
U wou vrede skenk vir alle mense, vir die nasies,
sodat U, God, en ek, mens, sáám kon kom.
Hemel en aarde het volmaak een geword: U wil het my wil geword.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.