Friday, November 19, 2010

Eerbied vir menswaardigheid as spirituele houding en waarde

 
Die hele week al broei daar ‘n klomp gedagtes in my oor die inherente waardigheid van elke mens. Dit is vir my al hoe meer ‘n belangrike aspek van spiritualiteit. As ‘n mens praat oor die twee pole – die goddelike en menslike pool wat mekaar ontmoet wanneer God die mens aanraak, dan is menswaardigheid ‘n deurslaggewende aspek van die menslike pool.

My gedagtes het begin by ‘n onderhoud op ‘n sender met iemand teen die agtergrond van ‘n vuil, totaal verarmde township. Dit was ‘n uitstekende gesprek, waarvan een opmerking my bygebly het. Kyk, sê die persoon met wie die onderhoud gevoer word, na hierdie armoede – en hy steek sy vinger na die sinkhuisies uit. Dit is dikwels ‘n situasie wat mense totaal onwaardig is. Hulle waardigheid word deur hul konteks aangetas. Dit is moeilik om in sulke volslae ellende en armoede nog jou gevoel vir waardigheid te behou. Dit is dan dat al die vorme van maatskaplike verval voorkom. Diefstal, alkoholisme, prostitusie, middele-afhanklikheid, geweld is dikwels simptome van mense wat hul menslikheid en dus hul waardigheid verloor het.

Terwyl ek daarna luister, flits my gedagtes terug na Moeder Teresa wat iewers geskryf het hoedat sy selfs sterwende mense uit die slote gaan haal het, gebad het en in ‘n skoon bed versorg het totdat hulle gesterf het. Ten minste kon hulle dan met waardigheid sterwe.

In die loop van die week begin ek ander dinge onthou wat my herinner aan mense in my eie lewensloop wat uitgestyg het bo baie omdat hulle ‘n sin gehad het vir die waardigheid van ander. Op ‘n keer, in ‘n uiters moeilike situasie, het ek gesien hoe goeie Christen-mense op ‘n uiters subtiele en berekende manier ‘n kollega geestelik afgetakel het. In ‘n vergadering waar hy, ek en die gemeenskapsleier teenwoordig was, het sy moeilike situasie onder die loep gekom. Hy was ‘n gebroke mens, verniel deur maande se pogings van sy medewerkers om hom te verneder. Ek kon op ‘n stadium sien dat hy byna geen gevoel van eie-waarde oor het nie.

Ons het die dag dus almal saam in die kantoor gesit – bekommerd oor hierdie moeilike situasie . Die persoon wat die situasie toe moes oorneem en hanteer het, het rustig, met begrip, sonder enige haas geluister, vriendelik gereageer wanneer nodig en uiteindelik vir ons gevra om alles in sy hande te laat.

Daar was iets mistieks in daardie ervaring. Bloot al in ons gesprek het ‘n stuk genesing gekom, het daar al by my kollega ‘n stukke waardigheid teruggegekeer, was daar al ‘n stukkie heling te sien.

Ek het dikwels gewonder waarom sy gesprek met ons nou nog dikwels by my opkom, waarom ek steeds met soveel bewondering na hom opkyk as ‘n egte, beskeie, maar indrukwekkende leier. En hierdie week, het, behalwe vir ander redes, dit by my opgekom dat dit ook so spesiaal was omdat hy daardie oggend my kollega doodgewoon menslik behandel het. Dit was soos ‘n herder wat sy skaap uit die kake van ‘n klomp wolwe geruk het en vir hom ‘n veilige hawe gebied het waar hy tuis en geborge kon voel. Die manier waarop hy na hom geluister het, sonder enige vooroordele, toegelaat het dat hy praat, dat hy ook sy hart kon ontbloot, die wyse waarop hy hom ernstig opgeneem het, het my laat besef dat hy na hom kyk as ‘n mens. Hy het nie daardie dag gewerk met sy “kollega”, sy ondergeskikte, ‘n “voorval”, ‘n “insident wat gehanteer moes word nie.” Hy het ook nie toegelaat dat die groepswrok teen my kollega hom bevooroordeel nie.  Trouens, ek het die gevoel gehad dat hy hom in sy menswaardigheid wou bevestig.

Dit is nie altyd maklik om in woorde te beskryf presies wanneer iemand ‘n ander persoon se waardigheid eerbiedig en bevestig nie. Ek het die week dikwels aan maniere gedink waarop ‘n mens dit sou kon uitspel: dit het te doen met vriendelikheid, met geduld, met ‘n goeie glimlag, met ‘n warm handdruk, met ‘n sagtheid van taal en groet, met ‘n eerbied in houding, soms met min praat, met baie luister, met erkenning. Dit het soms met heel eenvoudige dinge te doen, soos om iemand toe te laat om voor jou by ‘n deur in te stap, soos om nie onwettig op die parkeerplek van ‘n gestremde te gaan stilhou nie. Eerbied vir ander en hul waardigheid behels om jou woorde te tel, om sensitief te wees vir die een wat agterbly, wat arm is, wat gestremd is, wat oud is. Dit is om oop te wees vir die ander een in sy menslikheid, vir die ander as jou ewebeeld wat geregtig is op jou respek en erkenning.

Hierdie spirituele houding van eerbied vir ander se waardigheid val nie sommer uit die lug nie. Dit het diep Bybelse wortels. Vandag kom dit alles sterker as tevore by my terug toe ek weer oor die Bergrede sit en dink. Hoe merkwaardig is dit tog nie: Hierdie kosbare “program” van Jesus se bediening begin met ‘n saligspreking, ‘n makarisme.  God gee vrede en vreugde weg, deel dit met mense. God neem mense op in sy “koninkryk”. Mense mag deel in die goddelike ryk. Dit ken reeds klaar aan die mens waardigheid toe.

Onvoorstelbaar. – hierdie goddelike erkenning  wat aan mense geskenk word - die waardigheid wat mense toegereken word deur God.

Maar nog meer ondenkbaar is wie hierdie mense is wat deur God erken en bevestig word. Sommer die heel eerste saligspreking wys hoe radikaal is die evangelie. God gee die ryke vreugde en vrede aan die armes. Hulle wie se waardigheid fundamenteel deur die samelewing verloën word, word die mense aan wie God die blydskap-boodskap uitdra.

Hieroor kan ‘n mens eindeloos nadink: God reken alle mense, ook hulle wat ongereken is, as waardig vir die Koninkryk, vir die Ryk van die hemele. Die mens se waardigheid is dus nie in sy omstandighede of in uiterlikhede te vind nie. Die mense in die saligsprekinge is arm aan aardse dinge waarop soveel hul status bou. Hulle is arm aan eiewaan, aan roem, aan prestasies, aan invloed, aan erkenning, medaljes. Hulle is egter ryk in hul openheid vir God.

Die enigste kwalifikasie is dus dat mense hul afhanklikheid van God moet besef – en dit, vertel die Evangelie – is ‘n besondere karaktertrek van mense wat arm is.

Die mens se waardigheid is geleë in sy of haar openheid vir die Verborge, vir die Ander.

In die week kyk ek ‘n program oor ‘n Katolieke tehuis vir Vigs-pasiënte. Dit tonele is skrikwekkend. Dit is ‘n uitsending oor vroue wat hulself in prostitusie moet verkoop om onder andere hul kinders aan die lewe te hou. Daar is tonele van uitgeteerde, sterwende vroue wat hul kinders vashou en voed terwyl hulle op die grond, doodsiek, op komberse lê.

In die kerk waaroor die program gaan, het daar ‘n beweging ontstaan om hierdie siek prostitute deur vroue wat voorheen prostitute was, te versorg. ‘n Paar sekswerkers is daarvoor deur die kerk aangestel: hulle gaan soek die uitgeteerde, sterwende  vroue by hul huise op wanneer hulle van hul hoor.  Hulle ken die omstandighede en die siek vroue luister na hulle omdat hulle besef hullle deel hul eie ervaring. Gewoonlik wil niemand na die siek vroue kyk nie, want die siekte is ‘n vloek wat almal om hulle op vlug laat slaan.  Alleen lê hulle in die allerellendigste vuil pandokkies.

En dan kom die versorgers in: heel eerste was hulle, byna sakramenteel, hope vuil skottelgoed, vee die huise uit, was op hul knieë die vloere, was wasgoed, bring iets om te eet en reël dan dat die vroue antiretrovale medisyne by die kliniek gaan kry of in die kliniek opgeneem word. Ek staan verbyster voor die tonele van medemenslikheid: terwyl familie en vriende die loop geneem het, gaan hierdie oud-prostitute in pandokkies in en was vloere. Onwillekeurig flits Matteus 25 keer op keer in my gedagtes op. Teer, liefdevol versorg hulle die siekstes, die onaantasbares, die “melaatses” in hul gemeenskap, hulle wat harteloos en meedoënloos tot die duisternis verban is.

Ek besef, toe ek daarna kyk, dat hierdie eerste skoonmaak, versorging, bemoediging fundamenteel die waardigheid van daardie mense herstel.

Een van die vroue, so lig dat ‘n ander vrou haar in haar arms kan optel, word na die kliniek geneem waar sy gehospitaliseer word. “Ek gaan jou nou was”, sê die verpleegster. Sag tel sy haar arms op, stadig, pynlik stadig en versigtig draai sy haar op haar rug. Sy werk met haar of sy ‘n pasgebore baba is. Dan was sy haar, daar in die skoon bed met sy spierwit lakens in die skoon hospitaalkamer. Die kamera flits na die dokter. Hy is Afrikaans. Hy ondersoek die pasiënt wat vol sere uitgeslaan is. “O, ek is bly dit gaan darem al beter met jou” sê hy in Afrikaans. “Ek kan sien die sere is al gesonder” praat hy haar moed in. Maar dit is sy vaderlike stem, vol respek vir die doodsiek-vrou voor hom, wat ek nou nog hoor.

Waar is al die mense wat altyd so op die kerk trap en die kerk bykom, dog ek. En, dink ek, só lyk die evangelie: hierdie intieme, naby oomblikke van mense bymekaar. Niks, nie armoede nie, selfs nie eers die gevreesde Vigs met sy etterende lyfswere kan grense oprig nie. Dit, besef ek, is hoe Jesus gewerk het toe hy sy hande op die melaatses gelê het en hulle genees het. Inherente eerbied vir die ander, vir die menslikheid, vir die waardigheid van die ander is hier aan die werk.

Hoe mooi maak dit mense. Wat is roerender as om na mense te kyk wat vir ander se waardigheid omgee? En hoe mooi is dit om te sien met watter waardigheid hulle self gevul is terwyl hulle ander in hul menslikheid bevestig.

Dit is so mooi, want, besef ek, in hulle herken ‘n mens die Beeld van God.

Die leier wat soveel omgegee het vir die moeilike situasie waarin ons was en wat die menslike waardigheid van my kollega so eenvoudig, maar sterk bevestig het, was ‘n diep gelowige man. Dit het ek later uitgevind toe ek sy predikant ontmoet het en hy vir my vertel het watter rol hy in die gemeente speel. Soms, as ek ‘n gesig aan die spirituele begrip van konformasie aan Christus wil gee, kom hy in my gedagtes op. Sonder veel afwys, het hy die Beeld van God uitgedra.

Die inrigting vir prostitute met Vigs is die resultaat van die werk van ‘n bekende, dapper, maar onkonvensionele biskop. Tydens die uitsending het hulle ook ‘n onderhoud of twee met hom. Hoe kan jy, vra hy verontwaardig en beslis, vir ‘n vrou wat aan Vigs sterwe, hovaardig en op jou morele kruisvaart vertel sy is skuldig aan immorele gedrag en sy moet haar bekeer?  Dit is hovaardig, want dit hou nie rekening met die ellendige feit dat sulke vroue dikwels tot prostitusie gedryf word bloot net om vir kinders kos op die tafel te kry. Maar dit gaan vir hom om iets baie diepers. As jy sonder om op jou morele perdjie te sit en te veroordeel, eerder omgee, versorg, nuwe hoop bring, moet jy nie verbaas wees as daar tog ‘n geestelike omkering en transformasie plaasvind nie.

Terwyl hy praat, dink ek aan hoe die kerkleiers Jesus wou stenig oor sy omgee vir die verstotenes.

‘n Rukkie later verskyn ‘n blakend gesonde vrou op die skerm: sy is juis die een wat geduldig die vuil vloer van die gehuggie skoon geskrop het terwyl die siek en sterwende vrou buite hulpeloos op ‘n kombers lê. Kyk, vertel die vrou: ek was ‘n prostituut.  Ek was wild. Ek het kroeë besoek, mans aangeval as ek dronk was, wild rondgeslaap. En vertel sy, nadat sy siek geword het en ook verstoot is, het sy uiteindelik antiretrovale middels deur die kliniek begin gebruik. Daar het die transformasie begin. Sy het betrokke geraak by die kerk en toe aktief ‘n versorger van ander prostitute geword.

Ek het verander, sê sy met ‘n groot glimlag – die tande blink wit as die glimlag op haar gesonde, vol gesig deurbreek.  Ek kan my nie meer met daardie dinge besig hou nie.

Ek sien die waardigheid in haar – sy is nie meer die sterwende Vigs-lyer nie. Ek sien met watter spontane ywer sy die vuil vloer van die pandokkie oor en oor skrop. Daar is iets waardigs aan elke beweging, iets edels wat ‘n mens sonder woorde wil laat. En as sy, na al die harde, fisieke werk, by die sterwende vrou buite op die kombers gaan kniel, sê sy vir haar: Ek kom jou Dinsdag haal. Dan gaan jy die medisyne kry. Gou sal jy soos ek lyk. Dan sal jy weer goed na jou kinders kan kyk.

Vir ‘n oomblik breek daar ‘n gelukkige glimlag deur op die sterwende vrou se gesig. Sy is amper te siek, byna te moeg om nog te kan glimlag – dit is ‘n trae oomblik van vreugde. Hoop is, nietemin, deur die ontfermende woorde van haar redder,  herstel. Sy is moed ingepraat. Sy is in haar menswaardigheid bevestig.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive