Die bekende Franse skryfster, Simone Weil, het verskeie mistieke ervarings gehad.
Sy vertel hoe sy in 1938 gereeld kerkdienste bygewoon het. In hierdie tyd het sy aan intense hoofpyn gely. Elke klank wat sy gehoor het, het vir haar soos ‘n hou teen haar kop gevoel.
En tog, skryf sy, tydens die dienste kon sy haar liggaamlike pyn totaal agterlaat – byna asof sy haar liggaam in ‘n hoek van die kamer kon gaan los het.
Dit is dan dat sy ‘n suiwer en volmaakte vreugde ervaar het in die onvoorstelbare skoonheid van die liturgie waaraan sy deelgehad het.
Deur hierdie ervaring het sy ‘n beter insig gekry van liefde wat by ‘n mens is en bly selfs te midde van swaarkry en lyding. Dit het ‘n besondere intieme eenheid met Christus meegebring. Sy skryf: “Woorde is nie nodig om te sê dat in hierdie dienste die gedagtes aan die lyding van Christus vir eens en vir altyd deel geword het van my wese.
Dan vertel sy hoe sy deur iemand bekendgestel is met sewentiende eeuse liefdesgedigte. Sy het een van hierdie pragtige gedigte uit haar kop geleer en dit oor en oor opgesê, veral as sy sulke intense hoofpyn gehad het.
Sy het gedink dat sy dit as ‘n pragtige gedig opgesê het, maar sonder dat sy dit besef het, het die gedig ‘n gebed geword.
Sy vertel hoe op ‘n stadium, gedurende een van hierdie sessies sy bewus geword het dat Christus self tot haar gekom het en haar lewe oorgeneem het. Christus se besitname van haar het gebeur sonder enige deelname van haar sintuie of haar verbeelding.
In heel karige bewoording skryf sy hieroor: “Ek het in die midde van my lyding die teenwoordigheid gevoel van ‘n liefde, soos dit wat ‘n mens kan lees in die glimlag op ‘n geliefde gesig.”
Wie die lewensloop van Simone Weil ken, sal begryp hoe merkwaardig hierdie vertelling is. Maar daar is meer, wat die moeite werd is om vertel te word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.