Kerstyd is by
uitstek vredestyd.
En tog beklemtoon
die Christendom telkens weer dat 'n mens kerstyd steeds weer met die kruis moet
verbind. Adventstyd en die paastyd hoort saam. Dit klink na 'n teenstrydigheid:
vrede en geweld, rus en onrus, saam, hand in hand - asof hulle onvermydelik
bymekaar hoort.
Dit is altyd die
uitdaging: hoe 'n mens moet dink oor die geweld wat soos 'n goue draad deur die
bybel en die geskiedenis van Jesus loop.
Die moord op die
kindertjies tydens die geboorte van Jesus. Die verset teen Jesus. Die kruis.
Die vervolging van die vroeë Christene.
Afgesien, dan nog,
van die oorloë, stryd, bitterheid, verdeling en haat wat oral en altyd 'n mense
lewens kenmerk.
En, uiteraard, dan
nog ook die geweld wat Christene aan mekaar gedoen het. Dink maar net aan hoe
die Boek Openbaring deurspek is van onderlinge verdeeldheid. In die boek noem
die skrywer sy teenstander 'n "Jezebel." Dit is die slegste moontlike
taal wat 'n Bybelskrywer kan gebruik om 'n mede-Christen te noem. Jezebel was
immers die ultieme voorbeeld van 'n aartsvyand van die volk van God. 'n
Mede-Christen as 'n Jezebel sien?
Hoe dink 'n mens nou
oor hierdie geweldstaal in die Bybelse diskoers?
'n Mens dink daaroor
in die lig van die opstanding in die tuin op 'n Sondagoggend as die aanbreek
van die vredestyd. Op die manier is die paas-tyd die afronding van die
geboorte-verhaal met sy stilte, rus, kalmte en sy jubelsange oor vrede op
aarde.
Later sou die
Christene die gedagte nog sterker beklemtoon. Daarom het hulle die
paradys-verhaal in Genesis gekontrasteer met die boek Openbaring wat eindig met
die nuwe hemel en aarde - met die terugkeer van die paradys. Op die manier is
Bybelse tekste omring met die vredesmotief.
Nie net kerstyd nie,
maar, in die sig van die Bybel, die tyd en ewigheid is nou 'n tyd van vrede.