Kerstyd herinner aan die
"koms" van Christus na die wêreld.
Van "elders" is daardie koms. Daarom is dit 'n koms wat die waarnemers verwonderd laat: hulle staan voor die ongewone, die anderse.
Die koms van Christus van
"bo," van die "hemel," is in latere kerklike taal ook
uitgedruk in die twee nature - leer. Christus is God én mens. As mens is hy
deel van die skepping. Immanuel.
Maar kerstyd vertel ook van meer as net
'n mensgeworde Christus. Hy is God, die een wat méér is as die skepping. Groter
en anders as alle kreature. Die een wat die engelskaar, en die goddelike vrede met hom saambring.
Maar as 'n mens só oor Christus dink,
beteken dit dat 'n mens Christus nooit kan peil nie. As Menseseun word hy in mensetaal benoem, maar as Seun van God transendeer Christus menslike taal, denke ervaring, beelde, insigte.
'n Mens vind die onpeilbare aspek sterk uitgebeeld
in die evangelie van Markus. Die evangelie eindig in 16:8 met die vertelling
dat die vroue wat by die leë graf aangekom het, met bewing en ontsetting aangegryp
was. Dieselfde reaksie van vrees, onsetting en onbegrip vorm 'n goue draad in
die evangelie - wanneer hy storms stilmaak, duiwels uitdryf, verheerlik word. Elke keer roep dit ontsetting op.
Christus se lewe en optrede is vir
mense deursigtig in soverre as wat dit hulle aanspoor om 'n nuwe lewe te begeer
en te soek. Hulle herken in hom ontferming, liefde, aanvaarding.
Dan, tog, is daar sy ondeursigtelike en
verborge kant. Mense sien in hom ook 'n uitsonderlik uniekheid en krag. Niemand
is soos hy nie. Hoe kom dit dat hy selfs die stormwinde tot stilstand bring?
Wat sê die leë graf oor hom?
Die kant van Jesus kan 'n mens nie peil
nie. 'n Mens kan dit nie deurgrond, verduidelik, bevestig of ontken nie.
Dit is hier waar woorde faal. Oor daardie
verborge kant.
'n Mens, op 'n mistieke manier, weet
dit is daar. Dit is te merke, rakelings, by tye. Mense weet dan dat hulle verby
al hulle idee's, voorstellinge, opvattinge en taal oor Jesus moet beweeg:
Christus is nie die Woord nie, die Brood van die Lewe nie, die Goeie Herder
nie, die Lig nie.
Hy is veel meer, en anders. Hy is die
onpeilbare vir wie woorde nie gevind kan word nie. Hy is verby en anderkant ons
taal. Hy is nie onder ons en in ons te vinde nie. Hy is heeltemal weg van wie
ons is en praat. Hy is God.
Dan word hy die afwesige - die een wat 'n mens nie kan sien nie. Die Gees.
Daarom staan mense in verwondering en
geboeid voor hom. Dit is ook waarom 'n mens besef met 'n intense belewing dat
Hy nie die gevangene van ons wêreld is nie, nie net een van ons is nie. In ons
taal, denke, simbole en menslike voorstellings is daar niks wat Jesus kan
vasvang nie.
Hy is Immanuel. Maar hy is ook Seun van
God.
Hy is die Afwesige, die een wat weggegaan het. Hy is by God. Die een wat opgevaar het. Die een wat uit sig verdwyn het. Die Heilige Gees.