Tuesday, December 31, 2013

Gebed vir die Nuwe Jaar


N.a.v. Ps.37:5

Lig van ons lewe, Here van die tyd, die toekoms lê as die Onbekende voor ons.

Weggesteek, is dit vir ons verborge.

Verborge, bring dit vir ons twyfel.

Ons leef elke dag onseker oor die volgende oomblik, wat die dag gaan bring, oor die onvoorstelbaarheid soos die tyd aanstap.

Die einde kan met die volgende oomblik aanbreek, dalk eers oor jare. Niks staan vas nie. Van niks kan ons seker wees.

Net so min as wat ons die nuwe jaar kan voorspel, net so min het ons 'n insig in wie ons werklik is. Ons is onbekendes aan onsself. Ons maak groot aansprake, dink aan onsself as u getroue volgelinge, en tog, tas ons in die donker en wanhoop ons aan ons geloof. Ons weet nie wie U is nie en waar om U te vind nie. U is groter en anders as wat ons ons ooit sou kon indink.

Nietemin, selfs in hierdie skemer-wêreld van onsekerheid oor U, van ons gebrek aan insig in wie U is en in wat U vir ons gaan bring, kan ons nie anders as om U te vertrou nie. Aan U laat ons ons lewe oor.

Dit is 'n blinde vertroue - 'n gelowige afhanklikheid van U, o Here van die tyd en Beskikker van ons lot.

Daarom gaan ons die Nuwe Jaar binne met 'n verlange dat U ons vertroue sal raaksien, dat U sal sorg en dat U ons lewe sal vorm en stuur.

Selfs al weet ons nie waarheen dit lei nie, is ons lewe U s'n.

Sien hierdie afhanklikheid aan. En gee dat niks anders ooit sterker as hierdie afhanklikheid sal word nie. Laat hierdie afhanklikheid in al ons doen en late deursuur, sodat ons lewe aan u verknoop sal bly en in u wil bevind sal word.

Want in alles wat onvoorspelbaar is, is ons sekere wete dat ons afhanklik is van U - U wat Uself aan ons gee in volledige oorgawe. U, U wat daarmee wys hoe afhanklik U van ons is.

Blog Archive