Thursday, December 26, 2013

Die vader van Jesus en meditasie


Josef, die vroom vader van Jesus, se lewe is heeltemal ingestel om volgens die wet te leef. Dit weet 'n mens wanneer hy uit gehoorsaamheid daaraan, van Maria wil skei. Sy verlange om vir God te leef, sou ook later blyk wanneer hy Jesus op die agste dag laat besny en ook al die reinheidsvoorskrifte van die wet nakom (Lk.2:21-24). Hy is 'n geestelike mens, wat God se wil in sy gesinslewe konsekwent soek.

Dit was meer as net meganiese gehoorsaamheid. Vir Josef was die geestelike weg 'n saak van toewyding. Hy wou God dien en het verlang om te doen wat God van hom sou vra.

Maar dit was nie altyd maklik nie. Hy moes daaroor tob. Josef was dus iemand wat, toe Maria swanger geraak het, diep daaroor nagedink het in terme van sy geloofservaring. 

Hoe, dan, sou hy bly wonder, moet hy hierdie moeilike kwessie wat tussen hom en Maria opgeduik het, hanteer?

Josef se innerlike ervaring van die krisis ontdek 'n mens deur die verhaal in Matteus 1. Een van die mees onopgemerkte frases in die geboorteverhaal van Jesus vind 'n mens in Matteus 1:20 pas nadat vertel is dat Josef van Maria in die geheim wou skei.

"Terwyl hy dit in gedagte gehad het" (enthumethentos), staan daar. Dit is een van daardie frase's waaroor 'n mens te maklik lees.  

Om iets in gedagte te hê beteken hier om intens daaroor na te dink. Dit is 'n unieke en spesiale woord in Matteus. Hierdie woord verskyn nog net een keer in Matteus 9:4 waar Jesus agterkom watter godlasterlike dinge sy opponente "in hul harte"oor hom bedink.

Josef was dus aan die worstel in diepe nadenke oor die krisis waarin hy hom bevind het. 'n Mens merk in die woord sterk emosies, betrokkenheid, inspanning en worsteling. Die vorm van die partisipium wys dat sy meditasie 'n durende, aanhoudende situasie was.

Dit sou 'n mens ook "meditasie" kon noem. In 'n sekere sin is dit naby aan die ander groot woord in Christelike spiritualiteit, of te wel "onderskeiding": die groot, lewensbelangrike vraag hoe 'n mens in 'n tyd van krisis God se wil vind. Hoe onderskei 'n mens op 'n belangrike oomblik in jou lewe wat God van 'n mens vra?

Dit doen 'n mens onder andere deur biddend, verlangend en afhanklik te soek, en ook te wag op God se leiding.

Josef het geweet wat die wet vra. Maar hy was tog ook nog soekend na die regte ding om te doen. Sy verlange na God was meer as net 'n blote gevoel. Dit was nadink oor sy besondere situasie in die lig van alles wat hy in die wet omtrent God gelees het.




Blog Archive