Vanaand
het die BBC 'n onderhoud met Francois Pienaar, die Springbok-kaptein van die
span wat die wêreldbeker in 1995 gewen het.
Ses-en-'n-half
jaar se verblyf in Engeland het hom duidelik alle moontlike, denkbare
vaardighede in die Engelse taal gegee. Dit is lekker om na hom te luister
terwyl hy vlot en vinnig deur sy antwoorde in die Britse tong vleg.
Die
onderhoud gaan oor sy herinneringe aan Nelson Mandela.
Daar
is nie eintlik nuwe dinge wat hy oor Mandela vertel nie. Die warmte,
toegeneentheid en ekstroverte karakter van Mandela kom weer sterk na vore.
Nuut
is hoe Pienaar self in die onderhoud na vore kom.
Op
'n stadium begin hy vertel hoe hulle vir die eindstryd voorberei het en met
watter absolute konsentrasie die span hulle voorberei het.
Hy
vertel hoe iemand op die deur geklop het net voor die wedstryd toe die span nog
in die kleedkamer was.
Toe
is dit Mandela. Met sy rugbytrui aan. Hy, die staatsman, oor die wêreld bekend,
kom loer in om gou die senuwee-agtige bokspan te ondersteun.
Hoeveel
beter kan dit ooit word?
Op
die punt kan Pienaaar nie sy emosies bedwing nie. Hy sukkel om te praat, want
sy gevoelens wil-wil hom oorweldig.
Die
onderhoudvoerder besef gou en dadelik hoe intens die oomblik is. Hy kom hom
tegemoet in sy verleentheid met sy eie gevoelens. Hy sê Francois moet geduldig
wees en tyd neem.
Saggies,
en al slukkende aan die knop in die keel, beaam Pienaar: ja, hy het tyd nodig.
En
hy haal 'n glas onder sy stoel uit om 'n slukkie water te neem.
Hy
hervat na 'n rukkie moedig en bietjie meer bedaard sy storie.
Maar
dit is nog te intens. Na die eerste paar woorde, is dit weer dieselfde storie.
Hy kan nie verder praat nie. Sy gevoelens raak te veel.
Dit
is by sulke oomblikke dat 'n mens die verhaal agter die verhaal raaksien.
By
al die bewondering vir die grootsheid van Mandela wat in die viering van
Mandela se lewe na vore kom, is mense ook regtig hartseer. Hulle is hart-seer.
Francois
se emosies vertel van pyn wat mense het omdat hulle 'n man van statuur verloor
het, maar meer nog, omdat hulle erge verlies ervaar. Ek dink dit is ook wat
mense op straat ervaar - ook die mense wat Mandela nie persoonlik
geken het nie.
In
die dae dink ek dikwels na oor 'n beskrywing van liefde. Hieroor dink ek weer
omdat ek die onderhoud met Pienaar bekyk het.
Die
liefde herken 'n mens uit sy deurwerking: dit is daar te vind waar mense hart-seer
gelaat is.