Mistici uit die verlede het te goed
besef dat die Bybel se sleutelrol in 'n mens se geestelike ervaring iewers
ophou.
Wanneer 'n mens in God se
teenwoordigheid is, gebeur meer as net besig-wees met of nadenke oor die skrif.
'n Mens kan en moet steeds weer
meditatief, biddend en nadenkend die Skrifwoord kou, herkou en herverteer.
Daaroor is geen twyfel nie.
Die omgang met die Skrif is egter
steeds weer 'n ek-dit ervaring. Jy, die leser, sit by 'n geopende boek, gefokus
op 'n teks. En, as alles mooi loop, bly 'n mens besig ook ook met die skrywer,
die konteks en die mooiheid van uitsprake in die teks wat alles help om meer te
"verstaan."
Die geloofslewe gaan om veel meer.
Daarom sal 'n getoë skrywer soos Thomas
vraend en selfs smekend bid: "Laat Moses of enige van die profete nie met
my praat nie."
En onmiddellik voeg hy by: "Praat
U met my, stil en sag."
Dan word dit 'n U-ek verhouding. En ontstaan
'n intieme omgang met God.
Want, skryf Thomas, uiteindelik het
Moses en die profete net kon praat omdat God hulle geïnspireer en verlig het.
God kan 'n mens sonder enige teks
aanraak. Sonder God kan Moses en die profete nie veel uitrig nie. Hulle bied
uiteindelik slegs woorde, maar God skenk die Gees. Hulle kan baie mooi praat en
pragtige dinge kwytraak. Maar as God swyg, raak hulle nie 'n mens se hart aan
nie. Hulle gee woorde, boeke, maar God onthul die betekenis. Hulle vertel van
die verborge dinge, maar God lê die simbole uit. Hulle hou die wet voor en
vertel van al die wonderlike dinge wat 'n mens moet nastreef. Maar God bekragtig
'n mens daartoe. Hulle wys die weg aan, maar God begelei en stuur 'n mens op
die weg. Hulle werk van buite, maar God van binne deur die hart aan te raak.
Hulle besproei die grond, maar God laat vrug dra.
So praat Thomas. Die mistikus.