Thursday, December 12, 2013

Geloof word kragtig beleef. Oor emosies


Na buitengewone groot natuurrampe, sien 'n mens dikwels die allermooiste reaksie van mense. Hulle skenk dan maklik geld en hulp om mense in rampgebiede te ondersteun.

Een van die goeie voorbeelde is insamelings oor die televisie en die radio.

Ure lank word gebeeldsend hoe mense inbel na 'n sentrum om geld te skenk. Die vordering word met groot opwinding bekend gemaak.

Miljoene rande kan so ingesamel word.

Mense gee so maklik en so veel omdat die ellende van slagoffers hulle aan hulle harte raak.

Waar mense emosioneel aangespreek voel, is hulle veel meer betrokke, vrygewing en simpatiek. Hulle kom makliker tot dade.

Dit werk eintlik op vele terreine so: met die kerstyd is 'n mens geraak deur die verhaal van vrede. Die kultuur van familie-fees, geskenke gee en saam-kuier maak mense rustig, vriendeliker en spoor hulle aan om te wys hoeveel hulle vir mekaar omgee.

'n Mens kom makliker tot aksie wanneer 'n mens emosioneel geraak word.

Daarom speel emosies 'n groot rol in godsdiens. Mense kom tot 'n dieper ervaring van godsdiens wanneer hulle in 'n serene kerkgebou is, of mooi musiek hoor of luister na 'n prediker wat treffend kan praat. Dit raak 'n mens, roep gevoelens van rustigheid op of laat 'n hart warm klop. Meer nog, dit kan motiveer en tot aksie lei.

Emosies speel dus 'n groot rol in godsdiens. Dit is 'n belangrike deel van 'n mens se ervaring, maar ook van die geestelike reis.

Ook Bybelse tekste vertel hoe belangrik emosies is. Een voorbeeld wys hoe 'n groot rol speel dit in die evangelies: "En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie"  (Matthew 9.36).

Die negatiewe emosies van die skare karakteriseer hulle geestelike toestand. Hulle kry swaar.

Daarteenoor staan Jesus se ontferming: hy is innig jammer vir hulle. Hy sien hulle as 'n oes wat ryp is op die lande, reg om die nuus van die evangelie te hoor.

Maar, besef 'n mens terdee, emosies hou nie lank nie. Hulle is emosies juis omdat hulle wisselvallig is. Wat vandag warmte is, is môre koue. Gevoelens van liefde kan gou verdwyn.

Wat dan?

In Spiritualiteit word juis daarop gewys dat in kritieke fase's van die geestelike reis, wanneer emosies 'n mens in die steek laat, dit juis gebeur omdat God 'n mens nie valse hoop en vertroue wil gee nie. 'n Mens kan teer op jou emosies.

Daarom gebeur dit dat die moeilike, vaal tye van koudheid in 'n mens se lewe kom:  juis daardie tye laat 'n mens besef dat 'n mens op God kan vertrou - selfs al voel 'n mens niks nie.

Emosies is belangrik. Dit speel 'n opheffende rol in 'n mens se belewing van God.

Maar lank nie gaan die geestelike reis om emosies nie.

Soms kan 'n mens in tye dat 'n mens van binne dood voel, juis deur die belangrikste fase van die geestelike lewe reis. 

Sonder emosies, kan 'n mens juis intens geloofsgroei ervaar. 




Blog Archive