Friday, December 13, 2013

Is godsdiens op sy sterfbed?


Al vir vele jare is daar 'n groot gesprek aan die gang oor die ontkerkliking van Europa. Alle syfers wys uit dat mense al hoe minder kerk toe gaan. Dit is vandag makliker om jou bande met die kerk te breek of om te leef naas of los van die kerk. Die dae dat die kerk 'n inkwisisie kan instel om afgedwaaldes uit te snuffel en te straf, is lankal verby.

Nou verbind hiermee is die bekende woord "sekularisering." Hierdie woord verwys na die band van mense met godsdiens wat verbreek is. Samelewings kom al hoe makliker sonder enige godsdiens oor die weg. Dit lyk asof al hoe meer mense goed sonder godsdienstig klaar kom.

Sommige mense beweer ook daarom dat die dae van die Christendom en godsdiens getel is.

In onlangse tye is daar hieroor heel nuwe gedagtes ontwikkel. Mense aanvaar wel sekularisering as 'n gegewe feit. Dit is nie meer weg te dink nie. Maar hulle beklemtoon dat dit nie die enigste proses wat aan die gang is nie.

Naas die sekularisering is daar nog steeds 'n groot stuk godsdienstigheid aanwesig in gesekulariseerde samelewings. Die band met godsdiens is toe nie so afgebreek soos wat vele mense dink nie.

Trouens, word nou geskryf, godsdiens speel nog steeds 'n groot rol in die lewens van mense.

In die opsig is daar nie verskil tussen die huidige samelewings met wat vroeër gebeur het toe dit ondenkbaar was dat 'n mens sonder godsdiens kan wees. Dit was buite die kwessie dat mense ooit sou waag om openlik te sê dat hulle nie glo nie. Godsdiens is nie aan die verdwyn nie.

Tog is die situasie wel heel verskillend: godsdiens in ons huidige tyd het veral twee eienskappe. Eerstens kry 'n mens ontelbare weergawes en beskrywings van wat godsdiens is. Godsdiens is lank nie meer presies en netjies te formuleer nie. Mense gee hoogs uiteenlopende en verskillende weergawes van wat hulle glo. Godsdiens het vele, vele gesigte.

Selfs in 'n bepaalde godsdienstige groep sal 'n mens baie verskillende godsdienstige opvattings kry. Mense glo nie meer maklik dat God se wil duidelik bekend gemaak word vir hulle om te gehoorsaam nie. Daar is nie maar net 'n kerklike dogma wat almal onderskryf nie. Mense ontdek nie 'n betekenis van hulle lewe wat van God af kom nie. Hulle wil veeleer betekenis self ontdek en uitwerk.

Hieroor wil ek meer nadink.






Blog Archive