Wednesday, December 25, 2013

Wanneer die oortreding van die wet tot saligmaking omgebuig word.


Josef, die pa van Jesus, was 'n "regverdige" man. Só staan dit in Matteus 1:19 opgeskryf.

Hy was wetsgehoorsaam.

Daarom was sy ontdekking van Maria se swangerskap vir hom 'n skok. Soveel so dat hy sy verhouding met haar wou beëindig deur van haar te skei. In die oë van die wet was sy skuldig oor 'n swangerskap buite die huwelik.

So belangrik was die wet vir hom dat hy bereid was om haar en die kind weg te stuur.  

In die vers, waaroor 'n mens nie veel preke hoor nie, kry 'n mens 'n beeld van Josef: 'n man wat vroom en toegewyd lewe.

En tog sien 'n mens ook die ander kant van Josef as net die strenge wetsgehoorsame mens.

Hy weet wat dit beteken as 'n vrou se buite-huwelikse swangerskap openbaar gemaak word. Dit sou sekerlik tot haar dood deur steniging gely het.

Daarom besluit hy om haar nie in die openbaar te ontmasker nie, maar om in die geheim van haar weg te gaan. 

Josef is dus ook 'n man van ontferming. Hy maak haar nie openlik tot skande nie. Hy spaar haar 'n verskriklike dood.

Sy wetsgehooraamheid word deur sy ontferming getemper.

Hy gaan van haar skei - wetsgehoorsaam. Maar hy doen dit stilletjies - ontfermend.

Die mens is groter as die wet, lees 'n mens in hierdie optrede van Josef raak.

Later jare sou sy seun in die sinagoge soortgelyks doen: hy genees die man op die sabbatdag ondanks die teenkanting van die godsdienstige leiers en ondanks die streng wetsvoorskrifte daaroor.

Miskien, wie weet, het pa en seun dikwels oor sulke sake gesels: oor hoe 'n mens die wet moet respekteer en heilig, maar nooit moet gebruik om te vernietig nie. Maar op een of ander manier het Jesus grootgeword in hierdie ontfermende instelling.

Godsdiens kan 'n mens se lewe verryk. Die wil van God is dat mense nuut gemaak word en anders sal wees as die harde en barre omstandighede waarin hullle was.

Godsdiens wil egter nie vernietig nie. Veral nie vir hulle wat sagte teikens is nie - die weerloses en die magteloses.

Die mistieke is egter dat God veel verder gaan as Josef: terwyl Josef van Maria wil skei, bind God hulle in 'n hegte eenheid saam. Daar is geen huiwering nie: wat in die oë van mense 'n wetsoortreding is, is vir God 'n geleentheid tot saligmaking. Terwyl die gehoorsaamheid aan die wet die weg tot verlossing aandui, word die Seun, die illegetieme een, in die nuwe bedeling die weg tot vrywording.  

Die oortreding van die wet bied 'n weg tot saligmaking... 

Dit is immers die hart van die kersboodskap: ondanks die groot geskiedenis van menslike feile en feilbaarheid, bly God, genadiglik, aan die werk. 

Blog Archive