Die lees van die Bybel is die begin van
die pelgrim se geestelike reis in God se teenwoordigheid.
Wanneer 'n mens bewus daarvan word dat
die Woord meer as net woorde is, gebeur iets besonders:
Die Woord word God se
self-bekendstelling aan mense. God self is aan die praat en God onthul aan
mense wie God is.
Dan beleef die gelowige die stem van
God en hoor God as die Beminde wat tot die mens spreek. Dan ervaar mense vir God as die Een wat in
die spreke die mens aanraak en omvorm.
Mensewoorde word God se liefdeswoorde
wat in 'n mens se innerlike beleef word. 'n Boek word Lewend en word as lewe-gewend ervaar. Die
boek word 'n liefdesgebaar, 'n liefdesverklaring wat tot in die hart en
binnekant van die mens deurdring.
Die aanraking beteken dat die mens nie
maar net nog 'n keer onder die indruk luister na wat "geskryf" is nie. Eerder bring die omgang met
die bybel 'n mens in 'n ruimte in waarin God 'n mens aanraak en die mens, in
reaksie, deur daardie aanraking geroer en omvorm word. God spreek as Beminde en
die mens antwoord met liefdeswoorde.
Op die manier ontstaan 'n
liefdesverhouding: God spreek en die mens antwoord in liefde. Dan lees 'n mens
nie net 'n teks nie, of 'n mens luister nie net na 'n stem nie, maar dan hoor
'n mens woorde wat aanspreek en voel 'n mens innnerlik, in die hart, die
waarheid van die teks. Dit roer 'n mens tot 'n reaksie. God spreek en die mens is haastig om te antwoord. Dit word 'n twee-gesprek, 'n
dialoog. U/my, ek/U.
In adventstyd vind hierdie dinamiese gebeure by uitstek plaas. Dit is inderdaad "advents"tyd: die koms van God in die lewe van 'n mens. Maria wat al die dinge in haar hart bewaar en bedink. Die lofliedere en bewondering van engele, skaapwagters en ander persone as liefdesreaksie op God se nabyheid.
Hulle het almal in die gewone dinge soos die swangerskap en die geboorte, die verborge werking van God ervaar. En vir hulle was die gebeure en verhale tekens van die koms van God se vredestyd wat aangebreek het. Só het hulle dit beleef: te midde van al die geraas, die gepraat, die groot teologieë, die getroue wetsgehoorsaamheid, was daar iets groters en diepers te vind. Dit was die wete dat God in die stilte van die kerstyd nader aan die mensdom kom as ooit te vore. Al die kersverhale wou vertel dat God innerlike vrede bring wat mense se lippe in beroering bring - ywerig om van vrede te sing. Die paradys wat terugkeer. Die getroue God wat opnuut weer uitreik.
En die adventstyd word meer as net God se koms. Dit word ook die mens se koms tot God. Daarom die ver reis uit verre lande na die Wysheid, die nagtelike tog uit die vlaktes na die krip in Bethelehem. As God kom, wil mense by God wees.
Die aangeraakte, geroerde hart smag na die God was so liefdevol uitreik.