Sunday, December 15, 2013

Uiteindelik: 'n gepaste woord

Uiteindelik, 'n gepaste woord, in vanoggend se Trouw (van alle plekke), van Etienne van Heerden:


Gaan rus jy nou in Qunu

Etienne van Heerden − 15/12/13, 09:59

Nou sterwe jy met die wierook en mirre
van eNews Africa en CNN, van Al Jazeera en Sky News.
Jy word die lugruim van ons drome.
Sosiale netwerke drup trane
en huigel met jou heugenis.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Hulle mor: Jou sterfte klee geen plakker,
nuwe leiers vreet by jou trog,
die armes bly arm en dis walglik
hoe die wit liberales oor jou ween.
Oor plaasgrond heers - steeds - die wit stewel.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
In die plek van die klapklank.

Jou idees is koerante, jou handgebare vlae.
Elke oogknip is op Twitter, jou lewe geskiedenis.
Jou beleefdheid is legendaries
en jou humeur is afstandelik, ver weg
soos donderweer agter die horison.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.
Jy moes op die eiland van die robbe,
die eiland van diegene wie se vingers afgedrup het
en wie se oë uitgeval het, die eiland van die melaatses,
op hul eiland, hulle met die uniforms van uitskot
en Apartheid, op hulle eiland, dáár moes jy gaan klippe kap.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.


Jou kwaad dra jy self, privaat, dis joune.
Jy besoek die bewaarders
wat die sleutels na jou lewe gehou het
en jy lawe hul gewetens.
Jy salf hul skuld.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Sonder blaam besoek jy die weduwees
van onderdrukkers, jy vertroos hulle.
Vir hulle wat jou mishandel het,
het jy gerusstelling.
Jou versoening is die mond van nuwe moontlikhede.
Maar gaan rus jy nou in Qunu
In die plek van die klapklank.

Jou skuifeldansie, styf-elmboog gejig
het stadions met vreugde gevul
en jou hemde was sjarmant en gekies.
Die graf is vir jou skouers te klein,
jy kom uit die heuwels.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Staatsmanne het hulle langs jou
kom verdwerg en oor jou drumpel
struikel presidente.
Popsterre word mens en stil
in die sfeer van jou gewete.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Jy't die geveinsdheid, die mes in die rug en die dolk
van die vyandelike vriend vermy, jy't die politiek
verhef tot idee, tot boodskap en heil.
Uitgeklim bo kleinlikheid, jou oog daar ver.
Ente verby. Doer. Jy was leier.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Vir min is dit beskore om so diep
in gemoedere te leef, so openbaar te sterf,
op baie voorblaaie uitgelê.
Om so gedáán te wees en poegaai
voor miljoene.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Maar die dood is te klein vir jou woorde
en jou groet galm uit,
dis iets vir die landskap, vir die oraloor
en die oralhoor: Jy't die nuwe republiek gebeitel
en die oue met minagting weggestoot.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank.

Jou gestalte leef al meer boeiend. Die wêreld
is jou bed, jou lang skaduwee kom langsaam tot ruste.
Jy sterf sonderling, en snak
na vrede en vergesigte.
Want: Jy't jou vyande by jou vuur laat sit.
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank

Jy praat oor die generasies, jy galm
oor die eeue heen. Hoe kan
ons ons beste wees, ons republiek red,
hoe kan ons die voorvaders oortuig tot vrede,
en die gulsiges tot versadiging?
Maar gaan rus jy nou in Qunu,
in die plek van die klapklank

Mandela, Madiba: Jy't ons met die voorbeeld gelaat;
Mandela, Madiba, jou naam groei soos 'n boom.
Jou naam is 'n gestalte en dis 'n geskiedenis.
Mandela, Madiba: Ons sal in die skaduwee van jou naam sit en luister.
Maar gaan rus jy nou in Qunu
In die plek van ons stemme, ons stemme is die wind in jou boom.

Blog Archive