Sunday, December 29, 2013

Om baie te weet en min te verander


'n Mens kan handevol informasie oor die engel-verskyning aan Josef in Matteus 1:18:25 versamel, maar dan steeds weer net as 'n nuuskierige waarnemer daaroor praat.

Die verhaal maak dan vir 'n mens "sin." 'n Mens verstaan iets meer van Jesus se geskiedenis.

Maar wat beteken die "geskiedenis" of Jesus? Hoe word die teks deel van 'n moderne konteks? Om sin in iets te vind hou nie noodwendig in dat dit vir 'n mens "betekenis" het nie.

Matteus het reeds in ey eie tyd met dieselfde uitdaging te doen gehad. Hy het van sy voorgangers gehoor hoe Josef die geboorte van Jesus beleef het en, veral, hoe Josef besluit het wat die naam van die kindjie moes wees.

Toe hy veel later die oorspronklike gebeure in sy evangelie oor Jesus beskryf het, het hy gewonder watter betekenis daardie verhaal vir sy eie tyd gehad het. Hy skryf sy evangelie 70 jaar nadat Josef sy spesiale ervaring gehad het. Dit was dus 'n geskiedenis wat mense in sy oupa se tyd sou beleef het. Intussen het die jare aangestap en in 'n nuwe tyd moes die nuwe geslag wonder hoe die Josef-verhaal vir hulle op hul geestelike reis lig gee.

Hoe beantwoord Matteus die vraag van die betekenis van Jesus se verhaal en lewe?

Hy lê dit vir sy lesers die verborgenheid in die verhaal uit. Die lewe van Jesus is nie 'n lewe vir homself of 'n lewe om bewonder te word nie. Vir Matteus is Jesus se verlossende, bevrydende werk belangrik. Hy verbind dit reeds met die kindheidsverhaal van Jesus.  Daarom het Jesus sy naam "Jesus" gekry en word dit in Matteus 1:21 met sondevergifnis verbind. Hy is die een deur wie die volk van hul sondes gered word. Dit is 'n lewe wat mense transformeer.

Maar Matteus het hierdie verlossingsmotief verbind met 'n diepergaande motief. In die res van die gedeelte gaan hy nog verder op die saak in. Hy sluit die Josef-verhaal af met die opmerking in Matteus 1:23 en die aanhaling uit Jesaja 7:14 dat Jesus die naam "Immanuel" kry. Matteus vertaal dan heel pertinent die letterlike betekenis van die naam Immanuel. Hy maak seker dat sy lesers weet dit is "God met ons".

Die verhaal van Jesus is vanaf die eerste hoofstuk 'n Immanuel-verhaal. Die res van die evangelie staan in die teken van hierdie naam. Van die begin van Jesus se lewe herken 'n mens die teenwoordigheid van God.

Aan die einde van sy evangelie, in Matteus 28:10, sal hy dieselfde Immanuel-motief herhaal. Jesus vertrek met die woorde aan sy disspels dat hulle al sy gebooie moet onderhou en eindig dan met die opmerking dat hy met hulle sal wees tot aan die einde van die tyd.

Vir Matteus staan die hele lewe van Jesus, van begin tot einde, in die teken van God se teenwoordigheid. Dit is verder ook 'n voortdurende, volhoudende aanwesigheid.

Matteus skryf dus 'n evangelie wat kontemplatief oor Jesus dink - mediterend oor God wat in die midde van gelowiges bly woon.

Matteus maak duidelik dat Jesus nie maar net 'n interessante figuur uit die verre verlede is waaroor 'n mens allerhande nuuskierige vrae vra nie. Van die begin tot die einde beleef gelowiges in Jesus die teenwoordigheid van God, wat nuut en vry maak.

Jesus is Immanuel:  hy is die een wat die gemeente op hul geestelike weg vergesel. Hulle is nie alleen nie. Hy bly by hulle.

Maar terselfdertyd is Jesus méér as net 'n reisgenoot. Wanneer die reis veel vra, is hy die een wat alles gee om sy reisgenote te ondersteun en deur die driwwe te dra.

Matteus maak die rede hiervoor duidelik: die kindjie is Immanuel. In hom merk 'n mens die verborge teenwoordigheid van God. Die Immanuel is egter ook die opgestane, verhoogde Here wat Matteus in sy tyd op so baie maniere ervaar het en wat in die lewe van sy volgelinge radikale hernuwing begin het. Reeds in die mees geringe herken 'n mens goddelike krag aan die werk. Wie die opgestane Here wil volg, aldus Matteus, kyk na die nederige, aardse Jesus. Wie die Here se wil volg, luister na die woorde van Jesus wat hy tydens sy lewe gespreek het.

Matteus onderskei nie tussen Jesus en sy aardse lewe en Jesus as die verhoogde Here nie. Hy vertel nie die geskiedenis van Jesus apart van die betekenis van Jesus as Here nie. Hy teken Jesus as die een deur wie God vanaf die allereerste oomblik mense se lewens omgekeer en getransformeer het.

Blog Archive