Thursday, December 19, 2013

Nederigheid bring vryheid.

Nederigheid is 'n eienskap waarvoor mense dikwels bewondering kry.

Maar in die praktyk is dit iets wat 'n mens meer in ander se lewens waardeer as wat 'n mens dit in jou eie lewe najaag.

Dit is omdat nederigheid gemoraliseer word. Dan kry die woord 'n swaar klank: mense voel hulle moet hulself afsweer en buitengewone opoffering van eie belange maak. En dit is, dink 'n mens, 'n harde stryd.

Daar is sekerlik iets waar aan so 'n opvatting. Dit is immers nie in die menslike natuur om sommer die minste te wees nie.

Daarom maak mense soms graag asof hulle besonder nederig is. Ons het dikwels gepraat van "hoogmoedige" nederigheid: daardie geveinsde projeksie van mense waarin hulle hulself byna trots voorhou as nietige, ongerekende mense.

Egte nederigheid vra sekerlik toewyding en selfs inspanning. Maar, vanuit 'n sekere hoek gesien, kan 'n mens nederigheid as iets spesiaals ervaar. Thomas Merton wat 'n hele lange bespreking van nederigheid aangebied het, maak juis 'n boeiende opmerkings dat nederigheid die grootste moontlike vryheid bring.

Om nederig te wees, kan 'n mens innerlik vry maak.

Want die teendeel kan eerder spanningsvol en swaar word. Want gedurig moet 'n mens die beeld wat jy van jouself as 'n belangrike mense voorhou, verdedig. En dan verloor 'n mens jou innerlike vrede. Boonop moet jy nog jou eie vername beeld vergelyk met die vername beeld van ander mense.

Dit is veral dan dat jy jou vreugde heeltemal kwyt raak.

Want dan word jou lewe in beslag geneem deur 'n gedurige vergelyking van een onwerklikheid met die onwerklikhede van ander.

Niemand put vreugde uit dinge wat nie werklik is nie, is Merton se punt dan.

Volkome vryheid vind 'n mens deur jouself nie te ernstig op te neem nie. Trouens, egte vreugde vind 'n mens deur jouself te vergeet. Deur te vergeet van 'n mens se dade, jou uitmuntende lewe en deur min ag te slaan op jou eie reputasie word 'n mens werklik vry.

Nederigheid is vir my dus minder van 'n deug as 'n lewensinstelling: hoe minder geheg 'n mens aan jouself is, hoe nader kom 'n mens aan ander mense.

Nederigheid is dus daardie vreugdevolle wete dat die lewe veel groter as jouself is, dat jou band met ander stewig geanker is in julle medemenslikheid en nie in jou of ander mense se prestasies nie.

Dit is uiteraard 'n fundamentele bybelse motief:  niemand hoef voor God met aansprake te staan nie. Juis omdat 'n mens kreatuurlik is, deur God geskep en herskep, ontvang 'n mens daardie innerlike waardigheid van buite: God se liefde en agting hoef nie verdien te word nie. 

En wat waar is van God, is algemeen waar.  

Blog Archive