Vanoggend
berig die media oor drie merkwaardige persone se toewyding aan opheffingswerk
in hulle gemeenskappe.
Die
drie mense doen hulle opheffingswerk onselfsugtig, ten koste van hulleself en
dikwels terwyl hulle groot ongerief ly.
Hulle
beïndruk ander mense met hul onselfsugtige liefdesdiens.
Een
van die drie vertel spesifiek hoe sy ervaar dat die werk haar lewe sinvol maak
en aan haar bestaan betekenis gee.
Die
sin wat haar werk vir ander aan haar eie lewe gee, is uiteindelik die rede
waarom sy die werk wil en bly doen.
Die
berig staan in die teken van die kersgety. Dit raak 'n mens diep om te sien
hoeveel goed mense vir ander in moeilike omstandighede wil doen. Dit laat 'n
mens dink aan die goed wat Christus vir ander gedoen het.
En
tog, bly die vraag by my spook: is dit regtig 'n goeie rede tot opheffingswerk
- omdat dit jou lewe "sinvol" maak?
'n
Mens doen goed vir ander nie omdat dit
jou lewe sinvol maak nie. Dit is nie jou goeie dade wat 'n mens laat
goed voel oor jou lewe nie.
'n
Mens doen ook nie noodwendig goed vir ander mense omdat jy opmerk hoe swaar dit
met hulle gaan nie.
In
'n Christelike konteks sal 'n mens dink dat 'n mens se omgee vir ander gebore
word uit jou verhouding met Christus. 'n Mens se omgee vir ander word gedryf
deur die kruisverhaal. Die kruisdood van Christus roep by mens 'n passie vir
ander op. Dit is die teken van God se helingswerk: in die kruis herken 'n mens
die heerlikheid van God, soos De Bruijne dit stel. En dit bring 'n mens tot 'n
lewe van toewyding.
Onselfsugtige
naastediens is nie noodwendig 'n teken van 'n geestelike lewe nie.
Die
mens se verhouding met Christus dryf 'n mens tot diens aan ander, aan die
honger, die opgesluite, die nakende medemens. Want, wie goed is teenoor die
ander, die arme, die gevangene, die nakende, doen dit om Christus ontwil.
Soms
is 'n mens so deurdrenk van 'n verhouding met God, dat die liefde tot ander
spontaan, vanself kom. Meestal gebeur dit feitlik onberekend, onbedinkt, asof
dit die mees spontane ding is om te doen. Dan skrik mense selfs om te hoor hoe
hulle daaroor aangeprys word (Matteus 25).
Dit word 'n lewenswyse, 'n lewe na die Gees.
Dit
maak naastediens soveel dringender, veeleisend en selfs gevaarlik. Maar ook
soveel ryker. Want in hierdie diens is 'n mens elke sekonde naby aan die Here.