Wednesday, December 04, 2013

Verandering moet verwag word... Oor die lewe se hoë doel

Een van die belangrikste instellings vir kinders met Down-sindroom in Kaapstad bied vandag uitkoms vir vele gesinne met sulke kinders.

Veertig jaar gelede was daar in Kaapstad nie so 'n instelling nie. Gesinne met sulke kinders moes sien en kom klaar.

Toe is die jongste kind van 'n predikant met die sindroom gebore. Die predikant het toe agtergekom dat daar geen fasilitieit vir sulke kinders is nie. 

Op die webblad www.altadutoit.com word die verhaal as volg vertel:

Op 4 September 1954 is ds Daan en mev Alta du Toit se tweede kind gebore: 'n dogtertjie Alta, met Downsindroom. Haar lewe het 'n hoë doel gehad: ds Daan het die stryd begin om 'n skool te vestig vir kinders met erg verstandelike gestremdheid. Op 14 Julie 1964 open Alta du Toitskool die eerste keer met 20 leerders in 'n houtgebou in Bellville. Deur die jare het die skool gegroei en op 4 Nov 1981 kon die pragtige geboue-kompleks aan die bopunt van Piet Fransmanstraat in Kuilsrivier in gebruik geneem word.

Vandag is daar ongeveer 361 leerders tussen 6 en 18 jaar. Daar is koshuisinwoning vir 140 leerders en 14 busse wat die dagskoliere vervoer.

Ds. du Toit was 'n klasmaat en buurpredikant van my pa. Ek onthou goed hoe die geskiedenis van Alta du Toit 'n indruk op ons gesin gemaak het. 

Dikwels praat mense daaroor: hoe uit die moeilike omstandighede van so 'n situasie, die goeie gebore word.  Wie sou nou ooit in daardie jare kon voorsien hoe 'n groot en indrukwekkende instelling die skool sou word? Inderdaad: "'n hoë doel".

Die geskiedenis help om  'n belangrike aspek van hermeneutiek te verstaan: wanneer 'n mens met 'n situasie empatie het, kan dit jou radikaal transformeer. Die Du Toit's se ervaring van 'n eie dogtertjie met die sindroom, het gelei tot hul betrokkenheid by die oprigting van 'n skool vir sulke kinders. Hul eie, intieme nabyheid aan die probleem het vir hulle ingetrek om oplossings te soek. Daarsonder sou die skool nooit ontstaan het nie.

Dit geld van so baie ander dinge: wie 'n kind aan die dood verloor, het empatie met ander wat dieselfde ervaring moet deurgaan.

Wie 'n alkoholis was, verstaan die stryd van ander alkoholiste beter as alle mense.

Dieselfde dinamiek geld ook vir eksegese: wie met 'n teks meeleef en daarmee kan identifiseer, sal ook deur die teks verander word.

Soms kom die ervaring onverwags. Maar 'n mens kan jou ook oopstel vir sulke ervarings. Juis daarom is dit so belangrik dat 'n mens ingestel is vir die inwerking van 'n teks. Dit is waarom die Benediktynse tradisie soveel klem daarop lê dat 'n mens die regte omstandighede vir die lees van die Bybel moet opsoek. In stilte, afsondering, met gebed, met die regte ingesteldheid berei 'n mens jou voor voordat jy die teks opneem. 

Deur die instelling en oopstelling skep 'n mens die ruimte vir die transformatiewe werking van die teks.

Blog Archive