1 Samuel 3 handel oor die beroemde
verhaal van Samuel se ervaring toe hy gehoor het Iemand roep na hom.
Hy is verward. Hy verstaan nie. En gaan soek na leiding.
Eli gee aan Samuel die raad dat hy,
wanneer hy weer die stem hoor, moet antwoord: Spreek, Here, want u kneg
luister."
In vele tradisies sal die geestelike
leiers graag die woord van God aan mense wil "uitlê" en "verduidelik."
Hulle is immers daarvoor opgelei. Baie
jare het hulle die hermeneutiek, eksegese, bybeltale, teologie en wysheid
aangeleer om hulle hiervoor vlytig te maak.
Eli, die profeet, kon maklik homself as
bemiddelaar aanbied. Soos vele leiers vandag die posisie tussen gelowiges en God wil opeis.
In die mistieke tradisie word hierdie
woorde uitgelig om daarop te wys dat 'n mens in die omgang met die Woord,
ingestel moet wees daarop om God se stem te hoor. Direk, kontemplatief, onbemiddeld. Daarin, alleenlik, is egte transformasie te ervaar.
Natuurlik hoef die luister nie in stryd te
staan met die prediking nie.
Op 'n oomblik in die erediens kan 'n
luisteraar voel God spreek 'n gepreekte woord ook tot hom of haar.
Maar uiteindelik is die hoogste
verlange wat in elke mens gedurigdeur aangewakker moet word, die verlange om
God self te hoor praat. Altyd en orals.
Eli het dit besef, teruggetree en vir
Samuel aangepor om self die ruimte in te gaan waar hy self God se stem beluister.
Dit is, immers, wat kontemplasie is. Om
God se sprekende, lewende teenwoordigheid in 'n mens se lewe te beleef.
Eli het geweet van heilige grond wat elke mens op sy/haar eie betree.
Die geestelike rypheid van 'n
geestelike leier blyk uit sy of haar intense meelewing met gelowiges in hul
verlange om God te hoor spreek - maar veral in sy of haar aanmoediging van
gelowiges om self, onbemiddeld, direk, en naby, God te hoor praat. Die rypheid is te vind in die leier se terugstaan en sy of haar toelaat van 'n gesprek wat nie beheer moet word nie.