Hoe
herken 'n mens die egtheid van 'n mistieke ervaring?
Die
verhaal van die visioen van Josef in Matteus 1 is, soos in die vorige dele van
die blog geblyk het, besonder mistiek. Josef worstel, diep nadenkend, oor die
moeilike situasie waarin Maria swanger geraak het. Hy wil in die geheim van
haar skei.
In
die droom ervaar hy heel intiem hoe God in sy lewe ingryp en dit totaal omkeer.
In
plaas van om Maria met haar seuntjie te verwerp, bly hy by hulle. Hy gee ook,
soos die engel beveel het, aan die seuntjie die naam van Jesus. Aan albei
versoeke van die engel gee hy gehoor.
Dit
wys die impak van die kontemplatiewe oomblik. Die goddelike ingrype
transformeer sy lewe. In plaas van skaamte, skuld, verwerping en veroordeling,
kom daar op 'n verborge manier aanvaarding, eerbied, vereniging en
gehoorsaamheid.
Sy
verhouding met Maria verander letterlik oornag. Hy aanvaar die
verantwoordelikheid om vader vir Jesus te wees.
'n
Mens se lewe lyk nooit weer dieselfde as God 'n mens aangeraak het nie. Die
mistieke ervaring laat sy spore in die konkrete lewe van die mens agter. Wil 'n
mens sien of iemand werklik God se nabyheid beleef het, kan 'n mens maar na sy
lewe kyk. Die mistiek is nie wêreldvreemd nie en dit gebeur ook nie los van die
werklikheid nie. Trouens, die mistiek toon hom juis in die wêreld. Daar is
steeds weer 'n deurwerking van die mistiek in die harde werklikheid.
Egte
mistiek keer die mens om in al sy of haar verhoudinge - met God, met ander
mense en met die skepping. Mistiek wat op hierdie manier 'n verskil maak, is egte mistiek. Om God in die verborgene te ontmoet, laat 'n mens op 'n nuwe manier in die wêreld leef.