Lenny Henry het vir Nelson Mandela persoonlik ontmoet en die volgende daaroor te vertel gehad:
"Ek onthou dat ek sy hand geskud het en na sy gesig gekyk het. En sy gesig was pragtig… Maar dan, as 'n mens versigtig kyk, sien 'n mens die duisend fyn plooitjies op sy gesig raak. Toe het ek gedink: 'hulle het soveel kosbare tyd van jou gesteel.'"
Dit is die goue draad wat 'n mens deur die meeste van die kommentaar op Mandela se dood lees. Mandela is beroof van die beste tye van sy lewe. Die donker, lewensvernietigende boosheid van 'n geskiedenis kan maar nie vergeet word nie.
'n Mens besef opnuut: Mandela is die toonbeeld van vergifnis omdat hy kon uitstyg bo die kwaad wat hom aangedoen is. In sy denke was daar nie 'n "hulle" nie.
Al daardie plooitjies ten spyt...
Dikwels het ons, in die hoogty van die apartheidsjare, geweet dat die verwyte sou kom. Die toekoms moes, onvermydelik, die groot afrekening met al die verwyte bring. Ons het dit besef, het daaroor geskryf en daarteen gewaarsku. Dit was nie maklik nie. Die kritici is egter geïgnoreer en toe netjies geostraseer.
Dan, het ons geweet, wanner alles verby sou wees, sou die las swaar rus op 'n gemeenskap wat op so 'n groot skaal 'n sisteem van onreg opgerig en oor jare met passie verdedig het.
Ons het dus die toekoms gevrees.
Maar ook ons is beskaam deur die man wat so spontaan oor grense uitgereik het en teen die las van die verlede in geleef het.
Hy het 'n ruimte geskep wat mense toegelaat het om anders te word. Hy het mense nie aan hulle verlede verslaaf nie. Want dit is ook 'n verdienste van mense dat hulle Mandela se versoenende houding waardeer het en toe daardie hand wat na hulle uitgereik is, aanvaar het.
Dit het inderdaad 'n nuwe toekoms moontlik laat word: Dat daar tog uiteindelik onderhandel is, dat verkiesinge gehou is en dat in vele gevalle mense saamgewerk het - ten spyte van die verskrikkinge van die verlede.
Die versoening het die las ligter gemak. Dit het die verlede tot groot mate, en miskien te maklik, op die agtergrond geskuif.
Ek sien dus ook in baie van die hartseer in onlangse dae die volgende raak: 'n jammerte oor wat gebeur het. Spyt oor verspilde jare. Oor onnodige haat, wantroue en skeiding. Versoening het dus werkinge ver verby die nader bring van mense aan mekaar. Dit bring mense ook tot die punt om beter te verstaan hoe hulle in die verlede gefaal het. En hoe hulle anders moet wees en word.
Versoening transformeer. Op vele vlakke.