Monday, August 31, 2009

Vreugde

Daar is iets ontroerends en oorweldigend aan die Bergrede wat Jesus op ‘n dag met ‘n groot skare op so ‘n eenvoudige en verrassende manier gedeel het. Ver buite die grense van die klein, ongerekende landjie van Palestina oor God se wye aarde, het hierdie woord deur die eeue heen 'n spoor gelaat.


‘n Mens kan dit feitlik sonder enige kommentaar in stilte net oor en oor bly bedink en jou eie maak:

Salig is die wat arm van gees is...
Salig is die wat treur....
Salig is die wat honger en dors...
Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid...
Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek....

'n Vreemde, vreemde woord:

Salig, vreugde, blydskap word hier toegesê aan mense wat ons normaalweg nie met blydskap assosieer nie: die armes, die wat vervolg en getreiter word. Julle kleines, sê Jesus, wat hier by my is en met wie ek praat en na wie ek kyk en oor wie ek liefdeswoorde uitspreek, julle is die blyes en dei vrolikes. Nie die konings en die keisers en die magtiges in die land en in die kerk nie.

Julle wat almal gewoonlik so hartseer oor praat, wat mense met self-bejammering assosieer, wat nie gereken word nie, wat mense vermy omdat hulle dink julle posisie is ellendig, julle is die gelukkiges, die blyes. Want God reik na julle uit...

Blydskap het te doen met die wete dat ‘n mens in die teenwoordigheid van God is, dat ‘n mens juis nie deel is van wêreldse optrede, denke en maatstawwe nie, maar deel het aan die plek wat ons hemel noem, waar God woon, so naby en so intiem verbind met engele en mense om hom. Die hemel waar God in wyse liefde die laaste woord het, is die plek waar mense vrede vind en vreugde kan ervaar.

As dinge nie goed gaan nie, kan ‘n mens nog bly wees. As jy skade ly, kan jy nog innerlike geluk ervaar.

Blydskap hang nie af van wie jou almal kritiseer of aanvat of beledig of uitkryt nie.

En wat dit soveel meer uniek en spesiaal maak is dat dit ‘n geluk is wat by jou bly, wat jou nie ontneem kan word nie. Geen woord, belediging, dwarsklap, seermaak kan jou afsny van hierdie liefde nie - dit woon by en in jou.


Jy is die enigste een wat dit kan kwytraak en dit kan laat los. Daarom kom die opdrag van Jesus:

“Verbly en verheug julle” roep Jesus uit. “Maak dit wat God aan julle gee, julle eie. Julle is dit, as julle in God is. Eien dit vir julle toe!”

Sunday, August 30, 2009

'n Soet smakie...






















Peppermint Patty was nog altyd 'n gunsteling van my in Schulz se Peanuts reeks.

Hier praat sy met Charlie Brown. In haar donker nag van die siel soek sy na iemand wat soos sy deur die donker nag is.

En al die tyd, langs haar, staan die arme Charlie. Met sy oop arms, Christus-agtig, sonder 'n woord. Om by haar te wees..... hoewel sy te veel smart het om dit te besef.

Totdat Charlie haar bekyk en sy arms oophou. Hy weet...

Schulz wou nooit godsdiens sentementaliseer nie. Lekkerkry-kicks het vir hom nie ingepas in sy Bybelse verstaan van Christus en van geloof nie. Sy kinder-figure is wonderlike vertellings van geloofswaarhede. En moenie kinders onderskat nie. Hulle weet geloof is nie sommer net van uit die hemel val nie. Hulle ken van geloof wat getoets word - deur die donker nag.

Saturday, August 29, 2009

Die rykheid van die geestelike reis

Die geestelike lewe en heiligmaking word dikwels met mekaar verbind – en dit is goed en reg so. Want spiritualiteit is ‘n proses waardeur ‘n mens dieper in ‘n intieme verhouding met God groei, maar ook in hierdie wêreld God gehoorsaam. Met heiligmaking word dikwels bedoel dat ‘n mens ‘n “goeie” lewe voer, dat jy die gebooie van God, veral die tien gebooie moet nakom. Ons moet gehoorsaam wees aan God en doen wat God van ons vra.

Maar heiligmaking is net een deeltjie van die geestelike lewe. Ons moet ook van heiligheid en heiliging praat. Ons is deur die aanraking van ‘n heilige God heilig gemaak, ons leef ‘n heilige roeping, ons groei in heiligheid en ons leer om die Heilige Gees te gehoorsaam en die leiding van die Heilige Gees te soek. Dus, reeds wanneer ons kyk na “heiligmaking” is dit nie maar net ‘n kwessie van goeie dade nie. Die woord self impliseer heelwat dimensies.

Die geestelike lewe en reis is baie meer as net heiligmaking. As ‘n mens kyk na die Nuwe Toewyding van Geert Grote is daar veral vier aspekte wat hulle beklemtoon het:

Eerstens is daar ‘n gedurige bewussyn by die gelowige van die intieme verhouding met God in Christus. Die geestelike lewe vir die Nuwe Toewyding was ‘n lewe in Christus – vandaar later Thomas a Kempis se Navolging van Christus. Prakties beteken dit dat ‘n mens se hart gedurig op Christus gerig is. In terme van heiligmaking sou ons kan praat van Christus wat die Heilige Gees stuur om van Hom te getuig. Die Gees is die Gees van Christus (Hand.16:7 – wat ‘n mooi teks).

Die liefdesverhouding met Christus bring tweedens konkreet mee dat ‘n mens die tekste oor Christus ‘n primêre plek in jou lewe gee. Nie die kerklik tradisie nie, nie die uitsprake van die ampte nie en ook nie al die wysheid van die debatterende teoloë en wysgere nie, maar die Bybel was vir die Nuwe Toewyding die bron van die geestelike lewe. Hierdie fokus op die Bybel was nie intellektueel nie. ‘n Mens het die Bybel nie gelees vir kennis nie, maar vir die liefde. Daarom het ‘n mens dit liefderik jou eie gemaak, dit bedink, dit geproe en alles wat jy het daarin gewerp. ‘n Mens het oor die Bybel gemymer en gemediteer. En dit het in ‘n wye verband gebeur. Jy het dit as ‘n groep saamgedoen, in die openbare erediens op ten minste vyf geleenthede elke dag. Maar jy het dit ook op jou eie gedoen, in jou stiltetyd. Dit Bybel was die boek van die lewe, die gids in die geestelike lewe – vir die Nuwe Toewyding.

Alleen dan maar, derdens, het die Nuwe Toewyding die morele lewe en heiligmaking onderstreep. Want die lees van die Bybel bring die mens om God en ander lief te hê. Die Skrif transformeer mens se lewe en iemand wat die Bybel lees moet hierdie transformasie vir sy of haar eie lewe begeer. Alles anders, al die teologiese debatte en haarklowery was in die oë van die Nuwe Toewyding leë gesoek na verwaande eer en ydele kennis. En hulle het daarin ‘n radikale breuk gemaak met die praktyke en gebruike in die kerk van hulle tyd waardeur allerhande teologiese debatte en slimmighede die fokuspunt was.

Uiteindelik het die Nuwe Toewyding van Geert Grote groot klem op interioriteit gelê. Interioriteit is vandag ‘n groot kwessie in spiritualiteit (google maar net bv Sheldrake se bespreking hiervan). Sommige mense beweer dat dit die motief is wat spiritualiteit van alles anders onderskei. Ander weer dink interioriteit kan ook ‘n probleem wees en mense verlei om onreg te ignoreer in die wêreld waaruit hulle wegvlug. Maar spiritualiteit weet interioriteit mag nie daartoe lei nie – ook die wêreld moet getransformeer word. Uiteindelik gaan dit in interioriteit ‘n vierde element, om jou gereeld en met dissipline te onttrek van die daaglikse lewe t.w.v. die bewussyn van God se teenwoordigheid, innerlike toewying in stilte en gebed, nadenke. Ons sou dit seker ook “stiltetyd” (‘n mooi woord) kon noem. Om in stilte in ‘n gees van toewyding een aanbidding vir God op te soek en te wag op sy aanraking.

Heiligmaking kan nie gebeur sonder dat God ons aanraak en besoek en reinig en heelmaak nie. Heiligheid is nie iets wat ons ontdek en kry nie. Ons moet dit van God ontvang en as geskenk ons eie maak deur innerlik daarop ingestel te wees. Die geestelike lewe is ryk, vol en het baie dimensies. Om te dink dat dit gaan om ‘n paar goeie dade te doen, is om die rykheid van ons geloof op te gee. Die Nuwe Toewyding maak vir ons ‘n hele nuwe lewe oop – ‘n lewe in liefde in Christus, gedryf deur die Bybelse boodskap van transformasie, ‘n verlange om soos Christus goed te lewe en ‘n innerlik rustigheid oor God se koms in ons lewens. As ons dit onthou, sal ons nie in die dodelike strik van die moralisme trap nie.

Friday, August 28, 2009

Oor boelies en bullebakke (vervolg)

Die reaksies op my blog van 13 June 2009 oor Boelies en bullebakke het my verbaas. Dit is blykbaar een van die mees gelese bloginskrywings tot nog toe.

Dit lyk asof veral die nuwe navorsing wat daarin genoem is,die reaksie uitgelok het. Die navorsing toon dat ons tot dusver nog altyd net nagedink het oor die slagoffers van boelies sonder om genoeg aandag te gee aan die boelie self as die slagoffer van sy of haar afknouerigheid en geweld. 'n Mens is ook verras omdat jy ontdek dat 'n boelie nie net 'n seun is wat ander slaan nie. Daar is baie soorte boelies, nie net in die skole nie, maar in die werk, in kerke, in universiteit en baie ander plekke.

Die navorsing wys dus hoe lewensbelangrik dit is om 'n bullebak so gou en so deeglik as moontlik te laat behandel. In ernstige gevalle behoort kliniese sielkundiges of psigiaters gekonsulteer te word. As dit nie gebeur nie, is die mense en kinders se toekoms gewoonlik daarmee heen en word hulle op die ou end uitwasse uit die samelewing.

Wat my verder bekommer, is dat ouers van bullebakke nie eintlik veel omtrent die situasie doen nie. Hulle dink dit is 'n verbygaande kwessie, dit is nie te erg nie en daar is ander groter probleme.

Ter wille van kinders behoort niemand onverskillig te staan teenoor vermoedens dat 'n kind bullebak-neigings het nie.

Uit die reaksies op my bloginskrywing sou 'n mens kon aflei dat geweld in 'n skoolsituasie 'n klomp mense so bekommerd het dat hulle hul toevlug tot die internet neem vir ondersteuning. Reeds dit wys hoe bullebakkery 'n hele huisgesin kan teister.

Die reaksie moes my seker nie verbaas het nie. Ek het die afgelope paar jaar uitgebreid gewerk op die kwessie van geweld en onder die indruk gekom van hoe verskuild geweld in ons samelewings is. Ons dink altyd geweld kom meestal in oorlog en in misdaad voor en dan onderskat ons die baie ander plekke waar geweld aan die orde van die dag is. Juis daarom wou ek oor bullebakke as geweldenaars ook opmerkings skryf. Die kind wat boelie is 'n geweldenaar wat ander mense se menslikheid tot niet maak.

Ek het my studie van geweld veral op 'n wye veld aangepak. Aan die begin van 2008 het ek saam met 'n groep Nederlandse en Vlaamse teoloe 'n konferensie oor geweld in die Nuwe Testament georganiseer. Die artikels (in Afrikaans en Nederlands) het intussen in HTS verskyn en sal uiteindelik in Engels by Brill in Leiden gepubliseer word. In hierdie artikels kom 'n mens agter hoe baie vorme van geweld daar is en hoe gewelddadig die Christendom en selfs Bybelgedeeltes dikwels is. Dit is leesstof wat 'n mens tot diepe nadenke stem, indien nie tot ontnugtering nie.

Kyk die inligting by:

http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/viewFile/92/88

Laai enige van die artikels af by:

http://ajol.info/index.php/hts/issue/view/5862

Die slot artikel in hierdie bundel wil 'n oorsig gee oor die rol van geweld in die Nuwe Testament.

My belangstelling in geweld volg ek tans op met studie oor 'n Spiritualiteit van Vrede. Dit is 'n boeiende onderwerp. As 'n mens eers die Bybel vanuit die motiewe van geweld en vrede lees, is dit merkwaardig hoeveel nuwe dinge 'n mens daaroor raaksien. Ek is oortuig dat Spiritualiteit 'n wesenlike bydrae kan lewer om 'n kultuur van vrede te vestig en geweld te bestry.

Vir inligting oor sommige van my ander artikels oor geweld en vrede, asook 'n lys van my ander publikasies, kan my lys van gepubliseerde werke gekyk word by:


http://espirituality.org/Info%20about%20Pieter%20documents/ListofPublications.pdf (hierdie lys sal spoedig aangevul word met die publikasies oor geweld en vrede).


Ek sit tans hierdie navorsing oor geweld voort in 'n projek saam met my gasheer in Regensburg en met ondersteuning van 'n Duitse navorsingtoekenning. Oor twee weke woon ek 'n konferensie by oor die interpretasie van die geweldsgedeeltes in Openbaring deur die loop van die eeue. My eie bydrae in HTS het gegaan oor geweld in Openbaring 18.

Ek sien dus baie uit na die byeenkoms, want dit behoort 'n mens 'n goeie perspektief oor die manier waarop Openbaring deur die eeue gelees is, te gee. Terselfdertyd bied dit interessante moontlikhede vir verdere nadenke oor geweld.


Openbaring speel 'n sleutelrol in die Christendom. Dit is 'n boek wat baie oor oorlog praat. In die wegrapingsboeke uit Amerika word 'n hele kultuur van geweld in die naam van die Christendom geakkommodeer. Die groot vraag is nou hoe 'n Christen vandag oor die boek dink. Dit is hiermee waarmee ek my tans verder besig hou. En dit is teen hierdie agtergrond dat ek oor boelies en bullebakke geskryf het. Om te dink: ons kinders wat in hul jong jare sorgvry en in vrede moet kan speel en leer, se lewens word dikwels deur geweld bedreig en vernietig. Dit is 'n tema wat van lewensbelang is.

Respek

‘n Mens moet respek hê daarvoor dat ander mense anders dink as jy. Trouens, 'n mens moet kan besef watter wonderlike interessante en belangrike ding dit is dat mense so van mekaar verskil.

Dit is juis omdat mense so van mekaar verskil dat van die grootste ontdekkings in die geskiedenis gedoen is.

In die verband moet ons ons lesse uit die verlede versigtig leer: Daar is baie voorbeelde van jou hoogs individuele mense wat uitgestaan het bo baie ander. Hulle was in ‘n sekere sin die “vreemde voëls” van hulle tyd. Hulle het nie aanvaar dat die bestaande dinge die waarheid is nie en het daarom baie anders as hul tydgenote gedink.

Oor hierdie individualiteit is hulle bespot, swaar gestraf, vervolg en selfs gedood.

En die kerk was dikwels hierin aan die voorpunt.

Dink maar aan die Kopernikaanse revolusie: as Galileo die kerk se waarheid oor die son wat om die wêreld draai nie omgekeer het nie, het ons vandag nie die geweldige tegnologiese vernuwing ervaar wat die ruimtevaart en satelliete byvoorbeeld veroorsaak het nie.

En as Luther nie stroom-op gebeur het met sy hervorming nie, het ons vandag nog hekse verbrand en bygelowigheid verheerlik.

Ja, Luther was vol foute, ‘n humeurige, selfs gewelddadige man wat self nie juis altyd die voorbeeld van verdraagsaamheid was nie. Maar as hy nie getrou gebly het aan sy gewete nie en uit vrees vir die opponente maar ingegee en stilgebly het?

Dit is belangrik vir enige samelewing dat sy waarhede altyd getoets moet word.Dit kan dalk net tot nuwe lewe lei.

Laat ons versigtig luister na hulle wat anders is, wat ongewone dinge sê, wat vreemd optree. Dit is nie net ‘n kwessie van verdraagsaamheid teenoor hulle nie.

Dit het te doen met ‘n liefde vir wat saak maak, vir die dieper dinge: dalk is hulle die profete wat die dieper waarheid kom onthul, wat ‘n goddelike woord te spreke het.

Soos in die Ou Testament. Soos in die geval van daardie rare, ongewone, rondreisende, ongetroude Jood uit die klein, verspotte Nasaret wat spoedig uitgevind het hoe waaghalsig dit was om die groot kanonne van sy tyd, daardie magtige, godsdienstige kenners in die groot, blink tempel in Jerursalem aan te vat.

As ons respek het vir die ander, hulle uitluister, soms maar waag om van hulle ook te leer, is dit omdat ons weet hoe swak ons greep op die “waarheid” is.

Dan is dit ook omdat ons God toelaat om ons, soos Jesus beloof het, deur die Gees dieper in die verborge dinge in te lei. Ons stel ons oop vir God, nie om sommer alles te glo nie. Maar om altyd op die uitkyk te wees vir die profetiese woord wat ons omvorm, selfs teen ons sin.

Ons mag dalk op die eerste oog af nie van hierdie vreemde woord van die rare mense hou nie. Maar dit bring dalk net die vernuwing in ons lewens wat ons nodig het. Respek vir ander is 'n lewenshouding en lewensingesteldheid wat ons lewe kan verander en transformeer.

Thursday, August 27, 2009

Die boeiend rol van memorisering

Mense wat op ‘n hoë ouderdom eers leer lees, vertel wonderlike verhale oor watter verskil dit aan hulle lewens maak. Ons leef in ‘n lees-kultuur. Oral om ons is eindelose klompe papier waarop geskryf is. Dit verbaas ons, want ons aanvaar so maklik dat almal om ons kan lees. Ons kan ons wêreld nie bedink sonder lees nie. Beland nou maar net in ‘n Chinese of in ‘n Russiese stad waar jy nie die letters kan lees nie, en kyk hoe vinnig desperaat word ‘n mens omdat jy so ontworteld is: Waar is die hotel? Hoe kom ek by die stasie uit? Lees kan iewers die verskil tussen lewe en dood uitmaak.

Boeke is vir ons so vanselfsprekend dat ons daarom dikwels vroeëre tye misverstaan. In die Middeleeue het die gewone mens nie ‘n lees-kultuur gehad nie. Natuurlik was daar heelwat boeke, maar slegs enkele bevoorregtes was beskore om boeke te kon besit. Baie van die kloosters het byvoorbeeld groot geld gemaak uit hulle oorskryf van manuskripte. Omdat dit so tydrowend was, veral omdat dit netjies gedoen is, was boeke ongelooflik duur. In baie gevalle het kloosters ‘n lekker inkomste uit manuskripte verdien.

Hoe het mense dan oor die weg gekom as hulle nie boeke besit het nie? Die antwoord is eenvoudig: hulle het alles uit hul kop geleer. Ons kan die vroeëre eeue alleen maar verstaan as ons onthou dat dit ‘n memoriseer-kultuur was.

Die agtergrond verklaar juis waarom die Nuwe Toewyding van Geert Grote in die veertiende eue baie moeite gedoen het om gewone mense te help om te leer lees. Maar selfs vir hulle wat kon lees, was dit belangrik om te memoriseer.

Maar selfs hier moet ‘n mens nog iets verder byvoeg: ‘n Mens het nie sommer in die twaalfde en dertiende eeu n.C. maar net gaan sit en ‘n boek uit jou kop geleer nie. Memorisering was ‘n hele wetenskap wat berus het op insigte wat reeds in klassieke tye deur die grotes soos Aristoteles en Cicero ontwikkel is. Mense het die geheue geoefen soos mense vandag hulle lywe in ‘n gimnasium tot in die fynste trekke opbou. Hulle het tegnieke vir memorisering uitgewerk wat vir eeue invloed op die nageslagte uitgeoefen het.

Tekste is volgens die metode in kleiner eenhede opgebreek. Die student het hierdie eenhede meganies aangeleer. Ons sou vandag sê hulle het dit soos pappegaaie geleer. Hulle het byvoorbeeld nie eers op woorde gefokus nie, maar eerder op lettergrepe. Hierdie lettergrepe is getel en georden. Die volgorde van die eenhede is ook uitgewerk en genommer. Die student moes die getalle van eenhede geken het en die woorde van elke eenheid uit die kop geleer het. Hulle is versigtig getoets: studente moes die eenhede van voor tot agter en van agter tot voor kon voordra. Hulle is ook gevra om sekere eenhede uit te laat. Dit het beteken dat hulle op versoek eenheid 12 tot 14 van ‘n teks moes kon opsê. In die geval van die Bybel het studente byvoorbeeld die Psalms oor ‘n tyd van twee tot drie jaar uit hul kop geleer. Die Psalms was ‘n uiters gewilde boek om te memoriseer. Die meeste ernstige studente en bevoorregte gelowiges sou sonder meer die hele boek uit hulle kop ken. Wat hier getel het was dat ‘n mens ‘n klomp tektse eenvouding blitsvinnig in orde moes kon opsê.

In ‘n tweede fase is die gememoriseerde eenhede dan in groepe bymekaar gebring en georden. Hier het die studente nie meer meganies gewerk nie, maar kreatief. Hulle moes dele bymekaar bring van wat hulle uit hul kop geken het en die betekenis daarvan uitwerk. So sou ‘n student byvoorbeeld alle Psalmtekste oor verwaandheid of oor lyding of oor die tempel kon saamvoeg en bespreek. Wat hier tel is hoe ‘n mens verskillende tekste kon rondskuif en kombineer.

Mense soos Geert Grote en Thomas A Kempis het in hierdie memoriseer-kultuur groot geword. Dit is hoe hulle breine gewerk het. Dit is ook die agtergrond waarteen Thomas se Navolging van Christus verstaan moet word. Dit is ‘n kultuur waardeur ‘n mens diep in ‘n teks ingetrek word. Jy leef vir jare saam met een boek, ken elke woord, elke lettergreep uit jou kop. As jy een deel lees, roep dit onmidddellik ander dele van die teks of ander boeke by jou op. Jy kan amper in jou slaap die teks opsê. Dit is ook teen hierdie agtergrond dat ‘n mens die Lectio Divina moet verstaan (sien die blogs elders hieroor). Die geestelike lees van die Bybel funksioneer veral in ‘n memoriseringskultuur. 'n Mens kan ook die Bybel beter verstaan as 'n mens onthou dat hierdie kultuur van memorisering ook in Bybelse en Joodse kontekste 'n groot rol gespeel het.

Ek het al voorheen geskryf hoe dit my opval dat jongmense die trefferparade se liedjie sonder moeite saamsing. In al hul buie kies hulle sommer dadelik ‘n liedjie wat hulle onthou en wat by die bui pas. Dit word ‘n hele leefstyl. Dink nou net hoe lyk die mens wat uit sy hart uit uit die Bybel leef en wat by elke bui onmiddellik ‘n klomp tekste kan opnoem wat daardie bui aanspreek. So iemand was Thomas A Kempis. Net – hy het dit nie net geken nie, vir hom was die Bybel ‘n kwessie van lewe en dood.

Wednesday, August 26, 2009

Geert Grote

Thomas a Kempis se Navolging is ‘n godsdienstige boek wat diep wortels het in die Moderne Toewyding of Devosie. Dit is ‘n vernuwingsbeweging wat veral gesoek het om die kerk radikaal na binne te verander. Thomas is egter sterk beïnvloed deur die merkwaardige figuur van Geert Grote. Sommige dink selfs dit is Grote wat die Navolging geskryf het.

Geert Grote (ook Groote geskryf) was ‘n ware student, wat, gesien sy ryk familie, in gemak kon studeer tot hy dertig jaar oud geword het. En watter opleiding het hy nie: Hy studeer in wye reeks vakke soos teologie, filosofie, regsgeleerdheid en self medisyne. Maar hy leer ook meer oor astrologie en towerkuns. Hy was ook ‘n harde en toegewyde werker.

Hy het dus as jong man alles gehad wat sy hart kon begeer. Hy het sy lewe geniet – met veel plesier. So lekker het dit gegaan dat hy van sy vakke nie afgehandel het nie.

Maar hy het tog genoeg gehad: Opvoeding, opleiding, kennis, status, voorregte. ‘n Blink toekoms het op hom gewag. Geen wonder dus dat hy inderdaad as professor aangestel word.

En toe, in 1372 ervaar hy ‘n besondere geestelike ervaring wat sy lewe verander. Hy word dodelik siek. Hy vra selfs om die laaste sakrament te ontvang, maar die priester weier dit tensy hy sy boeke oor die towerkuns verbrand. Nadat dit gedoen is, word hy merkwaardigerwys gesond.

Die ervaring transformeer sy lewe. Dit bring hom daartoe om ‘n eenvoudige leefstyl op te soek, die meeste van sy besittings prys te gee en drie jaar in ‘n klooster te gaan bly (sonder om monnik te word) waar hy belangrike teologiese werke gelees het.

Hy begin preek, meestal vir die gewone gelowiges. En hy beklemtoon innerlike vernuwing wat met ‘n opregte passie en eerlike soeke nagestreef moet word. Hier word geen groot teologie bedink en bespreek nie. Dit is die lewenspraktyk wat nagejaag word. ‘n Mens moet jou gedurig inleef in die lewe van Jesus. Lectio divina in ‘n neutedop, ‘n fokus op die Bybel. En dan moet jy hierdie lewe internaliseer en nastreef. ‘n Mens sien hier twee groot strome saamvloei: Dit gaan vir hom om verinnerliking van Bybelse inhoude en die uitleef daarvan na buite in die praktyk.

Dit lyk nie of hy die ryke tradisie van die klassieke mistici voor sy tyd wou oorneem nie. Die mistieke strewe na eenwording met God was nie vir hom in fokus nie. Hy het veel meer prakties gesoek na die uitlewing van die liefde.

Baie mense het sy boodskap so aantreklik gevind dat hulle in groepe bymekaar gekom het en gemeenskappe gevorm het – wat hulle dan ook die Broeders en Susters van die Gemeenskaplike Lewe genoem het. Geen ampte, hoge range of magsstryde nie. Hulle het veral armoede bestry en skole opgerig. Maar in alles het hulle ‘n geestelike lewe van refleksie op die Bybel gevoer.

Mistici is nie gewild nie, maar as jy, soos Geert, dan ook nog die kollega’s van jou tyd kritiseer en boonop soveel aanhang verwerf, kry jy jou deel. En sy deel was dat hy deur sy kerklike kollegas in 1373 amptelik verbied is om te preek. Geert Grote het selfs sy volgelinge gemaan om nie te opstandig daaroor te raak nie, maar om die besluit te aanvaar.

Daar is so baie werke oor Grote geskryf. Thomas a Kempis het al begin met ‘n biografie oor hom. Waarom hier weer oor hom skryf? In my eie lees het dit my opgeval hoe min aandag gegee word aan Grote se werk op die Bybel. Die Bybel was in die hart van sy spiritualiteit. Hy het nie net self die Bybel versigtig gelees nie, maar vir hom was die belangrikste dryfkrag van die nuwe toewyding die lees van die Bybel. Sy volgelinge het onder sy leiding veral die lees van die Bybel as hul hooftaak gesien. Maar Geert Grote het nie net die Bybel opgetel en gelees nie. Dit was vir hom belangrik om ‘n betroubare Bybel te hê. Daarom het hy manuskripte van die Bybel uit kerke en kloosters versamel, hulle met mekaar vergelyk en allerhande foute in die oorgeskrewe tekste uitgeskakel.

Hier het sy besonder bekwaamheid en geleerdheid met sy praktiese geloof saamgevloei: hy het met sy pragtige kalligrafie die betroubare teks van die Bybel met die hand oorgeskryf – iets waarin hy spesifieke vir Thomas a Kempis (sien ‘n ander blog hier onder) beïnvloed het. Hierdie versigtige werk op die Bybel sou later by Nederlandse Universiteit verder gevoer word. Vandag is hierdie universiteite (soos Leiden) bekend vir hul baanbrekende werk – maar eintlik moet ‘n mens agter hulle werk die merkwaardige figuur van Geert Grote raaksien.

Ek het ‘n ruk gelede twee artikels oor Spinoza geskryf – nog ‘n meer omstrede figuur – en daarin aangetoon hoe belangrik Nederlandse universiteite in die sestiende eeu in die totstandkoming van die Bybelwetenskappe was. Deur my leeswerk oor Grote het ek besef wat die ruimte vir daardie werk aan die Nederlandse universiteit geskep het.

Dikwels word gesê dat Grote gestreef het na die verinnerliking en die uitleef van die liefde. Maar dit was nie sentimentele mooi-praatjies nie. Sy taal was dikwels in die weer in en hy het niemand ontsien nie. Maar kyk maar net na sy lewe:

In 1383 breek ‘n groot plaag in Europa uit. Geert Grote gaan op straat uit, besoek die sterwendes en die siekes in wat uiteindelik ‘n verskriklike ramp sou word. Die volgende jaar word die pes hewiger. Geert Grote, besig met die eenvoudige, praktiese verpleging van siekes, word in Augustus self siek aan die pes en sterf kort daarna. Hy is net 45 jaar oud. In die fleur van sy lewe. Jonk. Maar ‘n sleutelfiguur in die geskiedenis van die Christendom.



Ons weet nie hoe Geert Grote gelyk het nie. Maar ons het nog voorbeelde van wat hy geproduseer het:


Tuesday, August 25, 2009

Die soeke na vreugde.

Die soeke na vreugde lê diep ingebed in ons menslike natuur. So diep en so gedrewe is dit in ons weggelê dat ons soms desperaat aan die soek is daarna. Ek dink veral aan die groot musiek-kultuur van ons tyd wat dink geluk is te vind in ‘n visuele en klanke-wêreld wat ons wegneem uit ons ellende, ons sinne vir die kwaad verdoof, wat ons verplaas na ‘n wêreld waar ons nie meer sal seerkry en swaarkry nie.

Bono, lees ek ‘n tyd terug, vertel hoe hy by sy konserte derduisende jongmense voor hom sien wat desperaat voorgee dat hulle gelukkig is. Hy weet, hulle is innerlik diep ongelukkig. En as ‘n mens no ‘n ordentlike kykie in die hart van die musiek-wêreld wil kry, moet jy die lirieke lees en luister van uiters gewilde Kanadese band, Our Lady Peace waarin die futiliteit van die desperate soektog na geluk in een van hulle songs op redelike kru manier uitgesing word.

“Happiness is a fish you can’t catch” se woorde lui so:
I confess
Everyone is overweight
And I'm obsessed
Talking is just masturbating
Without the mess
Addiction leaves you sad today
& unimpressed
I can't remember all the names because
Everyone you meet today
Is just so fucking vain

Bored again by happiness
All those friends I've (die) lost in there

I'm upset
Happiness is not a fish
That you can catch
Imagination can't resist
This laziness
That pins you down, get on your knees
Everyone you meet today
Is feeling useless & ashamed

Gewoonlik is hierdie band nie so pessimisties nie – hulle is bekend daarvoor dat hulle lirieke nog altyd darem ‘n plekkie vir vreugde iewers inruim. Maar wat my hier tref is die slotwoorde dat almal useless en ashamed voel, maar veral ook die frase: “bored by happiness.”

Hoe jaag ons geluk? In ons desperate greep daarna, vermy ons alles wat ons kan ontsenu of ongelukkig maak. Ons vlug weg uit ons gewelddadige, slegte omgewing. En vir baie sluit dit ook godsdiens in. Dit fokus te veel op sonde, op seks wat sleg is, vra te veel heiligheid, eis te maklik liefde en opoffering vir ander. Godsdiens lyk juis of dit geluk tot niet maak. En nog meer: ons wil geluk hier en nou smaak. Die Christendom lyk asof dit geluk belowe vir dit toekoms – en die toekoms? Wie onder die ongeduldige grypers wil hulle dobbelstene op die onsekerheid van die toekoms gooi?

Hoe kan ons tog ooit hieroor anders gedink het as dat geluk nie sommer net gebeur nie? Ons menslike bestaan, hoe dit ook al ingestel is op vreugde, waarborg terselfdertyd die gebrek aan vreugde. Ons liggame, as ek Thomas Aquinas se slim teologie kan parafraseer, is reeds rede om nie te romanties oor geluk te wees nie (Our Lady Peace se overweight en addiction!). Ons kennis wat so onvolmaak is en waardeur ons net soveel rampe as suksesse oor ons pad haal. Ons gebrek aan deugde waardeur ons ander seer maak en afbreek, maar meer nog onsself vernietig. Selfs al begeer ons geluk, keer ons natuur ons daarvan weg...

Die groot mistici het verstaan dat godsdiens juis egte vreugde bring. Natuurlik beloof Jesus geluk vir die toekoms: hy het as die insigryke geweet geluk pluk jy nie maar net uit ‘n hoed nie. Die geestelike reis is ‘n langsame, prosesmatige reis. Ons kan nie die einde gryp nie. Ons moet dit afwag, gereed word daarvoor, dit soek, ons insstel daarop. Die reis is die geluk. Om te kan reis, om te kan groei in wat werklik vreugde bring.... dit is al klaar ‘n boel vreugde.

Maar Jesus beloof dit nie net vir die toekoms nie. Geluk is nie iets wat soos ‘n wortel voor my neus hang en ek dit donkie-gewys jaag nie. En dit is nie net in die reis nie. Dit is ook in my. Geseënd, roep Jesus uit, is julle wat arm is, wat ly, wat honger is en dors het. Nou reeds. Gelukkig is julle, julle wat hier by my is, in my teenwoordigheid, wat op die berg in stilte en kalmte sit. In die nabyheid van vrede is vreugde. Tuis, in julle klei-huisies, in die bloedige hitte van Palestina, weg van die tempel, daar kan julle blydskap nou reeds ervaar. In lewens van eenvoud en goedheid, wagtende op die koms van die nog groter, ontvouende blydskap totdat dit in sy rypheid sal oopblom. Geen sentimentele gekwyl hier oor pienk rose en wit lelies van geluk nie. In die hardheid van die lewe, in die diepe ongelukkigheid van die ellende, daar kan ‘n mens innerlik vrede ontdek. Ons kan gelukkig wees.

Godsdiens kan ‘n slawerny wees wat ‘n mens van alle vreugde ontneem en van jou ‘n suurknol maak – hoe hard jy ook al vreugde en blydskap opeis. Of godsdiens kan ‘n mens innerlik vul met ‘n vreugde wat alle verstand te bowe gaan.

Monday, August 24, 2009

Die Elfmiljoen rand Sondag in Regensburg.

Ons hoor vroeër in die week dat die musiek in die katedraal hier in Regensburg besonder is. ‘n Beroemde koor tree gereeld tydens die diens op. Dus, uitgehonger vir mooi musiek, sit ons af na die pragtige ou gebou.

Die diens is ‘n byenes. Oral is daar toeriste. Hulle tou selfs met hulle koffers die kerk in en loop voor die diens verby is. Hulle is duidelik beïndruk deur hierdie mooi plek, hierdie gewyde atmosfeer. Dit is 'n plek wat mense aantrek en boei.

Die orrel is besonders. Dit word bespeel deur die professor in musiek aan die Universiteit wat sy storie duidelik ken. Na die tyd gee hy ‘n tien minute bespreking oor die orrel vir belangstellendes en verduidelik hy ook meer oor die nuwe een van R11 miljoen wat hulle aan die bou is en waarvoor hulle bydraes vra.

R11 miljoen. Vir ‘n orrel... Ek sit so bietjie terug toe ek dit hoor.

Die katedraal sit vol, maar die blok waar ons sit is duidelik nie geÏmponeer deur die oproep tot bydraes nie. Kollektetyd bring ‘n stywe priester met ‘n angstige trek oor sy gesig die bordjie ry-vir-ry om. Dit is soos die evangelis mos destyds vertel het: jy hoor net tiekie, pennie, pennie, tiekie. Dit is duidelik nie ‘n sagte kollekte nie en die tye is seker maar beroerd.

Maar elf miljoen rand.

Ons sit die diens deur, geniet die mooi orrelmusiek. Dit is werklik uit die boonste rakke. Maar dis nie naasteby wat ons in die baie kerke van Amsterdam beleef het nie. Die Hollanders speel mos orrel soos die Boere rugby speel. Sukkel nie met tierlantyntjies nie.

Maar al wat sing is die beroemde koor – en dit is waarvoor ons gekom het. En intussen weet ons nie wanneer ons moet sit of staan in die diens nie. Dis nie ‘n vriendelike konteks vir ‘n protestant nie, veral nie vir een uit Afrika waar die kontak met katolieke maar beperk was nie, om die minste daarvan te sê. Ek bedoel: hoeveel katolieke misse woon die gemiddelde boerseun in Suid-Afrika ook nou in sy leeftyd by?

Later kom ek agter jy time jou maar volgens die vier priesters in hul groen togas wat voor in die liturgiese ruimte hulle diens lei. As hulle staan, staan jy agterna. En die paar keer wat hulle gaan sit, kan jy ook gaan sit. Nie dat dit altyd werk nie. Voor my staan twee omies die hele diens deur en maak my net verder op my senuwees.

Elf miljoen rand, bly ek dink.

Ons beklim ons fietse na die diens en kies koers huis toe, maar ons laat ons lei deur die lomerigheid van die mooi somersdag. Via die bakkery winkel, Prinzess, waar ons ‘n heerlike apfeltorte koop vir ons oggendtreat by die huis, ry ons rustig terug huis toe. Sonder pragtige koormusiek agter die blad, weliswaaar, terwyl ek nog nadink oor die elf miljoen rand.

Ons is nie haastig nie en verdwaal dus hopeloos tussen die krom draaie en straatjies van Regensburg, ‘n wêreld-erfenisstad.

Op ‘n stadium moet ons omdraai en soos ons nou maar in Suid-Afrika dink ons heel wettiglik doen, ry ons op die sypaadjie aan die verkeerde kant van die pad – ook om maar uit die motors se pad te bly. So ‘n ent weg aan die verkeerde kant van die pad, kom ‘n Duitse tante van voor aan die regte kant af. Toe sy ons sien, rek haar oë in pure Duitse vrees en ontsetting. Dit lyk soos ‘n windpomp in ‘n onverwagte Karoo-warrelwind, so beduie sy al ryende: sy waarsku ons ywerig en met ontsag dat die polisie so ‘n ent terug stilgehou het en besig is om mense op die sypaadjie wat fiets gery het te beboet.

En sowaar. Op ‘n afstand sien ons toe sowaar ‘n groepie van drie wat deur ‘n polisieman aangehou word. Hy skryf lustig ‘n kaartjie uit, op sy tyd terwyl hulle ordelik en bedremmeld by hulle fietse staan.

In sommige lande sukkel en bodder ‘n mens nie onnodig nie, besef ek sommer net daar. Aanhouding in eensame opsluiting vir drie maande in ‘n Duitse tronk doem voor my geestesoog oop en soos blits, vetgesmeerd, is ons van ons fietse af. En vir die res van die dag voel ek skuldig oor daardie vyftig meter wat ek op die sypaadjie gery het. Out of Africa, so is dit.

Ek is nou op daardie stadium van my lewe waar ek hou van wet en orde. Ek dink by myselwers, ek sal nogal nie omgee as ons gevierde bewakers van die reg so af en toe ook dinge so bietjie opruim nie.


Maar ek bly nog steeds wonder oor die elf miljoen rand. Ek dink aan ons besoek vroeër vanjaar saam met die Nederlandse kollegas aan die plakkerskamp by Wallacedene en die oneindige armoede wat ons daar gesien het (sien ‘n vorige blog). Wat moet ‘n mens hieroor sê? Hoe moet die kerk dink hieroor – oor ‘n opulente lewensstyl, terwyl kinders elders sterf van die honger? En kerke hier in die suide van Duitsland is duidelik opulent. Doen ons nie maar op klein skaal dieselfde wanneer ons in ons luukse motors klim en ons neem ons huiswerkers om met die trein na hul huisies terug te reis nie?

Ek dink byvoorbeeld aan my besoek aan die Gereformeerde katedraal (sic) in Zürich waar Chagall se onvergeetlike vensters is en watter vreugde dit nie in my lewe ingebring het. Kan ‘n mens ‘n eerste wêreldse gemeente die luukse van so ‘n uitmuntende musiek-instrument ontsê? En is dit nie die hoë kunstenaars, Rembrandt en Da Vinci, beskermlinge van die rykes en die magtiges, wat vir ons ‘n erfenis agtergelaat het wat ons vandag nog naby aan God bring nie?

Ek bly hieroor nadink. En ek wonder: moet die kerk nie, as dit by sulke dinge kom, by ‘n groot blink orrel van elf miljoen rand, sê: goed, ons doen dit wel, maar dan samel ons ook tegelykertyd dieselfde bedrag om die slegste van armoede te beveg nie? Koppel dit. Laat die vreugde van ‘n erediens met die allermooiste orrelmusiek gepaar word met innerlike ontferming oor hulle wat niks het nie. As ‘n gemeente so iets dan wil doen. En is dit nie waar dat die Duitse kerk van die grootste ondersteuners in die wêreld van opheffingswerk is nie?

Maar ek bly wonder. Elf miljoen rand. Vandat dek die mistici begin lees het, het sekere dinge, sekere waardes in my bly groei wat miskien veroorsaak het dat ek vandag so bietjie teruggesit het oor die elf miljoen rand.

Mot en roes? Of die tempel in Jerusalem? Of die goue strate?

Sunday, August 23, 2009

Deur die liefde gedryf.
























Daar is net een skildery van Da Vinci in Duistland - en vir baie al klaar daarom 'n rede om dit te gaan kyk.

Dit word hoog aangeslaan want hy gebruik daarin tegnieke wat innoverend was vir sy tyd. Hy het dit in 1475 geskilder.

Ons het dit Saterdag in die Alte Pinakothek in München weer gesien. Dit is kleinerig, jy kan sommer sonder dat jy dit weet daar verby loop.

Dit is ‘n pragtig werk, met Maria se hare kunstig gevleg, met helder kleure en met die boeiende spel van lig op albei die karakters.

Die skildery is veral spesiaal omdat dit ‘n stile, rustige, intieme, liefdevolle verhouding tussen moeder en seun uitbeeld.

Maar wat ‘n mens nie dadelik sien nie is die rooi angelier wat Leonardo deur ‘n heel ingewikkelde tegniek sentraal in die skildery ingeskilder het.


Kyk mooi na die volgende detail:


























Die angelier verander die boodskap van die skildery totaal. Die ingeligte kyker sal weet ‘n angelier is ‘n simbool van Christus se lyding. Die baba reik met sy klein handjie uit om die angelier uit sy ma se hand te neem. Hy aanvaar as jonge baba reeds sy lyding. Die stilte, die rus, die rustigheid word versteur. 'n Donker ondertoon bedreig die helder lig wat oor die skildery spoel.

Ek kyk na die skildery terwyl ek na die kommentaar luister: Leonardo het met hierdie angelier sy skildery ‘n mistieke kleur gegee, word ek vertel. Later, toe hy meer bedrewe geword het, het hy sulke mistieke elemente opgegee. Hy wou toe net teken wat hy sien, wat hy kon kontroleer, wat hy kon waarneem.

Skade. Want wat ‘n mens in Christus sien, is nie altyd wat ‘n mens kry nie. In die Christus herken sommige dalk net ‘n klein, fyn, vet baba. Mooi mens, sou baie wou uitroep, selfs met bewondering. Maar wie weet van die diepere dinge, die verborgene, wie uit sy kruis lewe, weet dat sy menswording reeds ‘n prysgawe, ‘n opoffering, ‘n mede-deelsaamheid, ‘n lyding was. Inderdaad – in die inkarnasie sien ons die kleur van helderrooi-bloed, die simbool van lyding.

Hier sien ‘n mens hoe lyding uitgeskryf staan oor die kleinstes van kleines. Niemand, maar dan ook niemand ontkom die greep van lyding nie. Maar terselfdertyd besef ‘n mens hoedat die liefde dit omraam. Uit die liefde uit kan lyding verdra word, selfs omarm word. Dit is dan ook uiteindelik die dieper boodskap: alles wat ons doen, hoe ekstreem ook al, het sin as dit deur die liefde gedryf word.

Ek kyk verder na die skildery: die baba is uiteindelik in helderder lig geteken. Sy skoonheid staan uit. Hy baai in liefde. 'n Mens staan verwonderd, aanbiddend oor die gedrewendheid van die liefde. Dit is inderdaad pure lig.

Saturday, August 22, 2009

'n Dag om te onthou....




Ons gaan kuier vanmiddag weer na vier jaar by die Alte Pinakothek in München. Daar hang o.a. hierdie beroemde skildery van die vier apostels deur Dürer in 1526 geskilder toe hy 55 jaar oud was. 'n Mens kan sy meesterskap hier duidelik sien. Dit is waarskynlik van sy beste skilderye.

Die toe al beroemde Dürer skryf in 'n begeleidende brief heel nederig aan die stadsraad van Nürenberg aan wie hy die skildery wou skenk, dat hy nie altyd so tevrede met sy skilderye is nie - hulle is nie eintlik so wonderlik nie en hulle is maar eenvoudige werke. Maar, voeg hy by, aan nie een van sy skilderye het hy soveel tyd en moeite bestee soos aan hierdie een nie.

Dit was waarskynlik een van sy laaste skilderye.

Onder elke skildery is verskillende bybelverse, maar veral prominent is die aanhaling van Openbaring 22:18. Dürer wou met die skildery die owerhede waarsku om die Bybel sy regmatige plek in die samelewing te gee. Uiteindelik is gehoorsaamheid aan God belangriker as gehoorsaamheid aan enige aardse heerser.

Hy wou met die skildery vir Maarten Luther ondersteun. Daarom is die tekste in die skildery ook almal uit Luther se vertaling van die Nuwe Testament. In daardie tyd was dit nogal 'n waagstuk. Maar Dürer het 'n groot bewondering vir Luther gehad: Luther, skryf hy, het hom van baie van sy angste bevry. Dit is nie sonder rede, daarom, dat Petrus in die agtergrond geteken word, met Johannes die Evangelis in die voorgrond nie. Hier is nie enige teken van Petrus as eerste pous nie! En daarom lees Johannes ook sy evangelie se eerste vers: In die begin was die woord! Die bybel is duidelik in fokus.

Later, toe die skildery aan Maximilian, die katolieke heerser in Munchen gegee is, het hy die verse terstond laat afsny. Hoewel hy 'n bewonderaar van Dürer was, was die boodskap van hierdie skildery darem bietjie dik vir sy daalder.

Aan die regterkant is Paulus en Markus: Markus, aan die agterkant, hou 'n boekrol vas. Hy en Paulus (met 'n Bybel, leunende op 'n swaard as simbool vir sy teregstelling) kyk op en voor hulle.

Aan die linker kant is Johannes en Petrus. Johannes hou ook 'n Bybel (Petrus hou sy sleutel vas). Die bybel is oop by Johannes Evangelie. Maar beide hy en Petrus is diep versonke in wat hul lees.

Ons museum-begeleier vertel ons: So lyk meditasie. Diepe nadenke oor die Bybel. Dürer, die groot kunstenaar uit die tyd van die Reformasie, het goed geweet dat die Bybel nie maar net intellektuele, historiese inligting bied wat vir ons vertel wat ons alles oor God moet weet nie. Hier is die Bybel die boek waarin 'n mens wegsink, wat die bron van die lewe is, wat bo alles vir 'n mens aan Christus verbind. Hierin was Dürer sterk gevorm deur Luther wat vir die Johannes Evangelie spesiale waardering gehad het omdat dit so sterk op Christus gefokus het.


Ek sien hierdie ingekeerdheid van die twee karakters vir die eerste keer raak.

Ek neem die foto, want ek wil daaroor gaan nadink.

Dit laat my bly nadink, veral ook toe ek net daarna kyk na Durer se self-portret in dieselfde saal. Dit is 'n indrukwekkende stuk werk. Volgens sommige wou Durer hier 'n Christus-agtige figuur teken, nie eintlik homself nie.
















Laat-aand, nadat ons die laaste van ons kinders afgesien het, kom ons weer aan in Regensburg. Ek gaan deur die foto's van die afgelope twee dae. Die woud-toneel langs die Donau, direk langs ons huis, is genoeg om 'n mens ook verder in 'n meditatiewe bui te bring.

Dit was 'n geseënde dag...




Friday, August 21, 2009

Mistici en brandende liefde

Die mistiek gaan, kortweg, oor die eenwording met God.

Heel eenvoudig sou ‘n mens ook van die mistieke besef kan praat wat daar by mense ontbrand wanneer hulle besef dat God die mens en skepping lief het om geen ander rede as dat God wil nie - sonder rede, sonder teenprestasie, sonder enige voorwendsel. Eenvoudig net lief het. God gee om vir mense en vir die skepping.

Hoe wilder dit in die wêreld gaan en hoe meer chaos daar is, hoe meer skop hierdie besef van God se brandende liefde by mistici in.

Die mistiek het ‘n verskriklike passie vir God se mensdom en vir die skepping. Juis vanweë hierdie passie baklei mistici teen onreg, teen alles wat mense se waardigheid van hulle ontneem, wat die skepping vernietig en aan haat onderwerp. Hulle veg vir ‘n mensdom en skepping wat lig is, wat heerlikheid reflekteer, wat goed is, waar God kan regeer.

Mistici is mense wat vanuit die brandende liefde van God leef....

Thursday, August 20, 2009

Memento mori: die lewe is 'n kosbare gawe

Mistieke tekste vra dikwels van hul lesers om hul dood gedurig in gedagte te hou. Daarom speel die motief van memento mori ‘n groot rol daarin. Thomas a Kempis skryf byvoorbeeld in sy boek 1.23 ‘n meditasie oor die dood. Hy skryf daarin dat tyd kosbaar is. ‘n Mens moet die tyd uitkoop. Dit sou beteken dat ‘n mens prioriteite moet hê. ‘n Mens moet daardie dinge doen wat nie vrees in jou lewe sal bring wanneer jy uiteindelik jou lewe afsluit nie. Moenie doen wat jou berou nie, wat jou lewe sal verdonker nie.

Om aan ‘n mens se dood te dink, help dat ‘n mens nie met jou lewe mors nie. Tyd is kort, geleenthede beperk. Om wys te lewe, om ‘n mens se dae te tel, sal beteken dat ‘n mens die gevolge van jou dade sal bly bedink, om so te lewe dat ‘n mens nie vernietig en seermaak nie. Dan besef ons ons kan nie maar net dink dat ons altyd kanse gaan kry om te vergoed vir wat ons kwaad gedoen het nie. Dat ons nou reeds naby God wil lewe en met God op reis wil gaan.

Dit beteken nou nie noodwendig dat ‘n mens gedurig moet bid of Bybel lees nie.

Ons besef die lewe gaan oor blydskap, oor vervulling, oor harde werk van 8 tot 5, oor liefde, oor reis, oor skool toe gaan, oor ‘n kuiertjie met vriende, oor uitkamp, oor ‘n lekker boek lees, ‘n lang brief skryf, ‘n fliek kyk. Dit maak ons lewe vol. Maar ons kan sulke dinge doen terwyl ons doodverveeld is. Dae wat gelaai is met sulke dinge kan ons frustreer, irriteer en vies maak. Dit kan sonder enige betekenis wees. Ons kan ons dae omwens in gevoelens van diepe depressie en moedeloosheid.

Of die oomblikke kan vir ons, in die lig van die ewigheid, kans bied om die goeie raak te sien, om die natuur te geniet, om dankbaar te wees vir die liefde van dierbares, om bly te wees as iemand vir ons goed is, om gesond te bly, om uitdagings by die werk aan te pak tot God se eer en om ook daar ‘n getuienis van liefde te lewe. Dan word ons lewe vervullend.

Sommige mense sal dink dit is ‘n bietjie morbied om gedurig aan jou dood te bly dink. En natuurlik kan dit morbied en selfs obsessief wees.

En tog, vir ons wat glo die dood is die oorgang na die groter skoonheid, die warmer liefde en die volle nabyheid van God hoef dit nie so te wees nie.

En buitendien het die memento mori, die onthou van die dood niks obsessiefs nie. Eintlik beteken dit dat ons ons daaglikse lewe in ‘n gees van gebed moet beleef. Iewers moet ons die kosbaarheid van die lewe ervaar. Dit nie vermors nie. Ons moet dus besef hoe belangrik is gebed, veral wanneer ons ook bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Daardeur sê ons dat wat ons eet vir ons ‘n gawe van God is. Ons mees gewone dade en gebruike en gewoontes moet ons kan ervaar as ‘n goddelike gawe. Ons moet ons lewens sien in die lig van God se liefde wat ons lewe vul met skoonheid en vreugde.

Wednesday, August 19, 2009

Innerlike sorg

Ek bly nadink oor die uitspraak dat sonde dikwels daaruit bestaan dat ons sonder dat ons dit eers weet, ander mense groot skade kan aandoen (sien 'n vorige blog).

Ons redeneer dikwels presies andersom: ons dink sonde is iets wat ons willens en wetens verkeerd doen. Maar om te dink dat sonde juis dit is waarvan ons nie eers weet nie! Dis kwaai. En dit is, soos ek geskryf het, iets wat ons bewus maak van hoe sensitief ons moet wees vir die gevolge van ons denke en dade.

Ons moenie dink ons kan nie regtig so verskriklik wees nie. Ons het min lig in ons, skryf Thomas a Kempis in sy boek 2.5 en die bietjie lig wat daar wel in ons woon, verwaarloos ons nogal maklik. Ons onderskat die donkerte in ons binneste en hoe maklik ons verskonings kan uitdink vir wat ons verkeerd doen.

Ek bly verder ook in hierdie verband nadink oor die gedagte dat ons somtyds baie hard kan wees teenoor onsself en kan weier om ons te vergewe vir dinge wat ons verkeerd gedoen het. Ons moet dus ook kan aanvaar dat ons foute sal maak.

Maar hoe nou gemaak? Aan die een kant onderskat ons die kwaad in ons, terwyl ons aan die ander kant ‘n slagoffer word van die kwaad wat ons gedoen het.

Wat beteken dit alles? Dit beteken nou alles dat ons elke dag ons innerlike mens moet voed, net soos met ons uiterlike mens wanneer ons ons bed opmaak en onder ‘n stort inklim. Ons kan nie maar net lewe asof ons vanself alles sal goed doen nie. Ons moet skoonmaak, goed skoonmaak. Ons moet naby aan die bron van lewe bly, sodat ons nie dood en verwoesting saai nie.

Ons moet innerlik skoon wees, ‘n plek waar liefde woon, waar destruktiwiteit nie kan wortel skiet nie.

Ons kan onsself nie vir een oomblik verwaarloos nie. Met sorg, met liefde, met omsigtigheid moet ons ons self ondersoek of ons in die wil van die Here leef, in diens van die liefde is.

Iets spesiaals gebeur met onsself wanneer ons versigtig na onsself kyk, besef hoe feilbaar ons is, hoe maklik slegte dinge in ons lewe inkruip, ongemerk, en wortel skiet. Te spoedig, besef ons dan, sal ons onkruid sien opskiet waar ons vroom gedink het die aarde is vrugbaar.

Dit is dan dat ons begin besef hoe onderduims die bose is, hoe dit insluip waar ons dit nie verwag nie, hoe dit alle menslike lewe bedreig, dat almal gewikkeld is in die stryd teen die kwaad, dat ons in hierdie wêreld so versigtig soos die duiwe moet wees om nie verder kwaad toe te laat nie.

Net soos ons dan kan aanvaar dat ons somtyds groot foute maak en daarom die verlede moet kan agterlaat, net so sal ons ander wil inspireer tot ‘n sorgsaamheid en sensitiwiteit om die goeie te dien.

Dit is dan dat ons ook verstaan hoe ons ander mense moet omarm: ons word saam deur die kwaad bedreig. Ons faal dikwels in ons stryd. Ons is dikwels nie eers bewus dat ons soveel kwaad doen nie. Hoe meer ons in besorgdheid soek na ‘n innerlike lewe wat rein is, hoe meer sal ons besorgd wees om nie instrumente in die hande van die kwaad te wees wat ander mense se lewens bedreig nie.


Ons kan nie genoeg sorg en aandag aan onsself gee nie. Hoe meer ons dit doen, hoe meer sal ons sorgsaam uitreik na ander.

Tuesday, August 18, 2009

Duitse maniere
















Ons is vanaand deur ons gasheer op 'n egte Duitse, oftewel Bayerische manier getrakteer. In 'n biertuin waar bier nou reeds vir sewehonderd jaar gebrou word. Hulle dink uit half liter glase, maar my gasheer vertel dinge is nie meer wat dit was nie. Tot onlangs het almal nog uit liter glase gedrink.....

Die bierdrinkery gaan terug op die vastyd in die klooster toe priesters toegelaat is om te drink, maar nie te eet nie. Daar was darem 'n limiet op die getal biere per dag: nie meer as vyftien nie!

En vertel hy, toe die pous hoor van die bierdrinkery was hy nie baie simpatiek nie. Hy het glo 'n bestelling geplaas sodat hy kan proe of dit toelaatbaar is. Teen die tyd dat die bier in Rome opgedaag het, was dit glo byna ondrinkbaar suur. "Nouja," het hy met 'n suur trek om die mond uitgeroep, "dit is duidelik toelaatbaar want geen mens sal baie hiervan kan inkry nie..."

Terug van die biertuin het ons oor 'n heerlike someraand oor die agthonderdjarige klipbrug teruggestap die ou Regensburg-middestad in. Die brug oor die Donau is een van die beste voorbeeld van Middeleeuse boukuns, waarskynlik in Europa. Onbeskadig deur die oorlog. Maar tans word verkeer nie meer daaroor toegelaat nie. Die tyd begin die brug ook inhaal.

Ou-ou tradisies. Wonderlike verhale. Ou gewoontes. Dit is so vas soos klip. En tog, die tyd haal alles in, alles.

Wat 'n mens dankbaar laat vashou aan dit wat ewig duur. Ek slaap vanaand in met 'n gebed van dankbaarheid vir almal tuis, ons mooi land met sy eie tradisies, familie en vriende en almal wat verlang na innerlike rustigheid. So rustig soos 'n Duitse somersaand in die stil Regensburg.

Monday, August 17, 2009

'n Sondagmiddag in ons nuwe blyplek

Skemer in Regensburg, net langs ons blyplek























Die katedraal in Regensburg.















Die Donau. Ons is drie minute se stap weg.




















Ons swem in die Donau.




















Die dood loer (met 'n piesang in die mond) uit sy hoekie in Regensburg....







Seuntjie in 'n Regensburgse reenboog...

Sunday, August 16, 2009

Armoede is nie 'n skande nie - oor konformiteit aan Christus

Om een of ander rede bly ek nadink oor die konteks waarin Thomas a Kempis sy Navolging geskryf het. ‘n Mens kan moeiliker ‘n donkerder situasie vir so ‘n klassieke werk voorstel. As ‘n mens dink hoe mense vandag oor armoede dink en hoe intens ons rykdom begeer (lotto, toeëiening, opeis, entitlement), word die skryf van sy boek in so 'n ellendige konteks des te meer indrukwekkend.

Armoede is nie ‘n skande nie. Swaarkry hoef ‘n mens ook nie onder te kry nie. Thomas a Kempis se Navolging van Christus word geskryf in ‘n tyd toe die situasie in Nederland en Europa sleg was en die geestelike lewe van die kerk alles behalwe inspirerend was. Ek bly geboeid deur hierdie situasie – hoe meer ‘n mens die historiese konteks van die boek leer ken, hoe meer word ‘n mens verbaas oor die aard en inhoud daarvan.

Thomas leef in die baie moeilike veertiende en die vyftiende eeue (sien vorige blog). In hierdie tyd ervaar vele lande in Europa groot probleme. Dit is die tyd van die swart pes, toe baie mense en selfs hele dorpies uitgewis is. Die landbou is ook swaar getref toe oorstromings oeste uitgewis en hongersnood toegeslaan het. Boonop was daar vir dekades lank oorlog tussen Europese ryke (bv. die Honderdjarige Oorlog).

Mense is origens verdeel in twee groepe: daar was die rykes, die adel aan die een kant wat in luukse geleef het. Die kerk en sy geestelike leiers was ‘n sterk mag. Hulle kon die armes met belastings slaan wat nog verder tot hulle swaarkry bygedra het. Enige iemand met ‘n bietjie geld en invloed kon belangrike ampte in die kerk koop. Die geestelikes het ook oor die algemeen meer in politieke belang gestel as in geestelike sake. Aan die ander kant was daar die groot massas van armes.

En tog was daar ook ‘n ander groep naas hierdie ryk en magtige mense. Hulle het hul roeping bedink in terme van konformiteit aan Christus. Hulle het Christus ervaar as die Arme. En hulle wou so arm wees soos Christus. Maar, het hulle geredeneer, arm beteken nie om sleg en ellendig te wees nie. ‘n mens kan arm, maar goddelik wees. Boonop het hulle hierdie armoede nie as ‘n lot gesien nie, maar dit as ideaal nagestreef en begeer. ‘n Mens kan al jou wêreldse besittings prysgee en nog rasend gelukkig wees.

Op hierdie manier ontstaan daar die beroemde ideaal van die “armes van Christus” (pauperes Christi). Die ideaal van armoede het tot die stigting en werk van heelwat groepe gelei. Daar was die begyne – ‘n vroue-groep wat veral die goddelike liefde besing het, maar spesifiek onder arm vroue gewerk het (daar was ook ‘n manlike weergawe). Dan was daar groepe wat armes geestelik wou bystaan en begelei. Een so ‘n groep was die Kartusiërs wat geestelike literatuur geproduseer en versprei het.

Om armes te help het vir hierdie mense beteken om hulle te bemagtig, lewenskennis te laat kry, vir hulle by te staan om met eer en waardigheid te lewe. Dit was nie 'n jammer-Sannie houding van ons is sulke goeie mense wat julle uit julle ellende kom help nie. Dit was 'n diep godsdienstige gesindheid van mee-leef in liefde sodat ons menswaardig kan leef en in alles dan in konformiteit met Christus kan wees.

Dit was hierdie groepe waaruit die Navolging van Christus uiteindelik gebore sou word.

Wat my opnuut laat besef: Armoede kan die mens tot edelheid aanspoor en verhef. Godsdiens kan armoede van sy verontmenslikende werking beroof.

‘n Mens hoef nie deur die donkerte van te min of te kort skiet oorweldig te word nie. In die donkerste tyd kan die bevrydende woord, die woord van genade helder skyn.

Oral waar ‘n mens in eenvoud die liefdevolle gelaat van Christus ontmoet, daar word ‘n mens waarlik vry. Dan is die gebondenes en die gevangenes nie hulle wat magteloos is nie, maar eerder hulle wat rusteloos in kastele en in hoë kerklike posisies sit.

Armoede hoef nie ‘n skande te wees nie. Ellende hoef ‘n mens nie te verpletter nie. Dit hang maar net af hoe naby ‘n mens aan Christus leef. Om in die liefde van Christus geborge te wees kan die mooiste in ‘n mens na vore bring.


Ons soek welvaart. Ons begeer rykdom. Ons sug daarna en sluit van ons kant allerhande kontrakte met God af sodat ons tog voorspoedig kan lewe. En intussen verarm ons geestelik hoe voorspoediger dit met ons gaan. Miskien is Thomas se Navolging vir ons in ons welvaart 'n boek om ons opnuut weer te help om so ryk te wees dat dit ons gelukkig sal maak - en nie gieriger nie. Die groot uitdaging is om ons voorspoed so geestelik te beleef dat dit ons sal vrymaak en nie verder bind nie.

Saturday, August 15, 2009

Om God se aanraking af te wag - die eie aard van Christelike spiritualiteit

Hoe kan ek God ontmoet en ervaar? Dit is vir baie mense die groot vraag.

Hiervoor moet ‘n mens jou inspan, word geredeneer. Die vernuwing wat ‘n mens soek, kom net wanneer ‘n mens allerhande middele met dissipline en toewyging toepas. Deur byvoorbeeld jou gedagtes te rig op die sentrum van jou bestaan, deur konsentrasie-tegnieke, deur diepe meditasie of deur jou in te stel op die wêreld om jou en op ander mense, kan ‘n mens jou beperkende grense deurbreek. Dan styg jy uit bo jouself. Jou gees ontwikkel tot groter hoogtes. Jy kry deel aan die gees wat alle mense deurdring en wat van hulle beter mense maak. Dit is byvoorbeeld ook in Oosterse mistiek prominent.

Hier word geredeneer dat ‘n mens jouself vernuwe, jy kom tot jou volle potensiaal. Jy word wat jy eintlik veronderstel is om te wees. In sommige gevalle beweer mense dat hulle deur die gebruik van dwelms soos LSD onbeskryfbare godsdienstige belewenisse het. Hulle word dan vernuwe om meer vredeliewend en menslik op te tree.

Dit kan alles waar wees. ‘n Besige, dol lewe waarin alles om jou lewe en jou werk draai skep nie juis ‘n ruimte vir ‘n ontmoeting met God nie. Deur ‘n mens se liggaam en gees in te oefen, kan ‘n mens inderdaad goed voel en ‘n lewe van vrede ervaar. ‘n Positiewe uitkyk op die lewe, waardering vir ander mense, liefde vir ons wêreld en ‘n gesonde liggaam saam met konsentrasie-oefeninge kan wonders vir ‘n mens doen. Ek sou nie dit van LSD wou sê nie, want die gebruik van dwelms lyk vir my gevaarlik en gewoon onnosel.

Maar, as ‘n mens nou al hierdie dinge gedoen het, is die vraag: wat is nou mistiek daaraan? As ‘n mens goed konsentreer, gefokusd is, in stilte jou onttrek en allerhande tegnieke toepas, is jy eintlik nog net gereed vir meer – jy het nog nie aangekom waar jy wil wees nie. Al hierdie dinge is immers waardevol omdat hulle jou by ‘n sekere plek wil uitbring en in ‘n sekere ruimte wil laat leef. Maar wat is hierdie ruimte? En hoe lyk hierdie plek? En waartoe dan al hierdie tegnieke en metodes?

Die mistieke oomblik is wanneer ons in hierdie ruimte van heiligheid te staan kom en bewus raak van ‘n dieper dimensie wat ons in ons gewone lewens en in ons binneste nooit herken nie. Hier reik God van buite ons na ons uit, hier beleef ons die onpeilbare teenwoordigheid van die Ander, die Liefde wat, in die Christelike spiritualiteit, alle verstand te bowe gaan. En hierdie Liefde doen iets aan ons – dit reinig ons. Dit is nie ons liefde wat nou ‘n hoër vlak bereik nie. Ons ontvang ‘n vreemde Liefde, ‘n liefde wat “van Bo” af kom, ‘n liefde wat ons omkeer en verander.

In die Christelike mistiek is die weg van die mens na God alleen maar daar om uiteindelik God se koms na ons te ervaar. Die eindpunt van ons geestelike reis is juis dat ons van ons “ek” verlos word deurdat ons ontdek daar is meer as net ons eie ek. Die lewe is oor meer as net my volle potensiaal.

Dit het groot implikasies. As ons in afsondering ons voorberei op God se koms na ons, op die goddelike aanraking, bring dit ons in ‘n onherroeplike, onlosmaaklike verbintenis met die Ander. Ons kan nie meer vir onsself leef nie. En in die Christelike mistiek beteken hierdie gerigtheid op die ander in liefde dat ek sin vind juis in die weggee van myself.

Eintlik weet ons dit te goed – dat daar niks mistieks daaraan is om “meer” van onsself te ontdek nie.

Dit is beter om te gee, as om te ontvang, is woorde van Hom wat naby aan die Vader geleef het en na ons toe gekom het om ons verhouding met die Ontfermende een te herstel. En ons onderskat hoe diep hierdie woorde in ons psige gaan lê het. As ‘n mens in die gees van Christus ingebed is, is jou hart nie op jouself gerig nie.

Ons weet dit ook uit die liefdesweg van die vleesgeworde Christus. Jesus se aardse weg na God, sy soeke na God – in die woestyn, op die berg van verheerliking, in die tuin van Getsemane en diep-verlangend aan die kruis op Golgotha, was nie ‘n soeke na self-vervulling nie. Dit het ter wille van ons gebeur. En toe Hy uiteindelik in ere langs die Vader herstel is, vertel die Christelike tradisie ons, was ook hierdie ere-posisie op ons ingestel, op ons bekragtiging. Vanuit sy verheerlikte staat, hoor ons die Bybelverhaal sê, gee Hy opnuut weer vir ons die Heilige Gees van liefde sodat ons soos Hy kan uitreik in krag.

Ons het geen mag om hierdie ontmoeting met God te bewerkstellig nie. Dit word alleenlik maar aan ons geskenk. Geen tegniek, konsentrasie, geen dwelms of meditasie sal hierdie ontmoeting tot stand bring nie. Ons kan maar net wag daarop. Afhanklik, verlangend. Ons moet alleen maar gereed wees daarvoor, verlang daarna, bid daarvoor.

Ons is op heilige grond. Ons het buite ons bekende terrein beweeg, ons wêreld agtergelaat om deur God so gesuiwer en geheilig te word dat ons met ‘n totaal ander perspektief terugkeer en kyk na waar ons vandaan gekom het. Hier ontdek ons iets groters as onsself, Iemand buite en belangriker as ons. Ons word deel van ‘n goddelike verhouding.

Friday, August 14, 2009

Lewensvreugde

In ons prestasie-gedrewe wêreld met sy wen-kultuur soek ons gedurig na erkenning. Ons voel goed en bly wanneer ons beloon en geprys word omdat ons gepresteer het. En ons is hoogs misrabel wanneer ons nie deur ander raakgesien word nie. Soms kan vorme van erge depressie teruggevoer word op mense se gevoel dat hulle as minderwaardig beskou word en nie deur ander aanvaar word nie.

Die ironie is dat selfs mense wat hoog uitstyg, ook hulle misrabele tye het.

In spiritualiteit word ‘n totaal ander lewenshouding gekweek as hierdie sug na uiterlike erkenning. Die bekende spiritualiteitskrywers help ons om te verstaan waarom selfs die beroemdes en die rykes en die bestes onder ons nie noodwendig meer vreugde en vervulling as ander ervaar nie. En hulle help ons om agter te kom hoe ons egte vreugde selfs in die eenvoudigste tye van ons lewe kan ontdek.

Thomas a Kempis skryf in sy Navolging 2.6 oor die dinge wat ‘n mens egte vreugde gee. Dit is maar een perspektief wat ‘n mens vanuit spiritualiteit op vreugde kry. Tog is dit ‘n waardevolle les in die egte lewenskuns.

Wat ‘n mens werklik bly maak, skryf hy, is jou goeie gewete. ‘n Mens sal selfs in die donkerste tye van jou lewe innerlike rus ervaar as jy ‘n goeie gewete het.

En alle mense het maar hul donker tye. Vir sommige is dit as hulle nie erkenning kry nie of as hulle gekritisieer word.

Thomas dink hier oor Galasiërs 6:14 waar Paulus skryf: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” Volgens Paulus kan ‘n mens selfs in teenspoed roem, want dan roem ‘n mens in die kruis van Jesus. Wanneer ‘n mens wêreldse voordele prysgee of jou nie steur aan wat mense normaalweg as belangrik beskou nie, is daar tog nog goeie rede om te “roem.” Te midde van alles wat ‘n mens prysgee, is ‘n mens nog steeds by God en jou hart nog gerig op God se liefde.

Maar ‘n mens moet ook onthou dat vreugde wat van buite kom nie lank hou nie. Die lof wat ‘n mens van ander mense kry gee maar vir ‘n kort rukkie vir jou vreugde.

Egte vreugde, daarenteen, is vreugde in God. Wie bly is in God, voel vere vir tydelike dinge. Hulle is werklik “tydelik”, net vir ‘n tydjie, terwyl God ewig is. Om ‘n mens in tydelike dinge te verlekker, wys verder dat ‘n mens nie werklik vir God lief het nie. Thomas skryf dan, “Die mens ervaar groot vrede in die hart wanneer die lof of kritiek van ander mense nie regtig saak maak nie. Die mens met ‘n suiwer gewete is die mens wat maklik tevrede en gerus is.” Dan volg woorde wat my bybly: “’n Mens is nie heiliger as jy geprys word nie; jy is ook nie nutteloos omdat jy gekritiseer word nie... Woorde kan ‘n mens nie belangriker maak as wat ‘n mens reeds vir God is nie.”

In ons geestelike reis gee hierdie wete dat God liefdevol na ons uitreik omdat ons kosbaar is in God se oë egte vreugde. Ons kan geen groter erkenning kry as dit nie. God aanvaar ons volkome en graag. Uit hierdie verhouding met God vloei 'n lewensblyheid wat die lewe die moeite werd maak.

Thursday, August 13, 2009

Die Gees van Christus - oor die mistiek en konformiteit

Ek hou van die praktiese karakter van die mistiek. Daar is deur die eeue in mistieke tekste ‘n ondertoon van pastorale bewoëndheid wat my nog altyd aangespreek het. Die mistagogie as die geestelike begeleiding van gelowiges eerder as teologiese skoling van mense, is ‘n wesenskenmerk van die mistiek. Die praktyk van die mistiek is op lewenswysheid ingestel, op die lewenskuns, nie op serebrale bekgevegte nie. Dit gaan mos immers daarin om transformasie, om ‘n toewyding, om ‘n lewe van vernuwing. En die mistiek wil mense begelei om heel eenvouding en konkreet te leef.

Een van hierdie praktiese maniere wat ons in mistieke tekste, veral in tekste wat ‘n Christus-mistiek bepleit, raaklees is die fokus op gelykvormigheid/konformiteit aan Christus. Heel eenvoudig beteken dit dat ons hele lewe ingestel is op die vorm van die goddelike in die lewe van Christus.

Ek het meer hiervan gelees in Sushaku Endo se boek, Silence, oor die wrede vervolging van Christene in die vyftiende eeu in Japan (sien vorige blogs), wat tragies eindig. Die hoofkarakter in die boek, Rodrigues, word deur die verskriklike marteling van Christene gedwing om ook Christus te verloën. Sy lydensweg eindig in verraad wanneer hy gedwing word om op ‘n fumie, ‘n afbeelding van Christus se gesig te trap.

Endo skryf herhaaldelik in die boek oor Rodrigues wat Christus se gesig bly onthou en bly bedink in sy uiters moeilike omstandighede. Die gedagte aan Christus se gesig wat liefdevol na hom kyk, hou hom aan die gang. Dit is daarom feitlik ondenkbaar dat Rodrigues, wat innerlik so nou verbind is met die geliefde gelaat van Christus, uiteindelik daarop moet trap – dit maak die verraad soveel intenser. Die verskriklike oomblik van sy verraad beskryf Endo as volg: “The priest raises his foot. In it he feels a dull, heavy pain. This is no mere formality. He will now trample on what he has considered the most beautiful thing in his life, on what he has believed most pure, on what is filled with the ideals and the dreams of man.” Die gesig van Christus is die teken van iets diepers, van die mistieke, verborge dinge van God. Wie na Christus kyk, kyk dus eintlik diep in die hart van God, en daarmee ook diep in sy eie hart.

In die mistiek speel meditasie ‘n groot rol. Nadenke oor die Bybel, maar ook oor die dood (momenti mori) is byvoorbeeld belangrik. Thomas van Kempis skryf in die eerste hoofstuk van sy Navolging oor wat dit beteken om Jesus te volg: ons hoofdoel moet wees om te mediteer en na te dink oor die lewe van Jesus Christus. Dit is hoe ons die gees van Christus ontvang. Ons moet soek om in ooreenstemming met, of konform aan die lewe van Christus te wees.

Ek kan verstaan waarom Endo so geboeid is deur die gesig van Christus, veral as ‘n mens dit in die lig van Levinas se opmerkings bedink. Jou gesig gee jou weg. Jou kyk verraai jou. Jou lewe staan oor jou gelaat geskryf. Om Jesus se gesig te onthou, beteken vir Endo om absolute skoonheid te sien. Dit is ‘n gesig wat suiwer en rein is. In die gelaat van Christus sien ons die goddelike verlange na mense en na die wêreld. Ons herken in daardie oë die klop van ‘n liefdeshart. Ons sien in die stil voorkoms ‘n verwondbare Heiland. Ons herken God se “ideale” en “drome” vir ons.

Wanneer ons ons lewens inrig konform aan Christus, beteken dit dat ons onsself instel op wie hy is, op wat hy gedoen en gesê het. Ons moet leef in die gees van Christus (Rom.8:8). In ons spiritualiteit soek ons na ‘n intieme verhouding met Christus deurdat ons toelaat dat alles wat ons van Christus lees, ons gees binnedring en ons dryf om hom in liefde te volg. Dit is God se genade – dat ons so ‘n voorbeeld het. Hierdie Christus kom eers, dan word ons deur hom tot dissipelskap geroep. Deur gedurig naby aan Christus bly, deur in intieme dissipelskap met hom gelei te word om al die ydelhede van die wêreld op te gee, soos Thomas skryf, word ons deur God se genade oorweldig, gereinig, herstel en geheilig. Dit het niks met werksheiligheid te maak nie. Trouens, dit is ‘n oorweldigende genade gawe - ons kry Christus as gawe om soos Christus te word.

Ons kan die Bybel in groot heiligheid en prestasie-ywer baie lees, baie bepraat, baie bedink, maar as die Bybel nie die genade in ons uitstort nie en in ons die Gees van Christus bewerk nie, het ons dit vergeefs gelees.

Met Endo se boek het ek besef hoe totaal ‘n mens op Christus met al jou sintuie ingestel kan wees. Deur hierdie boek het die vleeswording vir my nuwe betekenis gekry het. God het die woord vlees laat word, sodat ons kan “sien” wie God in liefde is. Christus is die gesig van God se genade!

Wednesday, August 12, 2009

Weg van die kerk na ‘n nuwe toewyding....

Ek was nog altyd geïnteresseerd in die feit dat die Navolging van Christus wat so ‘n enorme invloed op die kerklike lewe gehad het, van alle plekke in Nederland geskryf is. Die skrywer was deel van ‘n taamlik onbekende deel van hierdie letterlike klein landjie. In hierdie deel was daar 'n paar sterk kleiner stede. Hulle word nie altyd raakgesien nie, want Amsterdam as wêreldstad met sy beroemde geskiedenis (die Here 17!) kry meestal al die aandag.

Hier in die deel van die land ontstaan ‘n godsdienstige herlewingsbeweging wat later sou uitloop op die groot reformasie van Luther en Calvyn. Dit het alles begin in ‘n paar kleinerige stede in die Ooste van Nederland.

Thomas A Kempis se Navolging van Christus kan nie verstaan word as ‘n mens nie die konteks waarin hy geleef het in ag neem nie (sien vorige blog). Dit geld veral vir die ekonomiese situasie van die Nederlandse area waar hy geleef en gewerk het. Daar was ‘n paar stede soos Kampen, Zwolle, Zutphen en Deventer wat sterk handelssentra was. Hulle was Hansa-stede, deel van die beroemde Hansa Konfederasie. Hierdie stede was nie naasteby so groot soos byvoorbeeld Amsterdam nie, maar hulle het internasionaal handel gedryf en het ekonomies vooruitgegaan. Daarbenewens was hulle mense wat hul onafhanklikheid nogal hoog geag het. Hulle het hulle nie maklik laat rond-order deur ander nie, wat ‘n mens van die kaaskoppe nogal nie verbaas nie.

In so ‘n situasie bly die geestelike lewe gewoonlik nie agter by die ekonomiese situasie nie. As ‘n mens handel dryf met ander lande, verkoop jy nie bloot hulle ware nie. Iewers word jy op baie ander fronte aan verskillende invloede blootgestel. Op die manier het byvoorbeeld baie geestelikes na die Hansa-stede gekom om vir die plaaslike mense te preek. Hulle het veral gehelp met die opvoeding van die plaaslike inwoners, maar was ook betrokke in maatskaplike opheffing van die armes.

Van hierdie werkers was veral bekommerd oor die geestelike toestand van die kerk. Hulle het sterk gevoel dat daar verandering in die kerk moes kom. Hulle het die kloosters gekritiseer oor die uitspattige lewenswyses, maar hulle wou ook dat die gewone mens ‘n geestelike verdieping ervaar. Bygelowigheid, onverskilligheid en geestelike oppervlakkigheid onder hulle tydgenote het hulle diep gekwel. Vir hulle was dit duidelik dat die tyd ryp was vir ‘n nuwe toewyding, vir wat ons vandag ‘n geestelike herlewing sou noem. Die kerk, het hulle gedink, het sy geestelike karakter kwytgeraak.

Hierdie nuwe beweging het bekend geword as die Nuwe Devosie / die Nuwe Toewyding. Hulle het veral gefokus op die praktiese geloofservaring. Hulle het veral godsdienstige getwis en intellektuele haarklowery afgewys. Vir hulle was die tradisionele praktiese Bybelse wysheid die hart van die geloofslewe. Daarom het hulle sterk klem gelê op die geestelike lees van die Bybel.

Dit is veral die fokus op die “gewone mens” wat my opval. Alles wat die priesters, monnike en geestelikes altyd moes gedoen het, het hulle geredeneer, moes die gewone mense ook kan ervaar. Hier word dikwels van die demokratisering van die geloofservaring gepraat. Die kerk gaan dus nie meer oor die hoge geestelikes nie, maar almal in die kerk moet geestelike groei en verdieping soek.

Die belangrike van al hierdie detail is dat Thomas A Kempis nie op sy eie gekom het tot die skryf van sy boek nie. Die skryf van die boek begin eintlik al voor sy tyd. Hy maak eintlik deel uit van die nuwe toewydinsgbeweging waaraan baie mense deel gehad het en waarin ‘n hartseer verhaal hom ontvou het. Hy skryf in ‘n tyd dat mense voel die kerk en teologie het hulle in die steek gelaat. Dit is ‘n treurige verhaal – hierdie wye gevoel van vervreemding onder kerklidmate. Die kerk wat die ruimte moet wees vir ‘n egte geloofsbelewing, het ‘n woestyn geword waar mense honger en dors na dieper dinge. En dit alles gebeur ook boonop kort nadat Thomas Aquinas sy hoogs geleerde teologie geskryf het. Die teoloë sou gesê het: al die antwoorde is dan daar! Vertel tog maar vir die mense meer teologie...

En tog, al die geleerdheid ten spyt, was die harte honger na ‘n nuwe toewyding, na nuwe vorme van geloofsbelewing.

Laat ‘n mens dink. Laat ‘n mens diep dink. Want die geskiedenis het die neiging om hom steeds te herhaal....

Tuesday, August 11, 2009

Vrye genade... Oor God se bevrydende aanraking

Ons het drie vroue gehad wat ‘n groot deel aan die huislike lewe van ons gesin gehad het. Hulle het die mees intieme dele van ons lewe raakgesien en beleef: wat of hoe ons eet, dra, waar ons slaap, hoe ons met mekaar praat, watter boeke ons lees, watter meubels ons aankoop, die skildery wat ons teen die mure hang, al ons sindelike en onsindelike gewoontes. Hulle het ons kinders gesien groot-word, skool toe gaan, uit die huis uit na die universiteit toe vertrek, om te trou en die nuwe kleintjies wat bykom.

Celia was ons laaste hulp en steun. Sy was ‘n groot vrou wat by tye swaar beweeg het. Maar sy het nooit ‘n enkele dag se werk gemis nie. Getrou en gereeld het sy opgedaag, al die pad van die township. Altyd dieselfde, betroubaar, vriendelik, stil, eintlik gedurig op die agtergrond. Sy was, soos baie ander van haar tyd en geslag, ‘n sterk vrou. Dit het mens die duidelikste gesien in die ywer waarmee sy op haar onaansienlike salaris haar kinders deur universiteit gehelp het.

Ons het haar gaan opsoek, later, nadat ons al weg was. En sy was die ou Celia, vriendelik, dankbaar, maar steeds nog stillerig en byna beskeie. Tog wou sy weet waar elkeen van die kinders was en hoe dit met hulle gaan. En sy was diep dankbaar en ondersteunend dat ons haar verder gehelp het en veral dat ons haar opgesoek het.

Nie dat alles die spreekwoordelike maanskyn en rose was nie. Celia het ons in die kombuis groot skade aangedoen. Ons koop nie juis blinkighede nie. Maar daar is ‘n paar items wat ons graag besit. Jy parkeer ‘n groot, duur motor in ‘n garage en daar staan die stuk metaal vir die meeste van die tyd totdat jy weer daarin ry, het ons geredeneer. Dus het ons maar altyd ‘n gevoel gehad ‘n mens moenie te onnodig aan daardie kant van die verbruikersmark spandeer nie, al leef jy ordentlik en met gemak. Ons reis eerder na verre lande, koop veeleer ‘n goeie boek wat jy oor dae lank geniet, woon ‘n goeie konsert by of koop ‘n mooi skildery wat jy teen die muur hang en elke keer as jy verbystap en dit raaksien, opnuut weer vreugde kan ervaar. Ons belê dus nie in die blinkighede nie, maar in dit wat mooi is en mooi maak.

Dit is die rede waarom ons ook ‘n goeie, lekker eetstel gekoop het. Duur, eintlik onvervangbaar, maar iets wat ons dikwels ‘n lekker aand saam met vriende en familie laat help beleef het.

Celia het oor die jare wat sy by ons gewerk het, dikwels juis hierdie stel uitgekies om ongelukke mee te maak. En, nogal, elke keer, het sy kom vertel, op haar stil manier, terwyl sy die stuk wys, dat sy ‘n ongeluk gehad het. Ten minste was sy openlik dat sy die skuldige was.

Nadat sy vir die soveelste keer ‘n stuk van die eetstel gebreek het, het ons diplomaties besluit dat sy voortaan nie met die opwas daarvan belas sal word nie. Maar toe was die skade al grootliks gedoen.


Ons het nooit eintlik iets daaroor gesê nie, behalwe miskien ‘n enkele keer dat sy meer versigtig moet wees. Ons het ons nooit gekwel oor hoe sy self oor haar ongelukkies gedink het nie. ‘n Ongeluk is in ons huis as ‘n ongeluk beskou en ons het nooit gedink iemand hoef daaroor groot skuldgevoelens rond te gedra het nie. Soms was daar wel ‘n vinnige woordjie teenoor kinders wat ‘n glas of bord breek geskel, maar altyd met die bedoeling dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle met eetware werk.

Die dag toe ons van Celia afskeid moes neem en die groot verhuising aangebreek het, het sy, stilweg, vir ons dankie gesê vir die jare se werk by ons. En toe een ding uitgesonder: dankie veral dat sy nooit uitgeskel is nie, ook nie toe sy die spesiale stel se stukke gebreek het nie.

Ek loop nog steeds, nou reeds jare later, rond met hierdie opmerking in my gedagtes. Dit bly by my. Miskien omdat ek toe begryp het hoe eergevoelig sy inderdaad was en waarom sy spesiaal kom vertel het, met die gebreekte stuk in haar hand, dat sy die skuldige was. Dit was vir haar net so ‘n kwessie dat daardie stukke gebreek het as wat dit vir ons ‘n skok was.

Wat kan ‘n mens nou tog alles skryf oor moontlike gedagtes wat in haar kop gemaal het. Maar wat my bybly, is dat sy dit uitgesonder het – dat sy dankbaar is dat sy nie verskel is nie.

Oor baie jare het ek myself afgevra waarom dit so ‘n indruk op my gemaak het – hierdie dankbaarheid dat sy nooit verkwalik is nie. Ek kan nie onthou dat ons haar ooit oor enige iets anders verkwalik het of met haar geraas het nie. Sy was vir ons ‘n teenwoordigheid in ons huis vir wie ons omgegee het, sodat daar nooit ‘n rede was om oor kleinighede en selfs die groot dinge kwaad te raak nie. Dalk was ons ook bedag daarop om in ons plek, in ons huis, niks van die neerbuigendheid van ons destydse apartheidsdenke te verdra nie.

Ek wonder soms in hoe mate daardie opmerking van Celia nie vir my help om God se genade te verstaan nie. Ek breek soms in my sondige onbeholpenheid die mooiste van mooi dinge in my lewe stukkend. Om dan te ontdek, wanneer ek voor God verskyn om verantwoording te doen, hoe God nie eers dink daaraan nie. As ek maar met die stukkendheid voor God gaan staan, met die stukkende dinge uit my lewe in my hande, innerlik sku en self stukkend oor die skandvlek wat ek in my lewe indra....


Hoe vry is God tog nie van verwyte nie – en daarom hoe oneindig groot in genade. En hoe vry maak God ons tog nie om ook genade te bewys nie. Soms sonder dat ons dit selfs besef. Ons leef so in God se genade, dat ons ‘n leefstyl van genade kry. En ons kan genade aan ander bewys omdat ons in hulle iets van onsself herken: Ons sien hulle naderhand uit God se hoek as ‘n mens wat feilbaar is, wat soms kosbare dinge stukkend breek, maar wat ook behoefte het aan vergifnis. ‘n Mens wat naby aan God se genade leef, wat dit opsoek, kan nie onaangeraak daardeur bly nie. Jy word self vol van genade en van wysheid. Soms besef jy dit nie eers nie...

Monday, August 10, 2009

Bybel-liefde

‘n Mens lees baie oor die gewildheid van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus. Dit was nie sy enigste publikasie nie. Hy het byna veertig boeke geskryf. Onder hulle was daar drie biografieë oor bekende figure uit die Nuwe Devosie (Geert Groote, Florens Nadewijn en St. Lydwine van Schiedam).

Maar dit was veral Thomas se liefde vir die Bybel wat sy lewe oorheers. Daar word baie stories oor sy toewyding vertel. Hoe hy tydens die dienste hom so ingeleef het in die voordrag van Bybeltekste dat hy regop op sy tone gestaan en Bybel lees het. Hy het hom vervies vir mense wat nie toegewyd en ernstig was in hulle lees van die Bybel nie, of wat verveeld met die inhoud daarvan was.

Eintlik was sy houding oor die algemeen oor boeke wat ophef, eerbiedig. As ‘n mens ‘n boek gelees het, het hy geskryf, maak jy dit toe en dank die Here vir elke woord wat jy kon lees. Dan plaas jy dit met eerbied vir die wysheid daarin op die rak en sorg dat dit op sy regte plek staan. Die Bybel veral moet 'n mens met innige toewyding hanteer want dit is die skat in die aarde wat jy raakgeploeg het.

Hy het ook die Bybel in vyf groot dele oorgeskryf en baie positief gepraat oor die praktyk om nuwe manuskripte van die Bybel te produseer.

Hy was ‘n diep gelowige mens wat in sy alledaagse omgang met die Bybel en sy praktiese vroomheid ‘n groot invloed op ander uitgeoefen het. Eintlik was hy ‘n boekwurm. Sy beroemde uitspraak was dat hy vrede net werklik kon vind as hy in sy kamer besig was om die Bybel te lees. Maar dit was veral sy daaglikse omgang met die Bybel wat hom beïnvloed het. Deurdat hy elke dag die Bybel biddend gelees het en daaroor nagedink het, het dit deel van sy murg en been geword.

Geen wonder dus dat mense daarop wys dat die Navolging vol van bybeltaal en verwysings is nie. Iemand wat uit die Bybel leef, is iemand wat ook uit die Bybel skryf. Sy lewe en die Navolging is die teken van sy liefde vir die Bybel wat die geloofspraktyk en die lewenskuns dryf.


Maar afgesien van wie hy was en wat hy geskryf het, is dit veral sy konteks wat interessant is. Thomas is in 1379 gebore, teen die einde van die veertiende eeu. In die vorige eeu het Thomas van Aquinas ‘n teologiese sisteem ontwerp wat ‘n blywende invloed op die teologie uitgeoefen het. Maar sy werk is spoedig hewig gekritiseer deur die bekende dispuut tussen Duns Scotus en William van Occam. Hulle het oor die kleinste detail hewig met mekaar verskil. Een van die groot punte van debat was oor die verhouding van die Bybel as Openbaring met die menslike rede. Al die fyn tegnologiese debatspunte het veroorsaak dat teologie meer en meer ‘n intellektuele saak geword het. Hoe ‘n mens die Bybel verstaan het die fokuspunt geword in plaas van hoe ‘n mens uit die Bybel leef. Bekgevegte oor geloof was aan die orde eerder as ‘n lewe uit die geloof.

Kontrasteer nou met hierdie intellektuele bedryf, die liefde vir die Woord soos dit gevoed is in die lectio divina as die geestelike lees van die Bybel. 'n Mens kan nie anders as om in Thomas se praktiese geloofslewe uit die Skrif 'n teen-reaksie raak te sien nie. Jy lees die Bybel nie om slimmighede op te dis nie, maar om jou geestelike te voed en te vul.

Thomas se konteks was ook ‘n tyd van vulgêre, populêre godsdienstige aktiwiteite, dikwels swaar gelaai met ‘n groot klomp bygeloof. Mense was baie godsdienstig, maar op ‘n onbeheersde, uitspattige manier. Origens was dit ‘n swaarmoedige tyd. Mense het ‘n diepe innerlike pessimisme beleef. Hulle het veel gemaak van die kruis. Die kerklike leiers was meer in politiek as in die kerk geÏnteresseerd. Hulle was geldgierig en het hulle godsdienstige verantwoordelikhede eenvoudig geïgnoreer of gering geskat. Die gewone mense wat dit raakgesien het, het eenvoudig die kerklike leiers geïgnoreer en op hul eie na ‘n innerlike vervulling gesoek. Allerhande vroom praktyke het vir mense belangrik geword eerder as die Bybel en ‘n lewe uit die geloof.

Wanneer ‘n mens die Navolging lees, ontdek jy in baie van Thomas se uitsprake hoe hy reageer op die moeilike omstandighede van sy tyd. Hy is 'n kind van sy tyd wat mense in hul verwarring wil bring om by die egte bron van ons geloofservaring te gaan drink en daar geestelike gevoed te word. Hy het sy hervormingsdrif by die Bybel gevind, luisterende in eerbied na God se helder stem vir die geloof.


'n Mens het nie genoeg plek om die baie ander belangrike kante van Thomas se Bybelse leefstyl te skryf nie. Maar as 'n mens eers gaan stilraak en jou eie omgewing begin bedink, is daar nogal stof tot nadenke. Ons leef in die tyd van die groot teologiese debatte. En hoe meer ons oor al die historiese en literere detail punte aanteken, hoe meer roer die vraag in jou binneste: nou, en....? Is dit regtig waarom dit gaan? Is ons besig om die Bybel so netjies uit mekaar te trek dat ons nie meer weet dat dit 'n geestelike boek is wat ons in verwondering en in verrukking bring wanneer ons hart in die lees daarvan oorgegee is?

Wat my laat dink aan Jesus se bekende woorde oor die wolwe wat die trop skape oppas: lei hulle, vra Jesus. Voed hulle. Tydige woorde. Vermink en verskeur ons geloof? Of verwonder ons ons oor God se spreke?

Blog Archive