Tuesday, November 30, 2010

Om die leë graf te sien, waarborg nog niks. Oor die liefde wat alles glo.


In die opstandingsverhaal in Johannes 20 is daar hierdie driedubbele vertelling:

1.     Eers gaan die geliefde dissipel tot by die leë graf, loer in die graf en sien die doeke lê.

2.     Petrus, die groot een, kom ná hom by die graf aan (vers 6). Hy gaan in die graf in en sien ook die doeke lê.

3.     Toe gaan die geliefde dissipel in die graf, waar Petrus ook was. Hierdie geliefde dissipel sien en – glo.

Johannes doen dus wat Petrus nie doen nie. Al wat hy sien is doeke en leegheid. En tog glo hy. Hy het op daardie oomblik geweet – Jesus is by God, hier is God aan die werk.  

As Johannes kon glo, sonder dat hy Jesus gesien het, waarom kon Petrus nie ook glo nie?  Hy het tog ook die leë graf gesien. Petrus het alles tog net so beleef.

Om die leë graf te sien, waarborg nog niks.Om al die feite tot jou beskikking te hê....

Miskien is daar tog ‘n diepe verborgenheid in die naam wat die skrywer van die evangelie vir homself toeëien: Hy is die “geliefde” dissipel.

Paulus het immers geskryf : die liefde glo alles....





Monday, November 29, 2010

Verbale diarree, groot praat, baie praat, ydel praat, leë gepraat.


Thomas a Kempis het in sy Navolging van Christus ‘n gedeelte (boek 1, hoofstuk 10) waar in hy skryf oor die oordaad van woorde in ons lewens.

Ons praat onnodig baie woorde. Ons sê nuttelose dinge. Ons praat so baie, maar sê so min. En ons praat oor die kleinste, nietigste dinge asof hulle diepe verborgenhede is.

‘n Mens sou dit nou kan ignoreer as dit nie was vir die gevolge daarvan nie. As ons oor so baie dinge so eindeloos praat, hou dit ons terug in ons geestelike reis. Maar deur so baie oor nietige dinge te praat, dring die nietige, nuttelose dinge ons lewe in en word vir ons belangriker as wat hulle werklik is. Dit gebeur selfs dat ons deur al ons gepraat nie meer opreg is nie en langsamerhand ook so bietjie met die waarheid knoei.

Eintlik kan ‘n mens verstaan waarom mense graag eindeloos wil praat. Deur te praat, deel ons ons sorge met ander en word ons nie daardeur in eensaamheid oorweldig nie.

‘n Mens kan dus so bietjie verstaan waarom mense dikwels ‘n klomp woorde uitryg en aanmekaar praat. Maar tog moet ‘n mens bedag wees op die gevolge van al ons gepraat. Thomas is akuut bewus daarvan dat al ons gepraat handel oor dinge wat verganklik is en wat eindelik nie al ons aandag vra nie. Ons woorde loop op niks uit nie. Buitendien trek sulke kleinlike gedagtes ons aandag af van wat werklik saak maak. Dit is woorde wat al die groot dinge, die liefde van God, die onverganglike dinge, die lewe wat werklik die moeite werd is miskyk. Hoe meer ons praat, hoe minder rigting is daar in ons lewe.

Wat vra Thomas dan van die mens? Heel te verwagte is dat hy aanraai dat ‘n mens stilte en gebed opsoek. Deur stil te raak, ons woorde te tel en ons toe te spits op wat regtig saak maak, sal ons met groter vreugde lewe. Deur te bid, bring ons ons tye van stilte na God, wat al ons woorde transendeer. As ons tot God bid, kom al ons baie woorde gou tot ‘n einde. Maar, help Thomas die mens verder, as jy dan moet praat, praat opbouend. En, uiteindelik, kan ‘n mens jou woorde ook tem wanneer jy met mense soos jy ‘n geestelike gesprek voer oor geestelike onderwerpe.

Spiritualiteit wil dus ook aandag gee aan soberheid met woorde, frugaliteit in al ons gepraat. Dit wil inspireer om te praat oor wat belangrik is, wat die geestelike reis nie stuit nie, wat opbou, nader aan God bring.

Sunday, November 28, 2010

God in die natuur?


Ellens, in sy boek Understanding Religious Experiences, What the Bible says about Spirituality (2008), skryf oor Abraham wat vlug uit die stede van sy tyd omdat hulle plekke was waar afgodery algemeen was. Dit lyk uit die Bybel of Abraham naaste in die natuur aan God gevoel het.

Ellens skryf dan: “Ek self glo nie dat ‘n mens nader aan God in die natuur is nie. Die natuur kan gemeen wees. En ook gevaarlik. Die eerste kans wat die natuur kry, sal dit jou byt waar jy nie gebyt wil word nie.” Ellens weet – hy is op ‘n plaas gebore en op die plaas het hy die harde kante van die natuur leer ken. Hy voel, borduur hy voort op hierdie gedagtes, trouens, nader aan God in ‘n gesofistikeerde, moderne stad waar geriewe en gemak in plek is. Vars water, sanitasie, geteerde strate, goeie uiteetplekke, goed toegeruste kruidenierswinkels, uitstekende skole en vele ander aspekte maak ‘n stad ‘n plek waar ‘n mens ‘n goeie bestaan kan voer.

Na hierdie tussen-opmerking gaan Ellens terug na sy bespreking van Abraham. Vir hom is Abraham ‘n deurslaggewende figuur in die geskiedenis omdat hy op sy pelgrimstog, weg van die stede en afgodery, begin begryp het dat ‘n mens alleen maar die genade van God nodig het. Nie die natuur nie, maar God se roeping was die eintlike sin van sy godsdiens. Om die waarheid te sê, selfs die pelgrimstog tel nie. Wat tel is om saam met God op reis te wees, om agter God aan te reis. God spel ons bestemming uit. Ons val daarby in. En dit gee aan ons lewe inhoud.

Ek lees Ellens se paragraaf oor die natuur wat maar ‘n gemene plek kan wees, met belangstelling – veral in ons tyd waarin mense die natuur romantiseer en dikwels vertel hoe hulle God meer in die natuur as in die kerk ontdek.

En, besef ek, eintlik is dit goed om so ‘n stereotipe oor God wat so lieflik in die natuur beleef word, bevraagteken te kry.

 Dit is, by nadenke, eintlik waar. God kan ook in die stad, of vandag, juis in die stad beleef word: mense sal vir jou vertel dat hulle in die stad, in ‘n kerk, met ‘n diens, tydens ‘n lied of ‘n preke of die bediening van die doop, vir God op ‘n spesiale manier ervaar.

Daar is nie ‘n plek op aarde waar God nie met ons kan wandel nie.

In hierdie dae werk ek aan Handelinge. Onlangs het ek Handeling 17 gelees waarin Paulus vertel dat God nie in mensgemaakte plekke bly nie. Paulus wou eintlik onderstreep dat God nie vasgevang kan word in heidense afgodsbeelde nie. Daarmee het hy die enorme afgodery in Atene bevraagteken en verwerp. God is nie goud of silwer, of in klip of in hout nie, vertel hy aan sy tydgenote – die slim filosowe in Atene.

Mutatis mutandis geld dit natuurlik ook vir die natuur. God kan nie in die natuur vasgevang word nie. God, vertel die mistici ons, is juis so totaal anders as alles wat ons in ons konkrete ervaringe kan voorstel. God is die skepper wat die natuur gemaak het.

Maar, vertel Paulus, God is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Ons reis nêrens en nooit sonder dat ons nie op een of ander manier van God se teenwoordigheid bewus gemaak word nie.


Saturday, November 27, 2010

Hemelse en aardse wysheid. Oor die inhoud van spiritualiteit

Jakobus is die boek van lewenswysheid. Die wyse en verstandige mens wys uit sy goeie lewenswandel sy “sagmoedige wysheid” skryf Jakobus in 3:13. Dit is ‘n wysheid wat van “bo” kom. Hier is ‘n lysie van geestelike kenmerke wat Jakobus aan hierdie hemelse, geestelike lewenswysheid toeken: dit is

  1. rein, (sonder bybedoelings, pure)
  2. vredeliewend, (vredeliewend; peace-loving)
  3. vriendelik, (inskiklik; considerate)
  4. geseglik, (bedagsaam; submissive)
  5. vol barmhartigheid (vol medelye; full of mercy)
  6. en goeie vrugte, (goeie vrugte; good fruit)
  7. onpartydig (onpartydig; impartial)
  8. ongeveins (opreg; sincere)

Ek lees die Griekse teks en merk hoe die vertalers bietjie sukkel om hierdie geestelike eienskappe te vertaal. Ons moderne woordeskat gee nie maklik ekwivalente hiervoor aan nie. Sê dit iets van wie ons is as ons taal hierdie geestelike inhoude nie meer sommer vinnig kan vasvang nie?

Teenoor die goeie lewenswandel teken Jakobus die “aardse, natuurlike, duiwelse wysheid (aards, sinlik, demonies).” Die NIV vertaal dit as “earthly, unspiritual, from the devil.” Sulke wysheid kom nie “van bo” nie, is ‘n teken van ‘n gebrek aan spiritualiteit.

Maar kyk nou die kenmerke van hierdie aardse lewe: bittere afguns en selfsug (vers 13). In vers 16 kom Jakobus weer daarop terug. Hy wil beklemtoon hoe sleg naywer en selfsug is deur dit te herhaal. Twee keer, dus, verwys Jakobus na selfsug as ‘n kenmerk van ‘n aardse, ongeestelike lewensstyl. En elke keer verbind hy dit met naywer.

Meer nog, hy spel die gevolge uit: waar daar naywer en selfsug is, daar volg wanorde en gemene dade.

Ek sou graag baie meer wil lees oor die geestelike inhoude wat Jakobus met die goddelike lewensweg verbind. Ons praat baie oor spiritualiteit as ‘n proses waarin die mens toenemend deur God omvorm word. Die is die vorm wat eie is aan spiritualiteit: God raak die mens aan, omvorm die mens en neem die mens op ‘n lewensreis.

Maar wat beteken dit nou alles prakties? Wat neem God uit mense se lewens weg en waartoe vorm God die mens? Hoe wil God hê moet ons lyk?

Hoe lyk spiritualiteit inhoudelik? Wat is die materiële inhoude daarvan?

Net uit Jakobus se lys blyk hoe omvattend God se wil en wens vir die geestelike lewensweg is. Net uit die paar verse duik ‘n klein, ryk konfigurasie van trekke op: Vriendelikheid, bedagsaamheid, opregtheid, ontferming, vredeliewendheid.

Ek lees dit en vra – hoe dikwels praat en preek ons hieroor? En hoe vriendelik is die kerk, hoe bedagsaam die gemeente, hoe opreg die predikant en hoe vol medelye die gemeentelede?

En dan lyk dit of Jakobus heel ingrypend fokus as dit by die negatiewe kom: teenoor al die ryk eienskappe van die geestelike lewe fokus hy veral op twee negatiewe, ongeestelike trekke. En hul lyk nogal na mekaar: naywer en selfsug. Waar hulle voorkom, val dinge uitmekaar, is daar wanorde. Waar mense jaloers en selfgerigd leef, daar volg gemene dade.

Spiritualiteit, is soos Geyser dit in sy voorwoord tot sy vertaling van Thomas a Kempis se Navolging van Christus stel, die Christelike lewenskuns. Die mens word deur God aangeraak om soos ‘n kunstenaar aan sy lewe nuwe vorm te gee. En een van die vertrekpunte vir hierdie skeppingstog is om selfsug kwyt te raak – om vir die Ander te leef. Vir Jakobus is dit deel van die kern van spiritualiteit.

'n Mistieke ervaring maak nog nie van iemand 'n mistikus nie.

Die behoefte aan godsdiens is universeel. Alle mense het op een of ander stadium ‘n begeerte na iets gewyds. Selfs by ateïste, skryf die Belgiese ateïs, Leon Apostel, word godsdienstige ervarings nie uitgesluit nie. Die kerke kan nie godsdienstige ervaringe monopoliseer asof dit aan hulle behoort nie. En baie mense, in en buite die kerk ervaar dan ook by tye sulke spesiale oomblikke.

Leon Apostel skryf dat mense by tye ‘n behoefte het om alleen of saam met mekaar terug te staan van alles wat hulle gewone lewe besig hou om in stilte, besinning, rus en oorgawe kontak te soek met die hele werklikheid en met sy grondslae. Selfs ‘n ongelowige mens kan hierdie behoefte hê. En dikwels gebeur dit ook dat mense iets ongewoons ondervind - iets wat anders is, wat verskil van hul alledaagse belewenisse.

Die gedagte het my onwillekeurig laat dink aan die baie algemene beskrywing van spiritualiteit wat Sandra Schneiders gee voordat sy uitkom by wat Christelike spiritualiteit is. Spiritualiteit is ‘n ervaring dat ‘n mens bewustelik deel het aan ‘n integrasie-proses. Alles wat ‘n mens doen word bymekaar uitgebring en bekyk in terme van ‘n hoogste waarde. Dit is dus die oomblik van ontdekking. Maar daar is meer: ‘n Mens gee jouself bewustelik oor aan hierdie soeke na die hoogste waarde. Met ander woorde: jy ontdek hoedat jy deel is van ‘n gefragmenteerde, onrustige bestaan en jy kyk met nuwe, ander oë na alles wat jou lewe so onvervuld volmaak. Dit maak in ‘n mens die verlange na volwassenheid, na geïntegreerdheid, na gesond-wees, van volmaak-wees wakker. Jy verlang na dit wat al die los dele van jou lewe bymekaar kan bring, wat vir jou help om met 'n gemoed vol rus sin raak te sien en te ervaar. En dan word jy deel van 'n hele lang proses dieper delf, dieper ervaar.

In Christelike spiritualiteit is God hierdie hoogste werklikheid wat die lewe sinvol integreer. Die geestelike mens ontdek vele gesigte van God - in Jesus, in die Gees en in al die genadegawes vir die mens. Dit is hierdie God waarna ‘n mens met die diepste oortuiging verlang. Alles wat ‘n mens ervaar, die totale werklikheid word in die lig van hierdie Christelike perspektief beleef. ‘n Mens transendeer jouself, kyk verby jou eie lewe en sien alles in die lig van die groter geheel, van God se verhouding met die wêreld en mens. As 'n mens tog net by God kan wees, sal alles wat so deurmekaar en onhanteerbaar lyk, bymekaar kom. Om by God te wees, is dan genoeg. 'n Mens het nie behoefte aan al die los gebrokenhede wat soveel geraas in jou wakker maak nie.

Hierdie insigte raak in ‘n sekere sin selfsug aan. Die geestelike mens kan nie in homself die finale antwoord op sy geestelike verlange vind nie. Hy of sy moet altyd verby homself na iets groters kyk. Die geestelike mens besef dat daar méér is as net die gejaag van die dag. Verby ‘n mens se gejaagde lewe, moet daar stille rus wees, moet daar vrede te vind wees in die Grotere, die Verborgene.

Dit gaan dus om ‘n verhouding wat jou self transendeer.

Baie, baie mense het mistieke ervaringe. Elke mens het een of ander tyd ‘n oomblik wat hy of sy besef dat daar meer aan die lewe is as wat ‘n mens se daaglikse, gewone ervaringe te kenne wil gee.

Maar, skryf Baers, dit maak nog nie van iemand ‘n mistikus nie. ‘n Mistikus is iemand wat ‘n spesiale oomblik nie laat verdwyn nie. Hy of sy hou vas aan daardie ervaring, ondersoek dit, bedink dit en wil daarmee saam leef.

Dit is soos die tien melaatses waarvan Lukas 17:11-19 praat. Nege het die pad gevat en nooit weer teruggekyk nie. Die een, die dankbare een, het teruggekom na Jesus. Hy het besef dat daar met hom iets gebeur het wat sy lewe onherroeplik omgekeer het en hom in 'n nuwe rigting intrek het. Die oomblik wat hy, saam met die ander nege beleef het, die oomblik waarin hulle hul verlange na ontferming vervuld gesien het (vers13), was vir hom transformerend. Hy het Jesus gehoorsaam en homself aan die priesters loop wys - maar toe hy gesond was, het hy teruggekom om voor Jesus se voete neer te val en - God te dank. Hy het besef dat die oomblik van ontferming verstaan moet word as God se aanraking.

Al daardie klein, kort oomblikke in ons lewe wat vir ons van die diepere dinge ‘n kykie gee, word deur ‘n geestelike mens herkou. Die oomblikke word transformerend – dit bring ‘n nuwe lewenswyse tot stand. 

Daar is min, min wat hierdie geestelike reis aanpak. Onder die tien melaatses was daar nie een van Jesus se tydgenote nie. Nie een nie. Hulle het selfsugtig koers in hul ou lewe ingeslaan. 

Die enigste een van daardie groep wat op so 'n mistieke manier deur God getransformeer is, wat God geprys het, was, helaas, 'n Samaritaan. Hy kon nie meer die ou dinge voortsit asof alles maar net dieselfde is nie.

Friday, November 26, 2010

Selfsug en nederigheid.

Filippense 2:3 het ‘n uitdruklike verwysing na selfsug. Paulus skryf:  Moet niks uit selfsug of eersug doen nie…

Selfsug staan langs eersug. In die ou vertaling is dit “ydele eer.” Of, in die Grieks “leë” eer.  In albei selfsug en eersug is die gerigtheid van ‘n mens se lewe op jouself, op watter voordeel jy kan trek uit alles om jou.  Selfsug is om uitsluitlik vir jouself te leef.

Die onderliggende dryfkrag van selfsug is die bekende incurvatum in se, die self-ingekeerdheid. Jy is vir jouself die mooiste mens, die sentrum van die heelal, die kroon van God se skepping – eintlik goed genoeg om God te wees. Dit is die oersonde: die mens gryp na God se rol.  Skepping en skepsel wil God as Skepper se plek inneem. Dit is die groot hoogmoedsgreep van die Sataniese. In Openbaring is die vyande van God so boos omdat hulle vir hulleself aanbidding opeis en aanbidders van God verlei om ander gode te volg (Openbaring 12-13). Die draak vermom homself as God, die eerste dier vermom homself as ‘n Christus (hy het ‘n wond), en die tweede dier is ‘n vals profeet – hy boots die Heilige Gees na.  Die bose word gejaag deur die passie om God te onttroon.

Paulus verstaan dit te goed: die mens wil in ydelheid God wees. Maar Paulus gaan nog verder. Hy spel in Filippense, die vreugdebrief, vir sy lesers ‘n nog dieper insig uit. Die mens kan nooit God se rol oorneem nie. Maar ook kan die mens nooit ten koste van ander mense leef nie. Daarom is die teendeel van selfsug en ydele eer vir Paulus: Maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Vergelyk nou hiermee ons daaglikse praktyk: in ons gebroke samelewings is dit ‘n keiharde stryd waarin die een die ander min, indien nie niks, gun nie.

Die Ander een is egter in ‘n gelowige konteks belangriker. Die Ander kom eerste.  Ander mense word deur die gelowige mens hoog geag en hoog vereer. Paulus spel dit so helder uit in vers 4: “Julle moenie elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.”

Die daaglikse praktyk leer dit tog vir ons: ons kan nie ander mense beheer en stuur nie.  Mense kan nie die skepping bestier nie, vir God beslis ook nie. Trouens, nugterheid sal my leer dat ek nie eers in beheer van my eie lewe is nie.

Selfsug kan dus beter verstaan word deur dit te vergelyk met ‘n teenoorgestelde geestelike houding van nederigheid en erkentlikheid.

Dit het ek dikwels gesien: onselfsugtige mense, aantreklike mense, mense wie se lewe diep in God geanker is, is nederige mense wat gedurig vriendelik, bedagsaam en erkentlik teenoor ander is. Hulle sal hul eie belange steeds ondergeskik stel aan ander mense s’n.

Filippense 2 is tog ‘n merkwaardige spirituele teks. Want as Paulus die hoofstuk begin, paat hy oor Christus, troos, die liefde, gemeenskap van die Gees, innige teerheid en ontferming, eensgesindheid, dieselfde liefde, een van siel en sin (Fil.2:1-2).  Kyk net hou word in hierdie eerste verse godsdienstige en teologiese begrippe in ‘n geestelike ervaring ingetrek: Christus “troos”, liefde “spoor aan”, die Gees bring gemeenskap, rig koinonia op. En kyk net na sy geestelike begrippe van “innige meegevoel” en “meelewing”.  En let op hoe hy in vers 2 sy lys van geestelike waardes afsluit met “een in liefde, een van hart, een in strewe.” Dit is die taal van spiritualiteit – van mense wat in ‘n verhouding met God staan en in ‘n verhouding met ander ingetrek word, wat verander, getransformeer word, gedurig steeds in ‘n proses.  Verbind aan Christus, een en eens met ander, in die diepste en mees intieme lewenssfere – dit is waaroor geloofservaring gaan.

Maar dit is net die begin. Paulus spit maar nog net die aarde om vir wat volg. Hy, gesoute skrywer, is met sy dialogiese denke in gesprek met sy lesers. Hulle sou kon sê: Hierdie geestelike houdings en waardes waartoe hy oproep, klink mooi.  Baie mooi. Ons hou daarvan en ons geniet dit.

Maar Paulus weet die saak moet beklink word. As ons dan nie altyd verstaan uit die gewone lewe hoe onmoontlik dit is om net vir onsself te lewe nie en hoe ons ander nodig het nie, kom ons kyk dan bietjie dieper. Die geestelike gesindheid wat hy bepleit, vervolg hy dan, het diep wortels wat dit baie meer as net ‘n saak van skoonheid maak. 

Hy neem dan ‘n ou lied in die kerk oor: Filppense 2:5-11 is ‘n Christushimne wat Paulus uit die liturgiese tradisie van die gelowige gemeentes oorneem. Keer op keer het hulle dit gesing. En daarmee vir hulleself ingeanker in die gesindheid van Christus (The Mind of Christ). Ons weet tog hoe dit wat ons sing ons leef vorm en stuur. En die kerk het Christus se selflose, opofferende liefde besing om daarmee ingetrek te word in die wese van die goddelike lewe.

Hoor my lied, skryf Paulus. En vertel dan van Christus, wat hoog, aan God gelyk was. En tog, het hy hom, soos mense sou sê: “verneder.” Hy het “slaaf” geword. Aan mense gelyk - so laag het Hy gedaal. Hy het nie aan sy goddelikheid vasgeklou nie. Twee keer ondersteep Paulus hoe Christus homself verneder het.

God is só: onselfsugtig, nederig, terwyl God die belange van die ander hoër ag.  Dit is dus nie net ‘n mooi saak nie. Dit is die hart van godsdiens wat hier ter sprake is.  Want as God só is, is dit ‘n krag wat in die lewe van mense na vore wil beur. As 'n mens uit niks anders wil leer nie, leer dan tog ten minste van God.

Laat dit toe, laat dit toe – moedig Paulus aan. Maak my bly, so bly.

Filippense is die vreugdesbrief wat Paulus aan sy vriende geskryf het om vir hulle as mistagoog te laat ervaar hoeveel oneindige vryheid en vreugde daar is in self-prysgawe. 

Hoe kan dit dan ook anders wees as dat 'n mens stil raak by die lees van Filippense 2. Hier is egte spiritualiteit.



Blog Archive