Tuesday, July 31, 2012

Die kuns om elke oomblik voluit te leef.



Ons is meestal vreemdelinge in ons plek en in ons tyd. Ons kuier by ‘n plek sonder om regtig die plek te ervaar. 

Eintlik is ons nog waar ons die vorige paar uur was, vasgevang in die verlede. Of ons is al weer op pad na die volgende plek.

Op die manier is ons gedurig afwesig van waar ons eintlik is. Ons leef nie voluit vir die oomblik van die hier en nou nie. Ons is nie regtig aanwesig in die hede nie.Tyd glip deur ons vingers en die lewe word 'n blikkerige geraas.

Dit vra van ons opoffering om voluit te kan leef: ons moet al die gedagtes wat ons dryf en voortjaag eenvoudig afsny sodat dit nie ons ervaring van die oomblik vernietig nie. En ons moet ook die suigkrag van ons kommer oor die toekoms kan teenstaan sodat dit ons nie uit die hede wegvat nie.

Jesus het ons geleer hoe futiel bekommernis is. Die dag van môre het genoeg aan sy eie kwaad. Die voëltjies rinkink en fluit en vlieg rond om kos te kry en nessies te maak. Hulle het geen sorge nie. Hulle word versorg.

Dit vra alles van ons om te kan aandag gee: nie aan die verlede nie, ook nie aan môre se dinge nie. 

Die dag, die uur, die minuut waarin ons nou is, is kosbaar, onvervangbaar, kom nooit weer terug nie – en met daarom geproe word soos wat ‘n mens ‘n kosbare stukkie sjokolade op jou tong laat wegsmelt.

Dit is ‘n lewenskuns: om vir elke oomblik voluit te leef.



Monday, July 30, 2012

Die rykdom van ons herinneringe. Oor 'n eerste stap in die geestelike oefening van stil-word


Daar is goeie rede’s waarom enige tyd van stilte en afsondering sinvol by herinneringe en nadenke oor ‘n mens se lewe begin.

‘n Tyd van innerlike vernuwing word dikwels geblokkeer deur pynlike herinneringe wat bewustelik of onbewustelik by ‘n mens bly leef. Herinneringe aan slegte tye, teenspoed, mishandeling, vernedering, swaarkry of siekte kan ‘n mens se verhouding met God aantas sonder dat ‘n mens dit besef.

Dikwels begin ‘n mens ‘n nuwe pad loop deur juis sulke herinneringe doelbewus op te roep, te konfronteer en dan te verwerk. Deur oor die verlede na te dink kry sommige mense ‘n spesiale gawe om te besef dat God in alles wat met hulle gebeur het, tog teenwoordig was en uitkoms gebied het.

Soms laat ‘n mens se gedagtes oor die verlede jou besef hoe jou geskiedenis gevul is met ‘n magdom van mense wat jou lewe ryk gelaat het.  En, as ‘n mens skerper daaroor nadink, kan ‘n mens byvoorbeeld besef hoedat jou lewe te veel beïnvloed is deur wat ander mense van jou gesê het. Of ‘n mens kan tot die insig kom dat jy te min aandag aan jouself gegee het en jou geestelike behoeftes verwaarloos het.

Nog ‘n moontlike reaksie by herinneringe oor die velede is dat ‘n mens kan besef hoe vinnig alles verbygaan, hoe kort en verganklik die lewe is. Dit weer, kan ‘n mens opnuut laat insien hoe kosbaar dit is om oor die belangriker, ewige dinge na te dink.

Of iemand anders kan by die refleksie oor sy of haar lewensloop skielik begryp hoe wonderlik dit is om gesond te kan wees, om aktief te kan wees, om aan sport deel te neem, om nie siek te wees nie en om te kan reis na mooi en interessante plekke.

Nog ‘n respons is dat ‘n mens verstaan dat sekere dinge onherroeplik verby is, dat jy niks daaraan kan verander nie en dat ‘n mens genade moet kry om sulke finale, onomkeerbare momente uit jou lewe aan God op te dra en nie as ‘n las met jou saam te dra nie.

Op baie manier kan ‘n mens oor die lewe nadink. Daarom is ‘n eerste, belangrike stap in die proses van stil-word om vir ‘n paar dae lank oor jou geestelike reis in die verlede na te dink en te bly delf om te kan ervaar wat die gang van jou lewe was. Hierdie eerste, belangrike stap stel ‘n mens in op die dieper, belangriker dinge: op die geestelike dimensie van jou gewone lewe.

Sunday, July 29, 2012

Tydloos die nabyheid van God


Asaf deel in Psalm 73 sy innerlike gevoelens oor die oënskynlike voorspoed van mense wat geen ag op God slaan nie en sy eie gevoelens van verontregting en bitterheid oor sy eie teenspoed.

So skryf hy:

Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, 22 was ek dom en sonder insig; soos 'n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23 Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24 U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. 25 Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.  26  Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.

Hy ervaar afstand, verwydering en skeiding van God, gebore uit sy gevoelens van frustrasie.

Maar dan kom daar die tydlose wending: “Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand” (vers 21);

God tree steeds weer anders op as die verbitterde mens. Hierdie goddelike ontferming en liefde tel uiteindelik die meeste. En, dan herhaal Asaf twee keer hoe belangrik en intieme sy verhouding met God is: Niks is belangrikers as God vir hom nie. Aan God behoort hy vir altyd.

Tydloos.

Saturday, July 28, 2012

Gasvryheid

Henri Nouwen skryf die volgende dagstuk (Mei):

Elke egte verhouding tussen twee of meer mense – of dit nou vriendskap, 'n huwelik, of  ’n groep is – skep ’n ruim­te waar vreemdes kan ingaan en vriende kan word.  

Egte verhoudinge is gasvry. 

As ons 'n huis binnegaan en daar gul verwelkom word, ontdek ons gou dat daar liefde heers  onder die mense wat daar woon. Dit is dié liefde wat hierdie verwelkoming moontlik maak. 

Wanneer daar konflik in die huis is, word die gas gou gedwing om kant te kies.  “Is jy vir haar of vir hom?”  “Stem jy met hulle of met ons saam?” “Hou jy meer van hom as van my?” 

Hierdie vrae staan in die pad van egte gasvryheid, dit wil sê ’n geleentheid vir die besoeker om veilig te voel en sy of haar eie gawes te ontdek.

Gasvryheid is meer as net ’n teken van liefde teenoor 'n vreemdeling. Dit is ook en veral ’n uitdrukking van liefde tussen hulle wat die gaste verwelkom.

Thursday, July 26, 2012

Herinnering as die begin van geestelike oefening



Geestelike groei is een van die drie belangrike pilare van spiritualiteit. Dit is byna vanselfsprekend mooi: ‘n mens soek immers gedurig daarna om meer volwasse te raak. Die verlange om mens te word wat met ewewig, balans, rypheid en insig die geestelike weg te loop, is sterk.

In werklikheid is die proses ‘n uitdaging. Want dit is ‘n proses wat inspanning en toewyding vra. Daarom is dit ‘n saak van geestelike oefening.

Maar waar sal ‘n mens aan hierdie proses begin?

In die tradisie van spiritualiteit wil vele mense die proses by ‘n mens self laat begin.

Daarom wil vele mense begin by herinneringe. Dit word dan ‘n eerste geestelike oefening, aan die begin van die geestelike reis, dat ‘n mens jou gedagtes op ‘n rytjie sit.

Dit kan ‘n ryk ervaring word om vir ‘n paar dae lank net na te dink oor ‘n mens se lewe van die vroegse tye af en vandaar al die belangrike lewensfases wat ‘n mens deurloop het. Sekere dinge sal onmiddellik na vore kom as groot, belangrike momente en draaipunte. Party hiervan sal wonderlike gevoelens by ‘n mens wakker maak. Ander sal dalk pyn en seerkry, selfs verwyte na vore laat kom. Sommige mense vertel dat hulle soms min van sekere tye in hul verlede kan onthou. Maar steeds weer sal ‘n mens kan terugkyk op ‘n lewenspad met verbasend baie ervaringe.

Soms is dit goed om hierdie oefening skriftelik te doen. Dan word dit byna ‘n dagboek waarin ‘n mens eie, intieme ervarings te boek stel. Dan kan ‘n mens stadiger, deegliker en van alle kante af hierdie dinge uit die verlede bedink.  

Dit is nie iets wat ‘n mens sommer in ‘n uurtjie doen nie. Stadig, versigtig, nadenkend en eerlik doen ‘n mens hierdie oefening oor verskeie dae heen. Sommige mense dink dit is iets wat ‘n mens oor ‘n week moet doen.

Dit word ‘n tyd dat ‘n mens patrone herken, sien hoeveel mense jou lewe beïnvloed en verryk het en, veral, waar in ‘n mens se lewe die Here aan die werk was of ‘n mens se eiewilligheid jou lewe vervorm het. Dit word ‘n tyd waarin ‘n mens bereken wat alles in jou lewe jou gevorm het. Die lewensreis kan met groter volwassenheid afgelê word wanneer ‘n mens ‘n deeglike insig in jouself het.

Waar ‘n mens met hierdie geestelike oefening besig is, gebeur dit nie altyd noodwendig dat ‘n mens dankbaarheid ervaar nie. Maar dankbaarheid is ook nie iets wat vanself kom nie. Dit moet soms gesoek word. En waar meer gepas as by die oorskouing van ‘n mens se lewe?

Daarom is dit ‘n deel van hierdie geestelike oefening om dankbaar teenoor die Gewer en Behoeder van ons lewe te wees. Doelbewus en berekend, aan die einde van elke dag, nadat ‘n mens bestek opgeneem het van jou lewenspad, bring ‘n mens dankbaar hulde aan God wat saam met ‘n mens die pad geloop het.

Om terug te kyk, oor die pad waarlangs ‘n mens se lewe geloop het, word dan ‘n geleetheid tot ‘n lewensles: met dieper insig in ‘n mens se eie lewe, met nuwe oordeel oor wie ‘n mens is en waarvandaan ‘n mens gekom het, kan die pad vorentoe aangepak word.

Blog Archive