Dit
is die eerste teken dat iemand min weet van spiritualiteit en mistiek wanneer
hulle met groot insig vertel dat dit te veel op die mens se geestelike belewing
ingestel is, dus te individualisties is en daarom verval in persoonlike
vroomheid.
Ek
kry altyd ‘n sinkende gevoel as ek sulke kritiek lees.
Want
dan weet jy jy moet maar weer heel aan die begin begin. Jy praat met iemand wat
min verstaan van spiritualiteit as ‘n beweging en ‘n dissipline wat teruggaan
tot op die wortels van die Christendom, te doen het met die hart van
godsdienstige ervaring, en wat oor eeue heen uit hierdie diep en lang
agtergrond massief en breed ontwikkel het tot wat dit vandag is.
Jy
is terug by graad 1 en dit terwyl daar oneindig veel is om in te haal vorentoe.
As ‘n mens op hierdie punt vasval, is jy nog in die fopspeen-fase.
Neem
nou maar een van die vier kernwoorde in spiritualiteit. As ‘n mens oor die inhoud
van spiritualiteit praat, sal jy telkens weer op ten minste hierdie vier woorde
afkom. Hulle help ‘n mens om te verstaan wat die werklike en belangrike inhoud
van spiritualiteit is.
Hierdie
kernwoord is ontferming. In kerktaal sou ‘n mens ook van barmhartigheid kon
praat.
Spiritualiteit
gaan om ontferming en dit is ‘n gedagte wat ‘n mens tot in Bybelse tye en
tekste kan terugvoer. Dink aan Jesus se meelewing met die armes, die wonders
van die broodvermeerdering, die innige Bergrede, die barmhartige Samaritaan,
Matteus 24 en die besoeke aan die siekes, die gevangenes, die armes en die
hongeriges wat God se wens vir sy skappe is.
Ontferming
is juis betrokkenheid by ander, om ingestel te wees op mense om jou. En dit is
‘n kern-aspek van spiritualiteit. Dit is ‘n teken van ‘n mens se eie
menslikheid, van jou bewussyn dat jy ‘n onlosmaaklike band met ander mense het.
Wat met hulle gebeur, raak jou, vorm jou en laat jou groei in nog groter
menslikheid.
Jesus
se gebedslewe, sy afsondering, sy saam-wees met sy dissipels was ‘n deel van sy
geestelike weg. ‘n Ander deel, waarvan spiritualiteit baie maak, was sy
ontfermende meelewing met mense. In mense se vreugde en leed was Hy by hulle.
Hy was innerlik aangetrokke tot en het meegeleef met ander. Sy geestelike weg
was altyd weer ‘n weg saam met mense om Hom. Hy was so betrokke by hulle dat Hy
moet geraak het, gehuil het, gesug het, gehelp het en uitgereik het. Sy liggaam
en sy siel was dors om die welsyn van ander.
En
Sy opdrag aan mense om hom was: “Wees barmhartig soos julle Vader in die hemel”
(Lk.6:36).
Dit
gaan in ontferming om menslikheid, om meelewing, solidariteit en uitreiking. Met
ontferming kom ‘n mens by die hart van geloof uit. Wanneer ‘n mens ontfermend
leef, leef ‘n mens soos God en in God se teenwoordigheid.
Spiritualiteit
beklemtoon dat hierdie ontferming nie maar ‘n soort vryblywende simpatie is
nie. ‘n Geestelike mens word liggaam en siel betrek by ander mense se lewens –
nie net om te verstaan wat met hulle gebeur nie of om jammer vir hulle te voel
nie, maar veral om deel te hê daaraan en om hulle daarin te ondersteun. Ontferming
is in spiritualiteit nie ‘n netjies teologiese leerstuk waaroor ‘n mens
allerhande mooi dinge bedink nie. Ontferming is ‘n transformatiewe handeling
wat jou deelname insluit en wat jou terselfdertyd raak en omvorm.
Wat
waar is van die mens en ontferming, is ook waar van die geloofsgemeenskap. Ontferming dryf die
lewe van die kerk: die prediking as bystand aan mense om soos en na aan God te
leef, die doop waarin God ontfermend ook die kinders in die genadeverbond
opneem, die opheffingswerk van die kerk, huisbesoek waarin ‘n mens naby aan die
ander se vreugde en nood kom, berading van mense wat vasgeval het, opsoek en
ondersteuning van siekes, die uitreik na gemeenskappe in nood – alles staan in
die teken van daadwerklike ontferming.
‘n
Geestelike pelgrim is nie ‘n alleen-mens nie. Sulke pelgrims leef in
solidariteit met ander. Hulle doen dit, van alle dinge, juis deur ontferming. Hierdie ontferming het 'n goddelike karakter - want pelgrims is instrumente in die ontfermende handeling van
God in die wêreld.
Om
te glo is om om jouself in ontferming aan ander te gee.