Tuesday, December 31, 2013

Gebed vir die Nuwe Jaar


N.a.v. Ps.37:5

Lig van ons lewe, Here van die tyd, die toekoms lê as die Onbekende voor ons.

Weggesteek, is dit vir ons verborge.

Verborge, bring dit vir ons twyfel.

Ons leef elke dag onseker oor die volgende oomblik, wat die dag gaan bring, oor die onvoorstelbaarheid soos die tyd aanstap.

Die einde kan met die volgende oomblik aanbreek, dalk eers oor jare. Niks staan vas nie. Van niks kan ons seker wees.

Net so min as wat ons die nuwe jaar kan voorspel, net so min het ons 'n insig in wie ons werklik is. Ons is onbekendes aan onsself. Ons maak groot aansprake, dink aan onsself as u getroue volgelinge, en tog, tas ons in die donker en wanhoop ons aan ons geloof. Ons weet nie wie U is nie en waar om U te vind nie. U is groter en anders as wat ons ons ooit sou kon indink.

Nietemin, selfs in hierdie skemer-wêreld van onsekerheid oor U, van ons gebrek aan insig in wie U is en in wat U vir ons gaan bring, kan ons nie anders as om U te vertrou nie. Aan U laat ons ons lewe oor.

Dit is 'n blinde vertroue - 'n gelowige afhanklikheid van U, o Here van die tyd en Beskikker van ons lot.

Daarom gaan ons die Nuwe Jaar binne met 'n verlange dat U ons vertroue sal raaksien, dat U sal sorg en dat U ons lewe sal vorm en stuur.

Selfs al weet ons nie waarheen dit lei nie, is ons lewe U s'n.

Sien hierdie afhanklikheid aan. En gee dat niks anders ooit sterker as hierdie afhanklikheid sal word nie. Laat hierdie afhanklikheid in al ons doen en late deursuur, sodat ons lewe aan u verknoop sal bly en in u wil bevind sal word.

Want in alles wat onvoorspelbaar is, is ons sekere wete dat ons afhanklik is van U - U wat Uself aan ons gee in volledige oorgawe. U, U wat daarmee wys hoe afhanklik U van ons is.

Monday, December 30, 2013

Net die blote lees van 'n teks


Die Nederlander, Leyds, het 'n belangrike rol in die Boere-oorlog gespeel.  In 'n nuwe boek vertel Martin Bossenbroek meer oor die oorlog vanuit 'n Nederlandse perspektief. Dit is 'n boeiende lees.

In die boek word  vertel hoe Paul Kruger en sy mede-stryders gaste was van die belangrikste vorste in Europa toe die oorlog aan die gang was.

Kruger het, vertel die boek, vir Koningin Victoria gewys hoe drink 'n mens warm koffie uit 'n piering...

Hy was gas by die keiser van Duitsland en die beroemde koningin Wilhelmina van Nederland.  Reuse skares het orals saamgedrom om die boere-afvaardiging te ontvang en toe te juig. Strate is na hulle genoem.

Kruger het Leyds in Nederland uitgenooi om vir hom in die Transvaal te kom werk. Daar het Leyds dikwels gehoor hoe mense sleg van Kruger gepraat het as 'n takhaar en 'n onbeskaafde persoon.

Hy self sou geen skewe woord oor Kruger kwytraak nie. Leyds vertel van die godsdienstigheid van die boere, ook van Kruger. Op 'n keer, skryf hy in 'n brief, het die president en sy mense Psalm 25:8 gesing. Maar Kruger het die teks eers voorgelees. Die voorlees was pragtig gedoen, het hy gesê. Leyds voeg by hy het selde so 'n mooi voorlesing gehoor.

Die blote lees van die teks, dus, kan mense so aanraak dat hulle dit onthou en deel met ander. Maar, dink ek, dit sê ook veel van die voorleser. Uit die hart gelees (want Kruger was as dopper besonder toegewyd en kerklik), raak dit - en transformeer lewens.




Die Here is goed en reg. Daarom sal hy sondaars leer aangaande die weg.

Sunday, December 29, 2013

Om baie te weet en min te verander


'n Mens kan handevol informasie oor die engel-verskyning aan Josef in Matteus 1:18:25 versamel, maar dan steeds weer net as 'n nuuskierige waarnemer daaroor praat.

Die verhaal maak dan vir 'n mens "sin." 'n Mens verstaan iets meer van Jesus se geskiedenis.

Maar wat beteken die "geskiedenis" of Jesus? Hoe word die teks deel van 'n moderne konteks? Om sin in iets te vind hou nie noodwendig in dat dit vir 'n mens "betekenis" het nie.

Matteus het reeds in ey eie tyd met dieselfde uitdaging te doen gehad. Hy het van sy voorgangers gehoor hoe Josef die geboorte van Jesus beleef het en, veral, hoe Josef besluit het wat die naam van die kindjie moes wees.

Toe hy veel later die oorspronklike gebeure in sy evangelie oor Jesus beskryf het, het hy gewonder watter betekenis daardie verhaal vir sy eie tyd gehad het. Hy skryf sy evangelie 70 jaar nadat Josef sy spesiale ervaring gehad het. Dit was dus 'n geskiedenis wat mense in sy oupa se tyd sou beleef het. Intussen het die jare aangestap en in 'n nuwe tyd moes die nuwe geslag wonder hoe die Josef-verhaal vir hulle op hul geestelike reis lig gee.

Hoe beantwoord Matteus die vraag van die betekenis van Jesus se verhaal en lewe?

Hy lê dit vir sy lesers die verborgenheid in die verhaal uit. Die lewe van Jesus is nie 'n lewe vir homself of 'n lewe om bewonder te word nie. Vir Matteus is Jesus se verlossende, bevrydende werk belangrik. Hy verbind dit reeds met die kindheidsverhaal van Jesus.  Daarom het Jesus sy naam "Jesus" gekry en word dit in Matteus 1:21 met sondevergifnis verbind. Hy is die een deur wie die volk van hul sondes gered word. Dit is 'n lewe wat mense transformeer.

Maar Matteus het hierdie verlossingsmotief verbind met 'n diepergaande motief. In die res van die gedeelte gaan hy nog verder op die saak in. Hy sluit die Josef-verhaal af met die opmerking in Matteus 1:23 en die aanhaling uit Jesaja 7:14 dat Jesus die naam "Immanuel" kry. Matteus vertaal dan heel pertinent die letterlike betekenis van die naam Immanuel. Hy maak seker dat sy lesers weet dit is "God met ons".

Die verhaal van Jesus is vanaf die eerste hoofstuk 'n Immanuel-verhaal. Die res van die evangelie staan in die teken van hierdie naam. Van die begin van Jesus se lewe herken 'n mens die teenwoordigheid van God.

Aan die einde van sy evangelie, in Matteus 28:10, sal hy dieselfde Immanuel-motief herhaal. Jesus vertrek met die woorde aan sy disspels dat hulle al sy gebooie moet onderhou en eindig dan met die opmerking dat hy met hulle sal wees tot aan die einde van die tyd.

Vir Matteus staan die hele lewe van Jesus, van begin tot einde, in die teken van God se teenwoordigheid. Dit is verder ook 'n voortdurende, volhoudende aanwesigheid.

Matteus skryf dus 'n evangelie wat kontemplatief oor Jesus dink - mediterend oor God wat in die midde van gelowiges bly woon.

Matteus maak duidelik dat Jesus nie maar net 'n interessante figuur uit die verre verlede is waaroor 'n mens allerhande nuuskierige vrae vra nie. Van die begin tot die einde beleef gelowiges in Jesus die teenwoordigheid van God, wat nuut en vry maak.

Jesus is Immanuel:  hy is die een wat die gemeente op hul geestelike weg vergesel. Hulle is nie alleen nie. Hy bly by hulle.

Maar terselfdertyd is Jesus méér as net 'n reisgenoot. Wanneer die reis veel vra, is hy die een wat alles gee om sy reisgenote te ondersteun en deur die driwwe te dra.

Matteus maak die rede hiervoor duidelik: die kindjie is Immanuel. In hom merk 'n mens die verborge teenwoordigheid van God. Die Immanuel is egter ook die opgestane, verhoogde Here wat Matteus in sy tyd op so baie maniere ervaar het en wat in die lewe van sy volgelinge radikale hernuwing begin het. Reeds in die mees geringe herken 'n mens goddelike krag aan die werk. Wie die opgestane Here wil volg, aldus Matteus, kyk na die nederige, aardse Jesus. Wie die Here se wil volg, luister na die woorde van Jesus wat hy tydens sy lewe gespreek het.

Matteus onderskei nie tussen Jesus en sy aardse lewe en Jesus as die verhoogde Here nie. Hy vertel nie die geskiedenis van Jesus apart van die betekenis van Jesus as Here nie. Hy teken Jesus as die een deur wie God vanaf die allereerste oomblik mense se lewens omgekeer en getransformeer het.

Saturday, December 28, 2013

Wanneer die mistieke ervaring eg is...


Hoe herken 'n mens die egtheid van 'n mistieke ervaring?

Die verhaal van die visioen van Josef in Matteus 1 is, soos in die vorige dele van die blog geblyk het, besonder mistiek. Josef worstel, diep nadenkend, oor die moeilike situasie waarin Maria swanger geraak het. Hy wil in die geheim van haar skei.

In die droom ervaar hy heel intiem hoe God in sy lewe ingryp en dit totaal omkeer.

In plaas van om Maria met haar seuntjie te verwerp, bly hy by hulle. Hy gee ook, soos die engel beveel het, aan die seuntjie die naam van Jesus. Aan albei versoeke van die engel gee hy gehoor.

Dit wys die impak van die kontemplatiewe oomblik. Die goddelike ingrype transformeer sy lewe. In plaas van skaamte, skuld, verwerping en veroordeling, kom daar op 'n verborge manier aanvaarding, eerbied, vereniging en gehoorsaamheid.

Sy verhouding met Maria verander letterlik oornag. Hy aanvaar die verantwoordelikheid om vader vir Jesus te wees.

'n Mens se lewe lyk nooit weer dieselfde as God 'n mens aangeraak het nie. Die mistieke ervaring laat sy spore in die konkrete lewe van die mens agter. Wil 'n mens sien of iemand werklik God se nabyheid beleef het, kan 'n mens maar na sy lewe kyk. Die mistiek is nie wêreldvreemd nie en dit gebeur ook nie los van die werklikheid nie. Trouens, die mistiek toon hom juis in die wêreld. Daar is steeds weer 'n deurwerking van die mistiek in die harde werklikheid.

Egte mistiek keer die mens om in al sy of haar verhoudinge - met God, met ander mense en met die skepping. Mistiek wat op hierdie manier 'n verskil maak, is egte mistiek. Om God in die verborgene te ontmoet, laat 'n mens op 'n nuwe manier in die wêreld leef.




Friday, December 27, 2013

Verborge, maar tog bekend



'n Mens kan die geboorte-aankondiging oor Jesus se geboorte aan sy pa, Josef, lees as 'n spesiale, bonatuurlike gebeurtenis: die engel verskyn aan Josef nadat hy van Maria wou skei en die engel oorreed  hom om dit nie te doen nie.

In die tyd van Jesus het skrywers dikwels hulle besondere ervaring van God se werking in hul lewens oorvertel as "visioene". In so 'n gesig sien hulle dan 'n goddelike boodskapper wat vir hulle kom verklaar wat op aarde gebeur. Hulle ontdek dan hoe God aan die werk is in al die baie belewenisse wat hulle het van hulle omgewing en gebeure om hulle.

In 'n sekere sin is die verhaal van Matteus oor die visioen van Josef 'n beskrywing van die merkwaardige ommekeer wat daar in Josef se lewe plaasgevind het terwyl hy daaraan gedink het om van Maria te skei. Dit is inderdaad buitengewoon dat Josef so kon verander.

In die ommekeer was daar iets aan die gebeur wat hulle net as 'n goddelike ingryping kon verklaar. Dit sou "normaalweg" nie met Josef gebeur het nie. Iets besonders moes gebeur het wat hom laat besluit het om nie vir Maria te verlaat nie.

Teselfdertyd, egter, is daar besonder sterk menslike, gewone trekke aan die verhaal. Trouens, uiteindelik kry 'n mens die aanvoeling dat al die spesiale aspekte iets besonders oor Jesus as mens en oor Jesus se lewe wil vertel.

Die engel bewerk die ommekeer wanneer hy Josef eerstens bloot gerusstel. Dit is 'n besondere gebaar teenoor Josef as mens. Hy hoef nie bang te wees nie (Mt.1:20). Hy hoef ook nie te ly onder enige gewetenskwelling nie. Wat gebeur het, oortree nie die wet van God nie. Trouens, die situasie wat Josef so verward gelaat het, is uit die Heilige Gees. Josef, gekwel deur die onverstaanbare situasie, kan uiteindelik vrede hê dat wat in Jesus gebeur het, 'n goddelike ingryping is. Ook in hierdie moeilike saak is God teenwoordig en aan die werk, soos dit altyd in die mensdom se geskiedenis gebeur het. Dit is 'n verhaal dus, wat met ontferming reageer op die innerlike woelinge waarmee Josef worstel, maar dit is ook 'n verhaal wat aan hom die verborge werking van God in sy lewe uitwys. Josef, die vroom mens, hoef nie te wanhoop nie. God staan hom by en begelei hom.

Tweedens troos die engel hom oor die langtermyn konsekwensies van die traumatiese gebeure wat Josef beleef. Die verhaal verklaar wie die seuntjie is wat Maria verwag en noem selfs wat sy naam moet wees. Die boodskap is eenvoudig. Jesus is sy naam, want hy is die verlosser van die volk.  Ulrich Luz beklemtoon dat hierdie verhaal eintlik 'n verhaal van naamgewing is. Naamgewing was in bybelse tyd belangrik. 'n Mens se naam vertel wie jy is. En ook hier in die verhaal van Josef word die eeu-oue gebruik van naamgewing nagevolg. Matteus onderstreep deur die naam dat Jesus sonde vergeef. Josef kry dus vroeg-vroeg sekerheid oor wat hy sy kindjie moet noem, maar hy ontdek ook dat sy seun 'n spesiale lewenstaak het. Hy hoor, sekerlik met gemengde gevoelens, dat God ook in sy kind se lewe op 'n spesiale manier teenwoordig sal wees.

Maar daar is 'n verdere "gewone" kant van hierdie unieke verhaal. Die engel haal as bewys vir sy boodskap 'n woord uit Jesaja 7:14 aan. 'n Woord van een van die mees geagte profete word deur die goddelike boodskapper gebruik om die gebeurtenis te verklaar. Die Bybel - en nie een of ander ekstatiese gebeurtenis nie - bevestig aan Josef die spesiale karakter van die gebeure. God gebruik die bybel om Josef verder te laat inlig. Josef, in sy vroomheid, 'n kenner van die Bybel, word op die manier verder in sy verstaan en in sy meditatiewe nadenke bygestaan. Stel jou voor wat hier eintlik aan die gebeur is: saam doen die engel en Josef bybelstudie om die diepe betekenis van die kind se lewe te begryp.

Dit is tog opvallend dat Matteus 'n engel gebruik om die Bybel vir Josef uit te lê sodat hy kan insien watter spesiale ervaring hy beleef. Dit gaan hier om 'n mistieke saak, om die verborge teenwoordigheid van God in die lewe van die kindjie te probeer verduidelik. Dit is iets wat moeilik uit te druk is. Daar is nie regtig taal daarvoor nie. En tog: Matteus laat in sy vertelling die engel teruggryp op die profete-boek van Jesaja om die verborgenheid te verduidelik. Die skrifte wat Josef so dikwels aangehoor en gelees het, voorsien nou die boustene om uitdrukking aan die verborgenheid van die gebeure te gee. Die taal van die verre verlede, die boeiende woorde van Jesaja 7:14, word nou taal om te praat oor wat in die tyd van Jesus aan die gebeur is.

Hoe anders? Hoe kan 'n mens eenvoudigweg praat oor die unieke saak dat 'n mens vry kan word van alles wat 'n mens bind en verslaaf, en van alles wat 'n mens tot uitsigloosheid verdoem deur die lewe van 'n ongetroude vrou se kind? Hoe bedink 'n mens dit dat 'n kindjie se geboorte die koms van die versoentyd inlui?

Jy doen dit deur "gewone" woorde van die wyses uit die verlede in te span. Wat hulle in hul tyd neergepen het oor hulle besondere ervaring met God, word dan in latere tye die materiaal waarmee latere skrywers ook vertel hoe hulle die nabyheid van God beleef het.

Mense soek dikwels om oor die uitsonderlike te praat op vreemde maniere. Maar in die mistiek werk dinge nie so mens-vreemd nie. By al die gebrekkigheid van menslike taal, bly dit 'n wonder dat 'n mens tog weer iewers, stamelend, mense-woorde bymekaar bring wat op een of ander manier uitdrukking gee aan diepe, intieme en lewensveranderende ervaringe. Mense lees hoe ánder vertel van die oomblikke dat hulle naby aan God is. En daardie woorde inspireer hulle - en leen hulle - om ook van hul eie ervaringe te praat.

Jesaja word die inspirasie van Matteus om belangrike insigte oor Jesus deur te gee.

Hoe gewoon, heel gewoon, hoe menslik, deurgrondelik menslik, is ons spreke oor God. Juis deur hierdie menslikheid  transformeer dit ons. Omdat dit dan so naby aan ons kom. By al die verwondering oor die goddelikheid en andersheid van die Verborgene in die mens se lewe, is daar die dankbaarheid dat mens op een of ander manier tog, deur verlangende nadenke, en, genadiglik, die Verborgene kan verstaan.

Thursday, December 26, 2013

Die vader van Jesus en meditasie


Josef, die vroom vader van Jesus, se lewe is heeltemal ingestel om volgens die wet te leef. Dit weet 'n mens wanneer hy uit gehoorsaamheid daaraan, van Maria wil skei. Sy verlange om vir God te leef, sou ook later blyk wanneer hy Jesus op die agste dag laat besny en ook al die reinheidsvoorskrifte van die wet nakom (Lk.2:21-24). Hy is 'n geestelike mens, wat God se wil in sy gesinslewe konsekwent soek.

Dit was meer as net meganiese gehoorsaamheid. Vir Josef was die geestelike weg 'n saak van toewyding. Hy wou God dien en het verlang om te doen wat God van hom sou vra.

Maar dit was nie altyd maklik nie. Hy moes daaroor tob. Josef was dus iemand wat, toe Maria swanger geraak het, diep daaroor nagedink het in terme van sy geloofservaring. 

Hoe, dan, sou hy bly wonder, moet hy hierdie moeilike kwessie wat tussen hom en Maria opgeduik het, hanteer?

Josef se innerlike ervaring van die krisis ontdek 'n mens deur die verhaal in Matteus 1. Een van die mees onopgemerkte frases in die geboorteverhaal van Jesus vind 'n mens in Matteus 1:20 pas nadat vertel is dat Josef van Maria in die geheim wou skei.

"Terwyl hy dit in gedagte gehad het" (enthumethentos), staan daar. Dit is een van daardie frase's waaroor 'n mens te maklik lees.  

Om iets in gedagte te hê beteken hier om intens daaroor na te dink. Dit is 'n unieke en spesiale woord in Matteus. Hierdie woord verskyn nog net een keer in Matteus 9:4 waar Jesus agterkom watter godlasterlike dinge sy opponente "in hul harte"oor hom bedink.

Josef was dus aan die worstel in diepe nadenke oor die krisis waarin hy hom bevind het. 'n Mens merk in die woord sterk emosies, betrokkenheid, inspanning en worsteling. Die vorm van die partisipium wys dat sy meditasie 'n durende, aanhoudende situasie was.

Dit sou 'n mens ook "meditasie" kon noem. In 'n sekere sin is dit naby aan die ander groot woord in Christelike spiritualiteit, of te wel "onderskeiding": die groot, lewensbelangrike vraag hoe 'n mens in 'n tyd van krisis God se wil vind. Hoe onderskei 'n mens op 'n belangrike oomblik in jou lewe wat God van 'n mens vra?

Dit doen 'n mens onder andere deur biddend, verlangend en afhanklik te soek, en ook te wag op God se leiding.

Josef het geweet wat die wet vra. Maar hy was tog ook nog soekend na die regte ding om te doen. Sy verlange na God was meer as net 'n blote gevoel. Dit was nadink oor sy besondere situasie in die lig van alles wat hy in die wet omtrent God gelees het.




Wednesday, December 25, 2013

Wanneer die oortreding van die wet tot saligmaking omgebuig word.


Josef, die pa van Jesus, was 'n "regverdige" man. Só staan dit in Matteus 1:19 opgeskryf.

Hy was wetsgehoorsaam.

Daarom was sy ontdekking van Maria se swangerskap vir hom 'n skok. Soveel so dat hy sy verhouding met haar wou beëindig deur van haar te skei. In die oë van die wet was sy skuldig oor 'n swangerskap buite die huwelik.

So belangrik was die wet vir hom dat hy bereid was om haar en die kind weg te stuur.  

In die vers, waaroor 'n mens nie veel preke hoor nie, kry 'n mens 'n beeld van Josef: 'n man wat vroom en toegewyd lewe.

En tog sien 'n mens ook die ander kant van Josef as net die strenge wetsgehoorsame mens.

Hy weet wat dit beteken as 'n vrou se buite-huwelikse swangerskap openbaar gemaak word. Dit sou sekerlik tot haar dood deur steniging gely het.

Daarom besluit hy om haar nie in die openbaar te ontmasker nie, maar om in die geheim van haar weg te gaan. 

Josef is dus ook 'n man van ontferming. Hy maak haar nie openlik tot skande nie. Hy spaar haar 'n verskriklike dood.

Sy wetsgehooraamheid word deur sy ontferming getemper.

Hy gaan van haar skei - wetsgehoorsaam. Maar hy doen dit stilletjies - ontfermend.

Die mens is groter as die wet, lees 'n mens in hierdie optrede van Josef raak.

Later jare sou sy seun in die sinagoge soortgelyks doen: hy genees die man op die sabbatdag ondanks die teenkanting van die godsdienstige leiers en ondanks die streng wetsvoorskrifte daaroor.

Miskien, wie weet, het pa en seun dikwels oor sulke sake gesels: oor hoe 'n mens die wet moet respekteer en heilig, maar nooit moet gebruik om te vernietig nie. Maar op een of ander manier het Jesus grootgeword in hierdie ontfermende instelling.

Godsdiens kan 'n mens se lewe verryk. Die wil van God is dat mense nuut gemaak word en anders sal wees as die harde en barre omstandighede waarin hullle was.

Godsdiens wil egter nie vernietig nie. Veral nie vir hulle wat sagte teikens is nie - die weerloses en die magteloses.

Die mistieke is egter dat God veel verder gaan as Josef: terwyl Josef van Maria wil skei, bind God hulle in 'n hegte eenheid saam. Daar is geen huiwering nie: wat in die oë van mense 'n wetsoortreding is, is vir God 'n geleentheid tot saligmaking. Terwyl die gehoorsaamheid aan die wet die weg tot verlossing aandui, word die Seun, die illegetieme een, in die nuwe bedeling die weg tot vrywording.  

Die oortreding van die wet bied 'n weg tot saligmaking... 

Dit is immers die hart van die kersboodskap: ondanks die groot geskiedenis van menslike feile en feilbaarheid, bly God, genadiglik, aan die werk. 

Tuesday, December 24, 2013

Kinderlik

Hy was, vir dié wat veel weet,
vir hulle met hoë harte,
gróót invloedrykes,
'n werkerseun uit 'n veraf plek
wat durf bly saampraat het.

Omdat hy menigtes laat hoop,
dié met oop, verlangende hart,
met eenvoud van gemoed,
word, wrewelrig, hy uit hul heilige plek weggeneem,
vroom tot bedrieër in hul hoë hof verdoem.

Hy wat reis om met daardie Grootdag
van vereniging,
van versoening
die brug te bou, die weg te wys,
het, verlangend, verworpe, pyn gely, gesterf.


Tog was hy tot op die allerlaaste vry
van afstand,
van vyandskap,
sodat, uiteindelik, in die tuin, lig na lig, 
helder lig, sy lewe onomkeerbaar, paradyslik, binnestroom.

Hulle is deur daardie oorvloedigheid van
die Lig,
die suiwerende lig,
tog nog vrygemaak -
die pentateugiese lig van sy woorde, sy sterwe, sy lewe.


En, hieruit, uit die woorde en die lewe, juis toe:
die mistieke, die innerlike wete -
lank reeds het hulle die goddelike roeringe
van vryheid gevoel.
So lank terug, reeds toe hy nog kind was:

In sy stal van die veraf plek was reeds, Verborge,
al die vrede van die tuin:
helder, as engellig,
suiwer, as engelklank,
vir hulle wat wag, kinderlik verlangend, wag op die Een-voudige.


Monday, December 23, 2013

Hoe gevaarlik is soms die soeke na 'n sinvolle bestaan


Vanoggend berig die media oor drie merkwaardige persone se toewyding aan opheffingswerk in hulle gemeenskappe.

Die drie mense doen hulle opheffingswerk onselfsugtig, ten koste van hulleself en dikwels terwyl hulle groot ongerief ly.

Hulle beïndruk ander mense met hul onselfsugtige liefdesdiens.

Een van die drie vertel spesifiek hoe sy ervaar dat die werk haar lewe sinvol maak en aan haar bestaan betekenis gee.

Die sin wat haar werk vir ander aan haar eie lewe gee, is uiteindelik die rede waarom sy die werk wil en bly doen.

Die berig staan in die teken van die kersgety. Dit raak 'n mens diep om te sien hoeveel goed mense vir ander in moeilike omstandighede wil doen. Dit laat 'n mens dink aan die goed wat Christus vir ander gedoen het.

En tog, bly die vraag by my spook: is dit regtig 'n goeie rede tot opheffingswerk - omdat dit jou lewe "sinvol" maak?

'n Mens doen goed vir ander nie omdat dit  jou lewe sinvol maak nie. Dit is nie jou goeie dade wat 'n mens laat goed voel oor jou lewe nie.

'n Mens doen ook nie noodwendig goed vir ander mense omdat jy opmerk hoe swaar dit met hulle gaan nie.

In 'n Christelike konteks sal 'n mens dink dat 'n mens se omgee vir ander gebore word uit jou verhouding met Christus. 'n Mens se omgee vir ander word gedryf deur die kruisverhaal. Die kruisdood van Christus roep by mens 'n passie vir ander op. Dit is die teken van God se helingswerk: in die kruis herken 'n mens die heerlikheid van God, soos De Bruijne dit stel. En dit bring 'n mens tot 'n lewe van toewyding.

Onselfsugtige naastediens is nie noodwendig 'n teken van 'n geestelike lewe nie.

Die mens se verhouding met Christus dryf 'n mens tot diens aan ander, aan die honger, die opgesluite, die nakende medemens. Want, wie goed is teenoor die ander, die arme, die gevangene, die nakende, doen dit om Christus ontwil.

Soms is 'n mens so deurdrenk van 'n verhouding met God, dat die liefde tot ander spontaan, vanself kom. Meestal gebeur dit feitlik onberekend, onbedinkt, asof dit die mees spontane ding is om te doen. Dan skrik mense selfs om te hoor hoe hulle daaroor aangeprys word (Matteus 25).  Dit word 'n lewenswyse, 'n lewe na die Gees.

Dit maak naastediens soveel dringender, veeleisend en selfs gevaarlik. Maar ook soveel ryker. Want in hierdie diens is 'n mens elke sekonde naby aan die Here.

Sunday, December 22, 2013

Kerstyd: die fees van rykdom


Nico ter Linden skryf oor die verarming wat in 'n mens se lewe gebeur wanneer jy geloof kwytraak. Hy noem twee voorbeelde van hoe ryk 'n mens is wanneer die lewe gelowig ervaar kan word.

Hy vertel hoe mense in tyd van vrees, deur so 'n eenvoudigheid soos die blou van die hemel vertroos kan word. Hulle besef hoe klein, nietig en onmagtig hulle angste werklik is wanneer hulle vanuit 'n geloofshoek hul gewone lewe herbeleef.

Op 'n ander manier kan mense deur besondere ervaringe moed skep. Hy vertel van Floris Bakels wat weggevoer word in 'n trein wat hom van Rotterdam na Scheveningen neem.

Op 'n stadium besef Bakels met intense gevoelens dat die trein hom wegneem van sy kosbaarste dinge - sy huis en sy vrou. Terwyl hy in die vertrekkende trein sit, soek hy verlangende die rigting op waar hulle is. Dan sien hy in daardie rigting onverwags bokant die kerktoring 'n silwer lig op die toring val. Maar in die lug is daar ligstrale wat 'n weegskaal vorm. Hy sien homself in die skaal. 'n Hand verskyn en tel die skaal beskermend op en neem dit na 'n plek waar net stilte en lig is. Dan hoor hy 'n stem: "Vrees nie. Ek is die Een." 

Vir die volgende paar jaar sou hy 'n verskriklike tyd in die konsentrasie-kamp ervaar. Maar elke keer weer kon hy terugdink aan daardie gesig wat hy gesien het. En troos daaruit put.

Op hierdie manier ervaar mense 'n moment wat hul gewone, daaglikse lewe oopbreek. Iewers kom daar van buite 'n aanraking, soms op 'n gewone manier, soms deur sulke spesiale ervarings soos die visoen van Bakels. Maar selfs Bakels se visioen is eintlik niks opsienbarends nie: wat in sy geval gebeur is dat die Bybelse insig dat God by mense in hul krisistye bly, vir hom op 'n ander, ongewone manier 'n werklikheid word en by hom vir die volgende paar jare sal bly om hom te troos. Hy kry bevestiging vir alles wat hy altyd in die Bybel as troos beleef het.

En tog, sy geloofsverhouding met God het daardie oomblik in die trein kragtig gevul en hom verryk vir die jare wat sou volg.

Die Bybelse teks oor God se vredevolle inwoning onder mense, breek in een oomblik iemand se afgeslote bestaan oop en bring berusting.

Kerstyd is ook so 'n stil, gewone tyd. Die seisoen van God se vleeswording. God bevestig die menslike bestaan.

Maar terselfdertyd transformeer God hierdie bestaan buite alle verhoudinge om: wat menslik is, word opnuut deurdrenk met goddelike krag. Vrede kom woon te midde van en ook in die plek van onvrede.  

Kerstyd is by uitstek die tyd waarin mense bewus word van hul geestelike armoede: die vaal verblyf op die vlakte, die totale verwydering van die wysheid, die dodelike roetine van godsdienstigheid. 

Dan kom die engele op die velde, die wyses reis oor afstande na die stal en die boodskappers soek die vroue op in hul nederige huisies en vir Sagaria waar hy sy godsdienstige pligte in die tempel nakom. 

Die menslike  bestaan word verryk, ingrypend, met die teenwoordigheid van God te midde van die alledaagse, maar ook in die heilige plekke. Kerstyd is die tyd van liedere, rykdom en transformasie.

Dit is dan wat die lewe ryk maak: die avontuur om met God onderweg te wees - veral in tye van onvrede, onsekerheid en verlange na liefde. 

Dit, dan, en nie al ons presentjies en bome en eterye nie, maak kerstyd die fees van rykdom:  daarom is dit 'n fees van vreugde - oor ons bevryding van armoede tot 'n rykdom in die geloof.  

Saturday, December 21, 2013

Die smagtende hart. Oor God en mens se koms.


Die lees van die Bybel is die begin van die pelgrim se geestelike reis in God se teenwoordigheid.

Wanneer 'n mens bewus daarvan word dat die Woord meer as net woorde is, gebeur iets besonders:

Die Woord word God se self-bekendstelling aan mense. God self is aan die praat en God onthul aan mense wie God is.

Dan beleef die gelowige die stem van God en hoor God as die Beminde wat tot die mens spreek. Dan ervaar mense vir God as die Een wat in die spreke die mens aanraak en omvorm.

Mensewoorde word God se liefdeswoorde wat in 'n mens se innerlike beleef word. 'n Boek word Lewend en word as lewe-gewend ervaar. Die boek word 'n liefdesgebaar, 'n liefdesverklaring wat tot in die hart en binnekant van die mens deurdring.

Die aanraking beteken dat die mens nie maar net nog 'n keer onder die indruk luister na wat "geskryf" is nie. Eerder bring die omgang met die bybel 'n mens in 'n ruimte in waarin God 'n mens aanraak en die mens, in reaksie, deur daardie aanraking geroer en omvorm word. God spreek as Beminde en die mens antwoord met liefdeswoorde.

Op die manier ontstaan 'n liefdesverhouding: God spreek en die mens antwoord in liefde. Dan lees 'n mens nie net 'n teks nie, of 'n mens luister nie net na 'n stem nie, maar dan hoor 'n mens woorde wat aanspreek en voel 'n mens innnerlik, in die hart, die waarheid van die teks. Dit roer 'n mens tot 'n reaksie. God spreek en die mens is haastig om te antwoord. Dit word 'n twee-gesprek, 'n dialoog. U/my, ek/U.

In adventstyd vind hierdie dinamiese gebeure by uitstek plaas. Dit is inderdaad "advents"tyd:  die koms van God in die lewe van 'n mens. Maria wat al die dinge in haar hart bewaar en bedink. Die lofliedere en bewondering van engele, skaapwagters en ander persone as liefdesreaksie op God se nabyheid. 

Hulle het almal in die gewone dinge soos die swangerskap en die geboorte, die verborge werking van God ervaar. En vir hulle was die gebeure en verhale tekens van die koms van God se vredestyd wat aangebreek het. Só het hulle dit beleef: te midde van al die geraas, die gepraat, die groot teologieë, die getroue wetsgehoorsaamheid, was daar iets groters en diepers te vind. Dit was die wete dat God in die stilte van die kerstyd nader aan die mensdom kom as ooit te vore. Al die kersverhale wou vertel dat God innerlike vrede bring wat mense se lippe in beroering bring - ywerig om van vrede te sing. Die paradys wat terugkeer. Die getroue God wat opnuut weer uitreik. 

En die adventstyd word meer as net God se koms. Dit word ook die mens se koms tot God. Daarom die ver reis uit verre lande na die Wysheid, die nagtelike tog uit die vlaktes na die krip in Bethelehem. As God kom, wil mense by God wees. 

Die aangeraakte, geroerde hart smag na die God was so liefdevol uitreik.

Friday, December 20, 2013

Ouer mense verlaat die kerk. Oor sekularisasie in Nederland



In vanoggend se Trouw verskyn die volgende berig, waarin geskryf word dat veral ouer mense tans hul rug op die kerk keer.

Kerken in Nederland trekken steeds minder bezoekers, maar jongere gelovigen blijven relatief trouw. Dat blijkt uit cijfers die het Centraal Bureau voor de Statistiek gisteren heeft gepresenteerd.
Een kleine meerderheid (54 procent) van de Nederlankdse volwassenen noemt zichzelf religieus. Maar praktiserend zijn deze gelovigen lang niet allemaal. In 2012 bezocht 16 procent van de volwassenen minstens een keer per maand een kerk, moskee of andere religieuze bijeenkomst. In 1999 was dat nog een kwart.
De terugloop varieert per leeftijdsgroep. Vooral ouderen keren de kerk de rug toe. Steeds minder 55-65-jarigen zijn lid van een kerk of moskee, en degenen die dat nog wel zijn bezoeken minder vaak een dienst.

Onder 18- tot 34-jarigen is terugloop geringer. Van hen bezocht vorig jaar 12 procent regelmatig een dienst. Dat percentage lag in 1999 op 15 procent.
Bovendien is de afname in kerkelijkheid vooral waar te nemen onder christenen. Het aandeel moslims onder Nederlandse volwassenen steeg sinds 1999 van 2 naar 4 procent.
Secularisatie is geen fenomeen van de laatste dertig jaar, zoals vaak wordt gesteld. De afname van het percentage kerkleden op de Nederlandse bevolking verloopt al ruim een eeuw in een tamelijk constant tempo.
Ooit noemde bijna iedere Nederlander zich kerklid en in absolute aantallen hebben veel mensen de kerk verlaten, maar daarbij moet wel bedacht worden dat eind negentiende eeuw vrijwel de gehele bevolking kerkelijk was.

De vele kerkelijke afsplitsingen maken het lastig om verschillende denominaties over een langere periode te vergelijken. Sinds 1971 vraagt het CBS bij volkstellingen niet meer naar kerkelijke gezindte. Religieuze betrokkenheid komt nog wel in andere (deel)onderzoeken aan de orde. Zo concludeerde het CBS eerder dat opvattingen van Nederlanders over samenwonen, trouwen, scheiden en kinderen krijgen afhangen van hun religieuze overtuiging.

Thursday, December 19, 2013

Nederigheid bring vryheid.

Nederigheid is 'n eienskap waarvoor mense dikwels bewondering kry.

Maar in die praktyk is dit iets wat 'n mens meer in ander se lewens waardeer as wat 'n mens dit in jou eie lewe najaag.

Dit is omdat nederigheid gemoraliseer word. Dan kry die woord 'n swaar klank: mense voel hulle moet hulself afsweer en buitengewone opoffering van eie belange maak. En dit is, dink 'n mens, 'n harde stryd.

Daar is sekerlik iets waar aan so 'n opvatting. Dit is immers nie in die menslike natuur om sommer die minste te wees nie.

Daarom maak mense soms graag asof hulle besonder nederig is. Ons het dikwels gepraat van "hoogmoedige" nederigheid: daardie geveinsde projeksie van mense waarin hulle hulself byna trots voorhou as nietige, ongerekende mense.

Egte nederigheid vra sekerlik toewyding en selfs inspanning. Maar, vanuit 'n sekere hoek gesien, kan 'n mens nederigheid as iets spesiaals ervaar. Thomas Merton wat 'n hele lange bespreking van nederigheid aangebied het, maak juis 'n boeiende opmerkings dat nederigheid die grootste moontlike vryheid bring.

Om nederig te wees, kan 'n mens innerlik vry maak.

Want die teendeel kan eerder spanningsvol en swaar word. Want gedurig moet 'n mens die beeld wat jy van jouself as 'n belangrike mense voorhou, verdedig. En dan verloor 'n mens jou innerlike vrede. Boonop moet jy nog jou eie vername beeld vergelyk met die vername beeld van ander mense.

Dit is veral dan dat jy jou vreugde heeltemal kwyt raak.

Want dan word jou lewe in beslag geneem deur 'n gedurige vergelyking van een onwerklikheid met die onwerklikhede van ander.

Niemand put vreugde uit dinge wat nie werklik is nie, is Merton se punt dan.

Volkome vryheid vind 'n mens deur jouself nie te ernstig op te neem nie. Trouens, egte vreugde vind 'n mens deur jouself te vergeet. Deur te vergeet van 'n mens se dade, jou uitmuntende lewe en deur min ag te slaan op jou eie reputasie word 'n mens werklik vry.

Nederigheid is vir my dus minder van 'n deug as 'n lewensinstelling: hoe minder geheg 'n mens aan jouself is, hoe nader kom 'n mens aan ander mense.

Nederigheid is dus daardie vreugdevolle wete dat die lewe veel groter as jouself is, dat jou band met ander stewig geanker is in julle medemenslikheid en nie in jou of ander mense se prestasies nie.

Dit is uiteraard 'n fundamentele bybelse motief:  niemand hoef voor God met aansprake te staan nie. Juis omdat 'n mens kreatuurlik is, deur God geskep en herskep, ontvang 'n mens daardie innerlike waardigheid van buite: God se liefde en agting hoef nie verdien te word nie. 

En wat waar is van God, is algemeen waar.  

Tuesday, December 17, 2013

Die afwesige: Anderkant mense-woorde.


Kerstyd herinner aan die "koms" van Christus na die wêreld. 

Van "elders" is daardie koms. Daarom is dit 'n koms wat die waarnemers verwonderd laat: hulle staan voor die ongewone, die anderse. 

Die koms van Christus van "bo," van die "hemel," is in latere kerklike taal ook uitgedruk in die twee nature - leer. Christus is God én mens. As mens is hy deel van die skepping. Immanuel.

Maar kerstyd vertel ook van meer as net 'n mensgeworde Christus. Hy is God, die een wat méér is as die skepping. Groter en anders as alle kreature. Die een wat die engelskaar, en die goddelike vrede met hom saambring.

Maar as 'n mens só oor Christus dink, beteken dit dat 'n mens Christus nooit kan peil nie. As Menseseun word hy in mensetaal benoem, maar as Seun van God transendeer Christus menslike taal, denke ervaring, beelde, insigte.

'n Mens vind die onpeilbare aspek sterk uitgebeeld in die evangelie van Markus. Die evangelie eindig in 16:8 met die vertelling dat die vroue wat by die leë graf aangekom het, met bewing en ontsetting aangegryp was. Dieselfde reaksie van vrees, onsetting en onbegrip vorm 'n goue draad in die evangelie - wanneer hy storms stilmaak, duiwels uitdryf, verheerlik word. Elke keer roep dit ontsetting op.

Christus se lewe en optrede is vir mense deursigtig in soverre as wat dit hulle aanspoor om 'n nuwe lewe te begeer en te soek. Hulle herken in hom ontferming, liefde, aanvaarding.

Dan, tog, is daar sy ondeursigtelike en verborge kant. Mense sien in hom ook 'n uitsonderlik uniekheid en krag. Niemand is soos hy nie. Hoe kom dit dat hy selfs die stormwinde tot stilstand bring? Wat sê die leë graf oor hom?

Die kant van Jesus kan 'n mens nie peil nie. 'n Mens kan dit nie deurgrond, verduidelik, bevestig of ontken nie.

Dit is hier waar woorde faal. Oor daardie verborge kant.

'n Mens, op 'n mistieke manier, weet dit is daar. Dit is te merke, rakelings, by tye. Mense weet dan dat hulle verby al hulle idee's, voorstellinge, opvattinge en taal oor Jesus moet beweeg: Christus is nie die Woord nie, die Brood van die Lewe nie, die Goeie Herder nie, die Lig nie.

Hy is veel meer, en anders. Hy is die onpeilbare vir wie woorde nie gevind kan word nie. Hy is verby en anderkant ons taal. Hy is nie onder ons en in ons te vinde nie. Hy is heeltemal weg van wie ons is en praat. Hy is God.

Dan word hy die afwesige - die een wat 'n mens nie kan sien nie. Die Gees. 

Daarom staan mense in verwondering en geboeid voor hom. Dit is ook waarom 'n mens besef met 'n intense belewing dat Hy nie die gevangene van ons wêreld is nie, nie net een van ons is nie. In ons taal, denke, simbole en menslike voorstellings is daar niks wat Jesus kan vasvang nie.

Hy is Immanuel. Maar hy is ook Seun van God.

Hy is die Afwesige, die een wat weggegaan het. Hy is by God. Die een wat opgevaar het. Die een wat uit sig verdwyn het. Die Heilige Gees.

Monday, December 16, 2013

Die bybel werk net tot op 'n punt...


Mistici uit die verlede het te goed besef dat die Bybel se sleutelrol in 'n mens se geestelike ervaring iewers ophou.

Wanneer 'n mens in God se teenwoordigheid is, gebeur meer as net besig-wees met of nadenke oor die skrif.

'n Mens kan en moet steeds weer meditatief, biddend en nadenkend die Skrifwoord kou, herkou en herverteer.

Daaroor is geen twyfel nie.

Die omgang met die Skrif is egter steeds weer 'n ek-dit ervaring. Jy, die leser, sit by 'n geopende boek, gefokus op 'n teks. En, as alles mooi loop, bly 'n mens besig ook ook met die skrywer, die konteks en die mooiheid van uitsprake in die teks wat alles help om meer te "verstaan." 

Die geloofslewe gaan om veel meer.

Daarom sal 'n getoë skrywer soos Thomas vraend en selfs smekend bid: "Laat Moses of enige van die profete nie met my praat nie." 

En onmiddellik voeg hy by: "Praat U met my, stil en sag."

Dan word dit 'n U-ek verhouding. En ontstaan 'n intieme omgang met God.

Want, skryf Thomas, uiteindelik het Moses en die profete net kon praat omdat God hulle geïnspireer en verlig het.

God kan 'n mens sonder enige teks aanraak. Sonder God kan Moses en die profete nie veel uitrig nie. Hulle bied uiteindelik slegs woorde, maar God skenk die Gees. Hulle kan baie mooi praat en pragtige dinge kwytraak. Maar as God swyg, raak hulle nie 'n mens se hart aan nie. Hulle gee woorde, boeke, maar God onthul die betekenis. Hulle vertel van die verborge dinge, maar God lê die simbole uit. Hulle hou die wet voor en vertel van al die wonderlike dinge wat 'n mens moet nastreef. Maar God bekragtig 'n mens daartoe. Hulle wys die weg aan, maar God begelei en stuur 'n mens op die weg. Hulle werk van buite, maar God van binne deur die hart aan te raak. Hulle besproei die grond, maar God laat vrug dra.

So praat Thomas. Die mistikus.

Blog Archive