'n
Mens kan die geboorte-aankondiging oor Jesus se geboorte aan sy pa, Josef, lees
as 'n spesiale, bonatuurlike gebeurtenis: die engel verskyn aan Josef nadat hy
van Maria wou skei en die engel oorreed
hom om dit nie te doen nie.
In
die tyd van Jesus het skrywers dikwels hulle besondere ervaring van God se
werking in hul lewens oorvertel as "visioene". In so 'n gesig sien
hulle dan 'n goddelike boodskapper wat vir hulle kom verklaar wat op aarde
gebeur. Hulle ontdek dan hoe God aan die werk is in al die baie belewenisse wat
hulle het van hulle omgewing en gebeure om hulle.
In
'n sekere sin is die verhaal van Matteus oor die visioen van Josef 'n
beskrywing van die merkwaardige ommekeer wat daar in Josef se lewe plaasgevind
het terwyl hy daaraan gedink het om van Maria te skei. Dit is inderdaad
buitengewoon dat Josef so kon verander.
In
die ommekeer was daar iets aan die gebeur wat hulle net as 'n goddelike
ingryping kon verklaar. Dit sou "normaalweg" nie met Josef gebeur het
nie. Iets besonders moes gebeur het wat hom laat besluit het om nie vir Maria
te verlaat nie.
Teselfdertyd,
egter, is daar besonder sterk menslike, gewone trekke aan die verhaal. Trouens,
uiteindelik kry 'n mens die aanvoeling dat al die spesiale aspekte iets
besonders oor Jesus as mens en oor Jesus se lewe wil vertel.
Die
engel bewerk die ommekeer wanneer hy Josef eerstens bloot gerusstel. Dit is 'n
besondere gebaar teenoor Josef as mens. Hy hoef nie bang te wees nie (Mt.1:20).
Hy hoef ook nie te ly onder enige gewetenskwelling nie. Wat gebeur het, oortree
nie die wet van God nie. Trouens, die situasie wat Josef so verward gelaat het,
is uit die Heilige Gees. Josef, gekwel deur die onverstaanbare situasie, kan
uiteindelik vrede hê dat wat in Jesus gebeur het, 'n goddelike ingryping is.
Ook in hierdie moeilike saak is God teenwoordig en aan die werk, soos dit altyd
in die mensdom se geskiedenis gebeur het. Dit is 'n verhaal dus, wat met
ontferming reageer op die innerlike woelinge waarmee Josef worstel, maar dit is
ook 'n verhaal wat aan hom die verborge werking van God in sy lewe uitwys.
Josef, die vroom mens, hoef nie te wanhoop nie. God staan hom by en begelei
hom.
Tweedens
troos die engel hom oor die langtermyn konsekwensies van die traumatiese
gebeure wat Josef beleef. Die verhaal verklaar wie die seuntjie is wat Maria
verwag en noem selfs wat sy naam moet wees. Die boodskap is eenvoudig. Jesus is
sy naam, want hy is die verlosser van die volk.
Ulrich Luz beklemtoon dat hierdie verhaal eintlik 'n verhaal van
naamgewing is. Naamgewing was in bybelse tyd belangrik. 'n Mens se naam vertel
wie jy is. En ook hier in die verhaal van Josef word die eeu-oue gebruik van
naamgewing nagevolg. Matteus onderstreep deur die naam dat Jesus sonde vergeef.
Josef kry dus vroeg-vroeg sekerheid oor wat hy sy kindjie moet noem, maar hy
ontdek ook dat sy seun 'n spesiale lewenstaak het. Hy hoor, sekerlik met
gemengde gevoelens, dat God ook in sy kind se lewe op 'n spesiale manier
teenwoordig sal wees.
Maar
daar is 'n verdere "gewone" kant van hierdie unieke verhaal. Die
engel haal as bewys vir sy boodskap 'n woord uit Jesaja 7:14 aan. 'n Woord van een
van die mees geagte profete word deur die goddelike boodskapper gebruik om die
gebeurtenis te verklaar. Die Bybel - en nie een of ander ekstatiese gebeurtenis
nie - bevestig aan Josef die spesiale karakter van die gebeure. God gebruik die
bybel om Josef verder te laat inlig. Josef, in sy vroomheid, 'n kenner van die
Bybel, word op die manier verder in sy verstaan en in sy meditatiewe nadenke
bygestaan. Stel jou voor wat hier eintlik aan die gebeur is: saam doen die
engel en Josef bybelstudie om die diepe betekenis van die kind se lewe te
begryp.
Dit
is tog opvallend dat Matteus 'n engel gebruik om die Bybel vir Josef uit te lê
sodat hy kan insien watter spesiale ervaring hy beleef. Dit gaan hier om 'n mistieke
saak, om die verborge teenwoordigheid van God in die lewe van die kindjie te
probeer verduidelik. Dit is iets wat moeilik uit te druk is. Daar is nie regtig
taal daarvoor nie. En tog: Matteus laat in sy vertelling die engel teruggryp op
die profete-boek van Jesaja om die verborgenheid te verduidelik. Die skrifte
wat Josef so dikwels aangehoor en gelees het, voorsien nou die boustene om
uitdrukking aan die verborgenheid van die gebeure te gee. Die taal van die
verre verlede, die boeiende woorde van Jesaja 7:14, word nou taal om te praat
oor wat in die tyd van Jesus aan die gebeur is.
Hoe
anders? Hoe kan 'n mens eenvoudigweg praat oor die unieke saak dat 'n mens vry
kan word van alles wat 'n mens bind en verslaaf, en van alles wat 'n mens tot
uitsigloosheid verdoem deur die lewe van 'n ongetroude vrou se kind? Hoe bedink
'n mens dit dat 'n kindjie se geboorte die koms van die versoentyd inlui?
Jy
doen dit deur "gewone" woorde van die wyses uit die verlede in te
span. Wat hulle in hul tyd neergepen het oor hulle besondere ervaring met God,
word dan in latere tye die materiaal waarmee latere skrywers ook vertel hoe
hulle die nabyheid van God beleef het.
Mense
soek dikwels om oor die uitsonderlike te praat op vreemde maniere. Maar in die
mistiek werk dinge nie so mens-vreemd nie. By al die gebrekkigheid van menslike
taal, bly dit 'n wonder dat 'n mens tog weer iewers, stamelend, mense-woorde
bymekaar bring wat op een of ander manier uitdrukking gee aan diepe, intieme en
lewensveranderende ervaringe. Mense lees hoe ánder vertel van die oomblikke dat
hulle naby aan God is. En daardie woorde inspireer hulle - en leen hulle - om
ook van hul eie ervaringe te praat.
Jesaja
word die inspirasie van Matteus om belangrike insigte oor Jesus deur te gee.
Hoe
gewoon, heel gewoon, hoe menslik, deurgrondelik menslik, is ons spreke oor God.
Juis deur hierdie menslikheid transformeer
dit ons. Omdat dit dan so naby aan ons kom. By al die verwondering oor die
goddelikheid en andersheid van die Verborgene in die mens se lewe, is daar die
dankbaarheid dat mens op een of ander manier tog, deur verlangende nadenke, en,
genadiglik, die Verborgene kan verstaan.