Friday, July 03, 2009

The cloud of unknowing. Oor 'n klasieke teks met 'n mistieke liefdesfokus

Wanneer word ‘n mistieke teks ‘n klassieke teks? As mense van geslag tot geslag dit bly lees. Die Navolging van Christus deur Thomas a Kempis is klassiek omdat dit nog steeds vertaal en gelees word. Nog so ‘n werk is The Cloud of Unknowing (Die Wolk van Nie-kennis of On-kennis) geskryf tussen 1350 en 1380. Ons weet nie wie die skrywer is van hierdie boek wat so ‘n reuse-invloed in die geskiedenis van spiritualiteit gehad nie.

Dit is ‘n boek wat treffend oor gebed praat. Die skrywer moedig mense aan tot gebed sonder woorde – wat ‘n mens amper aan die beroemde Jesus-gebed laat dink. In hoofstuk 8 van die boek skryf hy dat ‘n mens jou hart moet ophef in verlange na God. Daarvoor moet ‘n mens ‘n kort woord kies. Hoe korter hoe beter. Eintlik moet so ‘n woord nie langer as een lettergreep wees nie, byvoorbeeld “God”. Of ‘n kort woord soos “liefde” (in Engels “love”). ‘n Mens moet hierdie woord gedurig in jou hart vashou. Die woord inspireer jou, beskerm jou, herinner jou en gee jou die antwoord waarna jy hunker. Dit word amper ‘n skild teen alles wat jou gedagtes oor God afbreek. Dit is nie ‘n woord wat jy kies omdat jy oor die woord wil nadink nie. Jy ontleed nie die woord met allerhande slimmighede nie. Jy hou vas aan die woord om alles wat negatief op jou wil inwerk uit te ban. Op die manier word gebed jou brug na God, jou oop-wees vir God se ervaring en is ‘n gebed meer as iets wat jy doen net ter wille van gebed. Dit is 'n belangrike korreksie op 'n houding dat 'n mens God met baie woorde moet ompraat om vir ons goeie dinge te gee.

In hierdie boek is twee dinge belangrik:

1. Die hoogste van alles in mens se lewe is om met God in liefde verenig te word. Vereniging met God beteken nie vir hom dat die mens vergoddelik word nie. Hy verstaan dit eerder in Bybelse sin dat jy deur God in jou innerlike aangeraak word. Vir hom is ons eenheid met God nie ‘n verstandelike ding nie, hoe belangrik ook al kennis is en hoe dit ook al ‘n gawe van God is. God is juis dan ver bo ons verstand verhewe. Waar God is, kan ons verstand nie bykom nie. God woon in die wolk van nie-kennis, van nie-wetendheid. Ons moet met God verenig word deur in hierdie wolk van nie-wetendheid in te gaan.

2. Ten nouste hang hiermee die ander aspek saam wat hy in hoofstuk 43 beskryf: om met God een te word, beteken dat ‘n mens in God se liefde moet bly. Liefde word in genade aan ‘n mens deur God gegee. Juis daarom wil ‘n mens alles afsterwe en jou alleen op God instel. ‘n Mens moet dus in ‘n wolk van vergetelheid intrek deur alle aardse bindinge af te sterwe en te ontgroei. Al jou kennis en ervaring oor jouself is eintlik nietig en staan net in die pad van jou ervaring van God se liefde. Hoe kan jy God in liefde ontmoet as jy gedurig oor jou eie dinge nadink of daarmee besig bly? Sterk skryf hy: ‘n Mens moet eintlik jou aardse bande onder jou voete vertrap. ‘n Mens moet, skryf hy, selfs die dinge wat jy vir God gedoen het, vergeet. Pragtig, eenvoudig en prakties voeg hy by: “Die mens wat volmaak lief het, het dit wat hy lief het meer lief as wat hy homself lief het. ‘n Mens haat jouself in ‘n sekere sin ter wille van dit wat jy lief het.” ‘n Mens moet alle gedagtes en begeertes in jou verag as dit nie God is nie. ‘n Mens moet nie eers toelaat dat gedagtes oor jou eie bestaan tussen jou en God te staan kom nie.

The Cloud of Unknowing staan in die tradisie van die "apofatiese mistiek" van Dionusios die Areogpagiet. In hierdie vorm van mistiek wat "verby woorde" beweeg, beklemtoon die mistikus veral dat mense God nie kan ken nie. God is ver verhewe bo ons menslike verstand en ons beperkte menslike taal kan God nooit in woorde vasvang nie. God is immers die Skepper en daar is ‘n radikale verskil tussen God as Skepper en die mens as die geskapene. In hierdie boek kry ons ‘n vorm van mistiek wat die transendensie van God ernstig opneem (God wat verhewe is en uitgaan bo die menslike bestaan).

Dit beteken glad nie dat ons van God afgesny is nie. Ons kan juis een word met God. In die geval van die Cloud of Unknowing word, aangrypend, geskryf dat die mens God deur die roeringe van die liefde kan ervaar. Hier leer ons ‘n vorm van liefdesmistiek ken. Dit is juis wat hierdie mistiek so aantreklik maak. Dit vertel vir ons van die onoortreflike liefde van God wat, soos in die Verlore Seun gelykenis, liefdevolle verhoudings moontlik maak.

‘n Mens moet die Cloud of Unknowing in sy tyd lees as ‘n boek wat die kontemplatiewe mens wil begelei om die eenwording met God eg te beleef. Dit waarsku teen misplaaste vroomheid wat in die ekstatiese en in allerhande emosies belangstel en dan die belangriker dinge mis. Dit leerweer 1 Kor.13 se uitsprake dat die taal van die liefde groter is as die taal van glosssolalie of selfs van engele.

Dit is nie ‘n boek wat vir die gewone mens ‘n program vir die lewe wil uitwerk nie. Daarom praat dit nie oor die ligaam, oor ‘n mens se natuurlike begeertes en seksualiteit nie. By sommige mense kan hierdie fokus ‘n negatiewe houding teenoor jou liggaam bevorder. Die skrywer wil juis nie die daaglikse praktyk afmaak of as minderwaardig skets nie. Maar hy besef iewers te goed hoe verganklik die liggaam is, hoe gou is die materiele verby. Hy weet, in die lig van God se ewige liefde, dat daar dinge is wat baie groter en dieper is as al ons aardse bedrywighede. Dit is sy fokus. En dit is 'n boodskap wat vir ons tyd baie kan beteken.

Die skrywer is wel ‘n kind van sy tyd, maar hy stel eintlik veral belang in aanskouing van God, in heiligmaking en in gebed. Hy kom uit ‘n tyd van die Engelse mistiek uit die veertiende eeu toe mistieke skrywers gewaarsku het teen ‘n tendens dat liefde tot die ander ‘n mens se liefde tot God kan aantas. Hierteenoor fokus hy baie sterk op liefde tot God wat so ver bo ons verhewe is. Dit is ‘n belangrike fokus en in lyn met die Bybelse boodskap oor God. Ek het dikwels die gevoel dat ons hierdie boodskap dringend vir ons geloofsreis vandag nodig het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive