Monday, July 13, 2009

Geluk in duisternis; oor sondebewoëndheid



Hierdie skildery is in 1607 deur Carvaggio geskilder onder die titel: die geseling van Christus. Dit is 'n aangrypende, ryk uitbeelding van Jesus se uitlewering aan lyding en verwerping.


Spiritualiteit word dikwels geassosieer met “geluk”, ‘n gevoel van innerlike vervulling, geestelike groei, transformasie en ‘n intieme verhouding met God.

Mense wat soek na innerlike vervulling, wil ervaar dat hulle potensiaal tot volle ontplooing kom. Hulle ware mens-wees moet na vore kom.

Daarom dink ons dikwels die dae van die hel-en-verdoemenis preke is verby. Ons gaan kerk toe, nie om verder in die grond geboor te word en te hoor ons is so sleg nie. Ons is verslae, vernield en wanhopig genoeg om nog verder afgebreek te word.

En dit is goed dat ons in verset kom teen ‘n tipe boodskap wat moralisties vir mense as goed of sleg uitmaak. Dit is soms afgryslik om te hoor hoe predikers vinger-swaaiend vir mense vertel presies hoe sleg hulle is.

Maar tog is ons geestelike lewe kinderagtig as dit dink ‘n mens moet die sonde ignoreer deur versigtig daarby verby te stuur. In die vorige blog het ons juis daaroor gepraat dat ‘n mens die erns van sonde moet begryp en die greep daarvan op ons lewens nie moet miskyk nie.

Dit is waar van ons eie lewens, maar ook van ons wêreld. Jesus se bergrede is deurtrek met ‘n liefdevolle ontferming vir almal in die wêreld wat arm is, wat na vrede soek, wat treur, wat met stil, sagte harte leef, wat vir ander omgee, wat rein van binne is... En tog praat Jesus met dieselfde mense oor egskeiding, moord, doodslag, onreinheid en ander donker skaduwees in ons lewens. En later sou Jesus, ontsteld, ook die sondes van die hele volk vreesloos aanvat toe hy die spekulante uit die tempel verjaag het omdat hulle van God se gebedsplek ‘n rowerspelonk gemaak het. Met swepe.

Die wêreld is die plek waar ons God vereer, met God verenig word, uitroep na God wat heilig in die hoogste hemele, maar ook heilig in ons midde woon. Maar watter rowerspelonk het ons nie van God se aarde gemaak nie. In ons eie lewens, maar ook in Zimbabwe, in Rwanda, Afghanistan, New York, Hollywood en plekke van afgodery oor die aardbol heen is dit vir ons asof ons vir God nie meer kan vind nie. Daar hang ‘n donker wolk oor ons wêreld wat ons uitsig op God verdoof. In so ‘n wêreld kan niemand gelukkig wees, sy of haar volle potensiaal ontwikkel nie. Ons kan dit nie ignoreer dat ons in duisternis woon nie. Wie dit wil doen, ontvlug sy verantwoordelikheid, is liefdeloos, verstaan nie God se hart nie en leef met ‘n dooie hart.

‘n Geestelike mens, iemand wat naby aan God leef, huil saam met Jesus oor Jerusalem wat ‘n tempel vir God het, maar wat God daaruit verdryf het. ‘n Mistikus is nie iemand wat mooi vroom kan bid dat God ‘n mens pyn en lyding spaar nie. Want hoe kan ons sonder pyn wees as ons wêreld deursuur is met lyding? Elke keer as ‘n mens nuus kyk en hoor van lyding, is ‘n mens verpletter deur wat jy hoor en sien. Die pyn van ander kom lê in jou hart. Hulle pyn word joune. As ons gedink het sonde is om allerhande reëls te oortree, skraap ons net aan die oppervlakte. Sonde is om jou af te vee aan die pyn in hierdie wêreld, om daarvan weg te vlug en jou rug daarop te draai. Want, dit is die diepe verborgenheid, wanneer ‘n mens dit doen, draai jy jou rug op God. Deur sonde te onderskat of te wil systap, sondig ‘n mens.

Jesus, hoor ons, het as Kneg van God, in die wêreld en sy duisternis ingegaan. Die Seun van God, vertel die Evangelies, het in die ure van duisternis, uitgeroep van sy verlatenheid van God. Maar sy uitroep was nie, soos sy mede-gekruisgde, ‘n hoon-roep nie. Dit was ‘n gebed. In die duisternis, in die tyd van sy diepste lyding, het hy nog vir God geëer, na God geroep.

As ons dink dat ons nie in die wêreld se duisternis hoef in te haan nie, word ons tot bekering geroep. Want as ons nie ons kruis opneem, soos Jesus nie, dan kan ons nie een word met God nie. Juis daarom word ons tot rou en boete-doening geroep en staan ons voor God met die belydenis: ons is arm, arm aan medelye, arm aan ontferming, arm aan sagmoedigheid. Ons is nie honger nie, het nie dors nie, kyk weg as ander ly, vermy ‘n sondige wêreld. Maar ons het nie innerlike vrede nie en is ons nie gelukkig nie.

Ons kyk na ons wêreld en ons sien donkerte. Ons kan deur die digte duisternis nie meer vir God raaksien nie, dink ons. Die armoede, die hongersnood, die droogtes, die hardheid, die lyding. Maar tog is God in die duisternis teenwoordig, roep Jesus in die bergrede uit. Wie treur oor God se afwesigheid, wie uitroep oor die hongersnood, oor die hardheid, moet weet: God is daar! En daarom kan hulle gelukkig wees! God is by die armes, stilles, treurendes, hongeriges, dorsendes. Salig, salig, salig, salig, salig is julle wat in die duisternis gedompel is, wat arm is, treur, honger en dors het. Julle wat in hierdie duisternis woon en hierdie duisternis deel met al God se ander kinders, julle ontvang God se koninkryk, julle word deur God geregeer, God is julle koning. Dit is die mistieke antifrase. Ons gru vir armoede en ontbering, en tog, God gru nie daarvoor nie. Ons is sku vir lyding en ellende. Maar God woon daar.

Kyk maar na die eenvoudigste voorbeeld hiervan, in Jesus se lewe. ‘n Kruis in die duisternis, stik-donker, maar dan die gelowige uitroep: Waarom het U my verlaat, my God? Die Kneg, die Seun van God sal die gelowige mens aantref in die donker van ‘n kruis.

My hart smag na God. Ek sien U nie! Maar ek hoor die Gees sê: luister die verborge woorde en weet: U is daar! Hierdie wêreld wys nie vir my U gesig nie. Maar hoor God se antwoord: die wêreld behoort aan U! Ek wil nie weghardloop van die donkerte nie. Ek wil daarna kyk, dit selfs geboeid omhels. Want hier, in die donkerte, is U.

Hoe word ons volledig mens? Hoe kom ons tot ons ware potensiaal? Hoe vind ons vervulling? Hoe word ons gelukkig?

Deur in die duisternis in te stap en by God in die verborgene te woon. As ons dit kan doen, het ons ons volle potensiaal bereik. Ons vind vervulling in hierdie verborgenheid.

Dit het Jesus gedoen. Die klein, bruin Jood, die aardse, vervloekte een (a la Cussons), wat terselfdertyd juis daarom die kosmiese, volmaakte Christus is. ‘n Verborgenheid. 'n Mistieke antifrase.

Ons geloof is nie vulgêr nie. Dit rus nie op oppervlakkighede nie. Dit vind sy volmaaktheid in solidariteit met die plek van leegheid. Dit vind sy grootheid in sy fokus op die geringste.

Wie die verheerlikte Jesus wil vind, moet maar die waagstuk aanvat en kruis toe gaan, die donkerte in. Wat ‘n skoonheid.

(Met dank aan Merton, The Inner Experience).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive