Wednesday, July 15, 2009

Ons soek die liefde omdat dit liefde so mooi is. Oor die mistiek van die liefde en Bernard van Clairvaux



‘n Mens kan baie oor die mistieke liefde praat terwyl jy dit nie leef nie. Hadewych van Antwerpen sê ‘n mens moet die grammatika van liefde aanleer as jy in liefde wil leef. Dit is swoeg en sweet om jou in die liefde in te oefen. Weldra ontbrand egter dan ‘n liefde vir die liefde. En dan ontdek jy dat dit deel word van jou natuur en dat jy dan die liefde natuurlik leef. Soos asem vir die liggaam, so word liefde dan vir jou gees.

Die lewe in liefde is die hoogste sin van ons geestelike lewensreis. Om geestelik te groei is baie meer as om netjies deur breingimnastiek geestelike dinge uit te pluis. Ons verlang daarna om God met ons hart te bemin en te aanbid. Wat saak maak is dat ons harte uitgestrek raak, wyd, wyd uitgerek word dat ons liefde so wyd sal reik soos wat die hemel oor ons uitmekaar gespan is. Ons liefde moet so oorrrompelend mooi soos die skoonheid van die hemel wees, skryf Bernard van Clairvaux, die mistikus van die liefde.

Ek bedink na aanleiding hiervan vandag ‘n verder vraag: maar waarom soek ons hierdie liefde? Bernard skryf ‘n boek “Oor die liefde vir God,” waarin hy uitspel dat ons aan die begin van ons geestelike reis dikwels uit blote selfsugtigheid vir God soek. Ons verwag van God belonings. (Ek gee ‘n tiende, God sal vir my geldsake sorg....). Of ons is bang vir die hel. Of ons wil graag eendag weer ons geliefdes in die hemel ontmoet. Of, soms is dit bloot net omdat God ons troos wanneer ons God soek.

Deur meditasie, gebed, Bybelstudie en goeie dade dien ons dan vir God. Maar, amper soos Hadewych, sê Bernard, word ons naderhand met vreugde gevul deur ons soeke na God. Ons ontdek die vreugde van by God wees. Uiteindelik leer ons naderhand om God self lief te hê sonder enige selfsugtige oorwegings.

Grace Jantzen (in haar uitstekende boek met die titel Power, Gender and Christian Mysticism) skryf dat Bernard hiermee eintlik verder gaan as om die liefde as die hoogste doel van die mistiek uit te wys. Waarom soek ons liefde? Nie bloot net omdat dit liefde is nie. Ons soek dit omdat dit ons so oorrompel in sy skoonheid. Die liefde bring vreugde en genot. As ‘n mens vir God lief is, ervaar jy skoonheid, aantreklikheid, begeerlikheid, onweerstaanbaarheid, onmeetlike heerlikheid. Dit bring jou in verwondering. Ons soek die liefde, omdat die liefde so mooi is!

Dit is soos ‘n pa of ‘n ma wat vir die eerste keer hul pasgebore baba in die hande neem: jou liefde is oorweldigend, want hierdie baba is so kosbaar, so mooi, so onskuldig, so hartroerend kwesbaar. Dis nie net die liefde wat alles in jou omkeer nie, maar dit is die liefde vir hierdie pragtige, onskuldige klein wese wat jou in beslag neem.

Om God in liefde te sien, is, skryf Bernard, soos om die koning in sy prag en skoonheid in die oase in ‘n woestyn te sien binnegaan. Daar is koel, lafende tuine vol rose in volle bloei, vol lelies langs rustig vloeiende waterstrome. Die tuin is vol geure en orals kan die koning die heerlikste voedsel vind. En daar is ook ‘n plek waar die koning in stilte, in afsondering ‘n rustige nag kan deurbring. Die liefde betower. (Sien en bedink die foto hierby...).

Waarom het ‘n mens lief? Omdat dit vervullend is. Dit laat jou vol word met die allermooiste van skoonheid, met oneindige aantreklikheid.

Eintlik weet ons dit uit ons daaglikse ervaring: om altyd in die geselskap van ‘n liefdevolle mens te wees, is ‘n heerlike ervaring.

Hier moet ‘n mens ‘n dieper punt verstaan: Bernard het in liefdestaal oor God gepraat, maar telkens weer gewys dat ‘n mens nooit deur taal reg kan laat geskied aan wie God werklik is nie. Uiteindelik is taal te swak en te beperk om God se skoonheid in liefde te peil. Ons probeer en ons staan verstom voor die heerlike liefde van God. En as dit goed en mooi klink wanneer ons dit so in woorde oorvertel, hoeveel groter en mooier is die liefde nie werklik nie! Die skoonheid van die liefde is groter en heerliker as wat ons ooit in taal kan uitdruk.

Ek bemin die liefde, want die liefde is betowerend.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive