Thursday, July 16, 2009

'n Mistieke lees van Efesiers 3:14-21. Oor die verborgenheid van God se liefde

Ek loop nou al twee dae my en verwonder oor Efesiërs 3:14-21. Paulus skryf as volg in die gedeelte:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van ons Here Jesus Christus, aan wie elke familie / gemeenskap van gelowiges in die hemele en op die aarde sy bestaan te danke het,
• dat God aan jule mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur die Gees in die innerlike mens,
o sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,
• en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en die lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref,
o sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.
Aan God wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan God die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!


Dit klink bietjie drogerig, maar as 'n mens dit in jou gedagte opneem en daaroor begin nadink, dit begin bedink en herkou, is dit 'n gebed, 'n oratiewe teks, wat jou gemoed vol laat skiet.

Paulus praat diep sake in hierdie brief. Hy skryf in Efesiërs 2 oor die boodskap van God se liefdevolle genade: ons is van ons slegte verlede (Efes.2:2-3) vrygemaak deur “die grote liefde waarmee God ons liefgehad het” (Efes.2:4). Ons lewe staan in die teken van transformasie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Iets radikaals het met ons gebeur. Ons verhoudinge is totaal omgekeer. God het ons aangeraak. Wat aleg was, wat ons verniel het, is nou verby. Ons armoed kan ons agter ons laat. Ons word ryk gemaak: Ons, die heiden-nasies, ons wat altyd buite in die koue moes staan, wat op die rand van die liefde gewoon het, word nou saam met die Jode deel van God se nuwe familie (Efes.2:19).Ons is God se nuwe familie, opgeneem in God se nuwe liefdeskring.

Hoe kan ons dit begryp, vra Paulus eintlik daarna. Dit is ‘n misterie, ‘n geheimenis, ‘n verborgenheid, skryf hy ‘n paar keer in Efesiërs 3. Ons, die heidene, hoor by Paulus, God se apostel, van God se ontsaglike, “onnaspeurlike” rykdom wat vir ons as gawe gegee word. Hoe bevoorreg is ons nie. Die volk wat in duisternis woon, het 'n lig gesien.

Dit alles beteken heel eenvoudig dat ons heeltemal anders na die lewe kyk. Omdat ons hierdie verborgenheid ontvang en leerk ken het, daarom kan ons nie moedeloos word in verdrukking nie. Ons verdrukking is ons eer! Om te ly, is niks. Want ons is by God. (Efes.3:13). Die nietiging! Alles wat ons ervaar wat altyd vir ons so swaar lyk, is niks, is nietig, in die lig van die groot liefde wat oor ons uitgestort word.

En dan, na hierdie verborgenheid, volg Paulus se gebed oor God se ryke heerlikheid (die kabod – die teken van God se mistieke teenwoordigheid) wat ons innerlik sterk maak. Paulus kan nie meer stilweg oor hierdie groot, diep dinge skryf nie. Hy breek uit in gebed, lofgebed. God se heerlikheid gee ons mag, skryf hy in sy gebed.

Die vereniging, die wederkerigheid! God, die heerlike, word deel van ons, die kragteloses, die verdruktes, die eerloses. Dit is hoogste intimiteit: God se Gees gee ons die krag. Die asem van God kom blaas krag in ons. God is naby aan ons, in ons “innerlike mens,” ons is met God in ons diepste wese verenig (vers 16).

Ons ontvang nou geloof – en dit beteken; Christus kom woon in ons harte (vers 17!). Weer eens die intieme, vervullende, inwonende vereniging van die goddelike met die binneste deel van ons lewe, ons hart. Hierdie keer nie die Gees nie, maar Jesus. Dubbele inwoning...

Ons ontstuimige hart kom tot bedaring. Ons dra in ons, diep in die sentrum van ons bestaan, in ons hart, die Gesalfde, die Messias, die Christus (vers 17).Die een wat aan Joodse gelowiges beloof het, kom woon nou ook onder hulle wat eenkant geleef het.


Paulus kan hieroor nie ophou nie: dit alles beteken dat ons nou in die liefde gewortel en gegrond is. Die Grieks stel dit presies so: die liefde het in ons wortel geskiet, die liefde het die fondament van ons bestaan geword. Liefdesmistiek! Ons eenheid met Christus in die geloof, plant ons in die liefde in, laat ons rus op vaste fondamente van liefde. As ons groei, groei ons liefdesvrugte. As ons bou, bou ons liefdeswonings. (Vers 17) Om by God in Christus te wees, beteken dat die liefde in my woon.

En dan uiteindelik Paulus se diepste uitspraak (verse 18-19). Wanneer ons glo en in die liefde is, staan ons verstom daaroor: die liefde is wyd, lank, diep en hoog, ver bo ons verstand. Dit is mooi, dit is pure skoonheid.

Ons is verlief op die liefde. Dit oortref alle kennis. Dit vervul ons tot die volheid van God (vers 18-19). (Hadewych, Bernard van Clairvaux!). Die volheid van God vervul ons heeltemal! Ons vind verruking in totale eenwording met God.


Dit is eintlik te groot, te veel. Sal dit werk? Ons sal moet strek en kreun en groei. Maar God se liefde stuit vir niks. God wil ons so groot maak soos wat God ook is - ons moet God se beeld dra. Ons sal die volheid van die liefde uiteindelik smaak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive