Saturday, July 04, 2009

Die belangrikste van alles




In hierdie tyd word iemand wat sewe maande swanger skielik siek. Sy verloor vog en moet nou vir twee maande tot met die geboorte van die baba in die bed bly. Sy mag nie beweeg nie. Sy moet uit die werk bly, haar salaris prysgee en met groot pyn saamleef om die kindjie se lewe te beskerm. Al die duisende dinge wat haar aan die gang gehou het, word nou tot stilstand gebring ter wille van die kwesbare lewe van ‘n ongebore kindjie. En dit doen sy met totale toewyding. Wat nou vir haar as die moeder regtig saak maak, is dat die kindjie veilig en gesond gebore word. Die diepste begeerte in haar lewe is nou die wonderbare lewe wat sy in haar omdra.

‘n Mens staan verwonderd voor hierdie groot verborgenheid: hoe kosbaar die lewe is en hoeveel mense sal opoffer ter wille van so ‘n kindjie se lewe. Die ma se verlange om die kindjie veilig te versorg, transendeer nou alle ander dinge waarmee sy besig sou kon wees. Haar hele lewe word geïntegreer deur die welsyn van die baba. Al haar behoeftes, begeertes en belangstellings word nou saamgebind deur haar moedersinstink en haar moederliefde. Sy gee alles prys en stel haar nou totaal op net een ding in.

So gaan dit met ons lewens: alles wat ons in ons daaglikse besige program doen word deur sekere diepere behoeftes en verlange getransendeer. Alles wat ons doen word saamgebind deur hierdie diep verlange. Sekere dinge is maar net belangriker as ander. Ons verlange na God is vir mense so ‘n alleroorheersende saak. Ons hele lewe, voel ons, vind net rus wanneer ons in verlange na God kan gaan en deur God se liefde heelgemaak word – al kos dit soms pyn en al moet ons soms baie dinge prysgee. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar hierdie verlange bly by ons spook. Dit is die verlange na die Lewe en die Liefde. Daarsonder kan ons nie. Wie sonder liefde is, verloor sy of haar menslikheid en word hard soos ‘n klip, leweloos en ongevoelig.

Dit is die groot verborgenheid: God woon in liefde in ons, soos ‘n fetus in die moeder. Net soos ‘n biologiese ma alles prysgee en alles inrig op die baba, net so vind ons alleen vrede as ons ons verlange na God kan stil en ons hele lewe deur God se liefde vervul kan word. Net soos wat ‘n ma pyn verduur solank as wat die baba maar veilig is, so kan ons ook baie dinge prysgee as ons maar net by God kan wees.

Hoe weet ons dat ons lewens alleen tot rus kan kom as ons na God uitreik? Ons hart sê dit vir ons: ons bly onrustig, maar as ons in stilte en eenvoud by God is, dan kom ons hart tot rus. Ons kan sonder baie dinge klaarkom, maar ons kan nie sonder die Liefde leef nie.

Dit is dan mistiek: dat ons menslike gees verlang na dit wat werklik saak maak en dit wat al ons begeertes tot vervulling bring – na die hoogste transendensie en die hoogste integrasie. Ons staan verwonderd en met eerbied voor hierdie totale verborgenheid wat ons nie met ons verstand kan peil nie. Ons ervaar hoe ons in eenheid met ‘n liefdevolle God verbind word en ons wéét alles wat ons het en wat ons ervaar wil ons prysgee om naby God te kan wees. Ons wy ons hele lewe aan God en ons word deel van en deursyfer van die Liefde. Dit maak van ons mense, mense met warm, kloppende harte van liefde wat omgee.

Heel eenvoudig gestel: die mistieke ervaring is wanneer ons in eerbied en met ‘n diepe vrede voor die wonder van alle wonders staan – dat God in ons woon. Ons staan voor God, die Liefde, en ons wil ons wy, volkome oorgee aan die Liefde sodat die Liefde in ons kan woon en deur ons stroom. Hoe aaklik sou die wêreld nie sonder hierdie Liefde wees nie! Dit sien ons baie keer. Maar net so dikwels, gelukkig, sien ons ook hoedat hulle wat in die Liefde woon, die onmenslikheid op ons wêreld verdryf.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive