Friday, July 17, 2009

Die soekers maak die soektog mooi.... Oor die mistiek van die aarde....



Kerk in Vosburg in die Karoo. Kyk die swewers in die lug!

Die Kyknet program, “Boer soek vrou” begin sy tweede reeks. Die eerste program het die land in vervoering gehad. Vanaand besef ‘n mens opnuut waarom dit so gewild was as jy kyk na die inleidende program oor die tien boere van oor die hele land wat vir die volgende maande groot aandag met hul liefdesafari gaan trek.

Ek kyk só na hierdie boer-kinders en dink by myselwers dat ek glad nie sal omgee as een van hulle my skoonseun sou wou word nie. Watter indrukwekkende mense is nie op ons plase aan die boer nie! Dit is lekker om te hoor hoe hulle praat oor hul boerdery. Daar word duidelik gewerk op die plase, hard gewerk. Boer het nie tyd vir twak of kleilat gooi nie. En daar word kundig gewerk. Die beeste en vee is spekvet, uitsoek diere, goed versorg en pragtig, pragtig op die oog. Die boere laat glip allerhande indrukwekkende uitheemse name van die beesrasse sommer so losweg van hulle tong af – so asof hulle oor laas week se rugby praat. En daar is groot, blink trekkers op die werf. Duidelik nie die ou dae se poer-poer slepertjies van ploeë nie. Die dae van dinky toys is verby. Hier praat ons van bulle van trekkers met allerhande tegnologiese blou linte op hul borste. Hulle blink en hulle beïndruk. Ek dink, daardie girls wat op die plase opdaag moet liewers nie die trekkers sien nie. ‘n Man wil mos nou nie dat iemand jou vat oor jou perd of jou trekker nie. Laat my dink oor my gasheer op Prieska wat vertel sy paar miljoen rand stroper hardloop op sy eie deur die oes, gestuur deur ‘n rekenaar en ‘n satelliet-navigasie sisteem. En al wat die een werker in die stuurkajuit min of meer doen is om te kyk dat die liggies brand. Broer masjien sorg vir homself.

En die boere praat die mooiste Afrikaans, is mense wat soek na die ideale dinge en wat duidelik vol romantiese afwagting is op die vroulike weergawe van die ridder op die perd wat die werf sal inry en liefde bring waar daar groot ruimtes daarvoor ingerig is. Dis uitsoek-mense op hierdie program. Hulle weet wat hulle wil hê.

Solidariteit moet die program stuur aan elkeen wat uit Suid-Afrika geëmigreer het as hulle ons mense wil terugbring na hul land toe. Ek is breëbors oor die mense van my land en oor die Afrikaansheid wat met so ‘n mooi gesig in die program uitgebeeld word.

Toevallig is die Amerikaanse program, Bachelorette waarin ‘n terterige meisie met geverfde lippe en geplukte broue iemand uit ‘n klomp terterige, kreatien-gelaaide Amerikaanse mans moet soek, net langs Kyknet se kanaal aan die gang. Gelukkig hoef ‘n mens net tydens die advertensie-gleuwe daarna te kyk. Wat ‘n kontras is die boerseuns van die volk nie teenoor die Amerikaans glitz en bling nie.

Ek het dus ‘n lekker aandjie gehad, ‘n goeie beloning op ‘n artikel wat ek vandag klaar geskryf het. Nogal oor die liefde in Filemon.


Ek onthou, terwyl ek so kyk, hoe ek altyd graag by die boere gaan kuier het en huisbesoek gedoen het. Daar is iets aantrekliks aan mense wat met die aarde werk, in die sweet van hul aanskyn. Dit kom vir my die mooiste vanaand uit in die jong boer, skaars dertig jaar oud, wat met die wysheid van afhanklikheid en ontbering, vertel hoedat hy elke oggend vroeg opstaan en buite toe gaan. Die eerste ding wat hy dan doen is om te kyk hoe die wind waai. “My dag is sommer mooi as die wind reg waai. Want dan weet ek die reën is aan die kom.” Weerloos voor die weer. Dankbaar as die elemente seën bring. Afwagting op die goeie. Opwinding oor die lafenis en die uitkoms. Die aarde hou jou voete plat op die grond.

“Ja,” sê die ander een, “daar is wel tye wat ‘n mens swaarkry. Maar jy doen maar jou deel. Jy werk hard. Gee jou helfte. En dan weet jy die ander helfte sal kom. Van bo-af”, voeg hy spontaan, natuurlik by. En dit word ‘n refrein, hierdie geestelike instelling (“sy moet my waardes deel,” “sy moet gelowig wees”). Jou hart reik uit na hierdie mense. Jy weet van die groot druk, die politieke spanninge. Jy weet hoe die landbouers die toekoms van die wêreld in hulle hande hou. Hulle moet ‘n ontploffende wêreldbevolking kos gee. En daarom, oor al hierdie dinge, gun jy hulle die liefde, die geselskap, die ideale maat waarna hulle verlang. Maar jy gun dit ook aan hulle omdat hulle sulke mense is.

Dis mense wat soek na liefde, na gesels, na goeie tye saam. “Wat op aarde kan jy hier in die uithoeke van die aarde, weg van nêrens doen vir ‘n meisie?,” vra die mooie Elma Postma, vroeër van Sewende Laan se blink Stefaans-familie. Boer dink na. “Ek sal my bottel wyn wat ek self gemaak het, in ‘n piekniekmandjie pak, saam met haar na die rivier gaan en by die dadelbome kuier en net lekker, lekker gesels.” Dit plekke is ver, die ruimtes is groot, die son is genadeloos, die elemente doen hul eie ding. En op hierdie woelige aarde, wat oor ons heers, kry hulle ‘n holte vir hulle voet. Mense wat so na an die natuur leef, kry iets van die aardse skoonheid in hulle bloed.

Watter ongelooflike land is dit nie wat ons van Bo gekry het nie en watter mense het hierdie land en ons taal en ons kultuur en ons godsdiens nie opgelewer nie. Ek kry pure nostalgie na ons winterreis verlede Junie deur die Karoo. Carnarvon toe, waar my oupa op ‘n plaas groot geword het. Loxton toe, daarna ‘n tydjie in Prieska. Die land is wyd, bar, groot, oneindig. En die mense is indrukwekkend. Laat my dink aan ons gesegde, “So wyd soos die Heer se genade...” Die land en die geestelikheid. Vermengd en verenig.

Wat my laat dink aan die aand toe ons naby Hanover op ‘n plaas oornag en ‘n plaasete met die boer-familie deel. Die boer het met olywe begin boer. Maar op ‘n hoogs wetenskaplike manier word die dinge beplan. Hier word nie net geboer nie. Hy is ‘n man wat opgelei is en wat met ‘n besigheidsin en vernuf sy ding doen in die groot, bar Karoo. En sy vrou, wat in Bloemfontein grootgeword het en haar beeldende kunste daar gestudeer het, ‘n volledige stadsmens, woon nou in hierdie niks by nêrens plek. In die eetkamer is daar ‘n beeld van ‘n vrou wat op haar rug lê en die lug in staar. Maar die beeld se voete is heeltemal uit proporsie te groot. Ek vra haar terwyl ons aansit daarna. En sy vertel dat sy vir jare op die plaas met ‘n ontstuimige gemoed rondgeloop het. Moeilik om aan te pas by die afstande en die afgeleë leefstyl. En toe het sy eendat in die veld ingestap en op haar rug gaan lê, net hemel toe gestaar. En terwyl sy daar lê het daar ‘n stilte in haar kom lê toe die besef by haar insink dat sy nou daar, in die oop vlaktes, wortel geskiet het. Sy leef nou met albei haar voete plat op die Karoo-aarde. Dit was haar oomblik van waarheid, van omkeer, van tuis-koms, van nes-skop.





‘n Ekstatiese oomblik. En sy giet daardie oomblik vas in ‘n beeld van ‘n vrou met groot voete, plat op die aarde. Om haar te herinner aan die mistiek van ons bestaan. Ons kan waar wees, op watter eensaam plek, hoe bar en hard ook al. Maar ons kan tog daar wortelskiet. Want wat saak maak is wat ons van die plek maak, nie wat die plek aan ons doen nie.

Ons is almal soekers. Die jong boere, soekers na liefde. Die wegtrekkers en ontheemdes, soekers na ‘n tuiste. En hoe mooi maak die soekers nie die soektog nie. Ons reis haal die beste uit ons uit, laat ons vra na wat ons regtig gelukkig maak. Ons lewensreis leer ons sif, leer ons liefhê, bind ons aan mekaar. Reisgenote in ‘n Kanaänsland. Hoe geseënd is ons nie, in hierdie land van ons met sy mooi mense.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive