Monday, July 20, 2009

Wat sê die Bybel self oor spiritualiteit?

Ons kan op allerhande maniere probeer om sinvol oor ons geestelike reis te praat. Soms doen ons dit met abstrakte woorde, soos “spiritualiteit” of soms gebruik ons die woord “mistiek.” Hierdie is twee moderne woorde waarmee ons baie ou insigte probeer verduidelik en verstaanbaar maak.

Die Bybel self help ons soms nogal baie om ons geestelike reis helder te begryp. Die Bybel vertel heel eenvoudig dat God vir ons lief het en ‘n verhouding met ons wil aanknoop. Maar wee jou as God jou hart aanraak. Dit skroei jou en God gryp jou om jou nooit te laat los nie. Iets verander vir altyd in jou en jou lewe loop nou ‘n nuwe koers in.

‘n Mens kan heel vroom hieroor praat, maar dit is iets anders wanneer hierdie verhouding met God beleef word. Dikwels word van ‘n ekstatiese belewenis gepraat. Daarmee word bedoel dat ‘n mens besef jy word deel van ‘n ruimte van liefde wat jou lewe vul en vir jou met nuwe oë na alles rondom jou laat kyk. Jy beleef jou self, ander en die wêreld op ‘n nuwe, vars manier en soos jy nooit gedink het moontlik is nie.

Die Bybel praat baie eenvoudig met ons oor wat hierdie liefdesverhouding beteken.

Eerstens is hierdie liefdesverhouding in Bybelse taal gelaai met eerbied, ontsag en selfs met vrees. Wanneer Paulus op ‘n dag deur God aangeraak word, val hy in eerbied neer voor dit wat met hom gebeur. Dit is ongewoon, veblindend en vreeswekkend vreemd. Dit maak mens huiwerig, ons word geboei, ons vrees selfs, ons word op ‘n onverklaarbare, vreemde manier in ons hart aangeraak. Ons kan nie verklaar wat met ons gebeur nie. Dit is vir ons ‘n skok. En tog ontdek ons dat ons deur hierdie vreemde ervaring ongelooflik gelukkig word. Ons word, byna soos ‘n vlieg by ‘n kers, nader getrek aan iets wat vir ons oorweldig in grootheid. Hier begin iets groots in my lewe. Paulus wat verblind op die grond neerval, gaan bid in Reguitstraat en word dan die een wat met passie die boodskap uitdra.

Tweedens word ons oorweldig deur ‘n gevoel van onwaardigheid. Wat ons ervaar, is so mooi, so oorrompelend, dat ons nie kan glo dat ons soveel skoonheid kan ervaar nie. Dit is soos om met ‘n modderlyf voor in die kerk langs die mooiste van bruide te staan om met haar te trou. Hoe kan ek dit doen terwyl ek so lyk soos ek lyk? Hier word ek uit die modderslyk van onheiligheid opgetrek en in ‘n ruimte van totale skoonheid opgeneem. Ek is by die heilige God en ek word deur God se heiligheid skoon gebrand. Wat ons ervaar is dus spesiaal, anders, uitsonderlik. As ons deur hierdie ervaring van heiligheid aangeraak word, wil ons liewers nie eers oor onsself dink nie.

Derdens gaan dit in spiritualiteit volgens die Bybel om God se goedheid. Hier waar ek voor God is, is sagtheid, teerheid, ontferming. Ek staan in verwondering en bewondering by ‘n God wat gaaf is teenoor my en wat oneindige goedheid oor my uitstort. Iemand gee vir my om. Daar word na my uitgereik. Ek ontvang oorvloediglik alles waarna ek verlang en wat ek nodig het. Paulus die moordenaar van mense word nie vernietig nie, maar deur God se goedheid oorweldig.

En uiteindelik gaan dit in spiritualiteit volgens die Bybel om volmaaktheid. Wanneer God my aanraak, wil ek soos God word. Ek beur vorentoe na ‘n tyd dat ek die beeld van God in my lewe kan wys. En ek begin dan ‘n reis waarin ek na volmaaktheid soek. Wanneer God my lewenspad kruis, word die saad in my gesaai wat moet uitblom tot die volle oes. Ek kyk met verbasing na myself en wat met my aan die gebeur is. Daar kom iets in my los wat my laat verlang om al die pad saam met God te loop, oor berge en dale, oor pieke, kruine, valleie en dale, om net by God te kan wees en eendag in volmaaktheid by God te kan bly. Ek wil nie meer wees wat ek was nie.

Wat my opval in hierdie Bybelse kernwoorde is die manier waarop God uitgebeeld word. Hoewel God so anders en so heilig is, hoewel ek in ontsag voor God staan, is dit iets verborge. Ek word deur God aangetrek. Dit is vir my goed om by God te wees. Dit is geen angs vir God nie. Ek is by die bron van die lewe, by die een wat volmaak is. En dat God kan uitreik en vir mens in ‘n verhouding kan opneem.... Hoe bevoorreg is ons nie.

Spiritualiteit vertel van die werking van die Gees, die Heilige Gees wat soos vlammende vuur oor my uitgestort word, maar wat diep in my kom nestel en my skoonbrand van alle donkerte wat die liefde uitdryf. Dit is goed om by God te wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive