Tuesday, July 14, 2009

Leef die mistiek in liefde. Oor Hadewych van Antwerpen



Maria Magdalena se huwelik (die liefde!)
Oorgeneem van: http://www.lebanonart.com/eng/mary_magdalen2.htm




Ek lees so bietjie oor die mistiek van die dertiende eeuse vroue mistikus, Hadewych van Antwerpen. Sy was afkomstig uit ‘n welgestelde familie, maar het deel geword van ‘n groep vroue wat hulle toegespits het op hande arbeid, sorg vir die armes en siekes en ‘n gebedslewe. Hulle is, soos wat ‘n mens seker maar moet verwag, weens hul oortuigings vervolg, maar het later as “Begyne” amptelike verlof gekry om hul werk te doen. Sy het 45 gedigte, 16 briewe in digvorm, 32 briewe in prosa-vorm en 14 visoene neergeskryf, in besonder passievolle vorm en diep gekleur deur liefdestaal. Haar werke is diepsinnig en het veral groot invloed op Jan van Ruusbroec, een van haar leerlinge en ‘n beroemde mistikus, gehad.

Ek is geboeid deur haar mistieke van liefde. Teenoor die groot manlike mistici soos Dionusios en Eckhart met hul klem op eenheid met God as die hoogste doel waarna die mens kan streef, bring sy ‘n hoogs uitdagende klem-verskuiwing in die mistieke tradisie. Wat, vra sy, behels die vereniging met God? Verenig met God – en wat nou? Eckhart sou sê ‘n mens vra nie eers so ‘n vraag nie. Die vereniging met God is dit waaroor alles gaan: die begin en einde van jou lewensoektog. Hadewych dink uniek en antwoord die vraag vanuit die mistiek van die liefde. Met passievolle, gelaaide taal, skets sy die liefde as ‘n hoogs intieme, vervullende, praktiese verhouding. Jy word in intense, intieme ervaring opgeneem in ‘n liefdes-eenheid met God. Maar: die liefde hou nie op as ‘n mens met God verenig is nie. As ‘n mens in passievolle liefde met God verenig is, op so ‘n manier dat dit jou hele wese, jou liggaam, jou totale bestaan in beslag neem, dan leef jy hierdie liefde uit in meelewing en diens aan ander. Eenheid met God beëindig nooit die liefde nie. Ek soek, skryf sy, “na niks anders as Liefde, werk niks anders as Liefde, beskerm niks anders as Liefde en jaag niks anders as die Liefde nie.” En vind jy die liefde, vul dit jou so sterk dat dit jou uitdryf om dit verder te gaan uitleef.

In die groot mistici soos Dionusios en Eckhart bring die vereniging met God ‘n mens tot die punt om soos God te wees, om die dinge van God te bedink. Dit is ‘n manlike, rasionele, intellektuele aanpak van die mistiek. Hadewych as vrou se liefdesmistiek laat haar sê dat ‘n mistikus ontmoet as hele mens die Liefde van God sodat ‘n mens die werke van God kan doen. En as ‘n mens die liefde wil ontdek, skryf sy, bedink jy wie die aardse Jesus was en wat Hy gedoen het. Jesus wys ons wat liefde is. Liefde is baie konkreet, tasbaar, voelbaar. Liefde is nooit spekulatief nie, dit is geïnkarneerd. Net soos Christus dryf ‘n mens nie weg van die ellende in die wêreld as jy met God verenig word nie. Soos Christus giet jy jouself uit in ontferming teenoor die ellendiges. ‘n Mens deel dus in liefde Christus se lyding. ‘n Mens omhels die ellende in solidariteit van liefde met die mensdom.

Hieroor sou ‘n mens nog veel meer kon skryf. Maar ek wonder die laaste tyd dikwels oor hoe ‘n mens die mistiek naby aan jou lyf kan bring. Die groot probleem is dat ‘n mens altyd teoreties daaroor kan praat sonder dat dit deel van jou bestaan word. En vandag kry ek nogal hulp in my leeswerk oor Hadewych. Hier is die voorbeeld: Bitter is dit om ‘n taal aan te leer. Jy sukkel en sukkel om die spel- en taalreëls aan te leer, om jou woordskat op te bou. En dan, op ‘n dag, kan jy Duits praat. Jy kan na gedigte luister, Mozart se oratoria in hul oorspronklike weergawes gaan luister. En dan word jy verlief op die taal, want dit bring skoonheid in jou lewe.

Dit is, sê Hadewych, wat met ons en die liefde moet gebeur. Ons moet leer om die liefde lief te hê. Daar moet in ons ‘n begeerte wees (biddende verlange) om die liefde te leer ken. Mettertyd gebeur dit ook dat jy op ‘n dag, in ‘n ekstatiese oomblik, besef dat jou bemoeienis vrug dra. Jy verloor jou in die liefde, jy is op die liefde verlief. Jy besef op ‘n dag hoe kragtig, hoe mooi, hoe lewegewend, hoe oorwinnend, hoe genesend, hoe menslik, hoe goddelik die liefde is. En dan volg die verdere fase: jy doen die werke van die liefde. Die Liefde het so deel van jou natuur geword dat jy die Liefde van nature begin doen. Nou word jou lewe geïntegreer: wat jy dink, wat jy begeer, wat jy ervaar, wat jy doen kom alles saam in die krag van die Liefde. Jy is ‘n “heel” mens, jy het die beeld van God wat Liefde is en Liefde doen in jou.

‘n Mens kan slim praat oor die liefde. Jy kan allerhande debatte daaroor voer. Dit fyn ontleed. En tog kan ‘n mens nie die liefde leef nie. Dit is die mistieke: om so oor die liefde te dink, dat dit deel word van jou bestaan en jou lei waar jy nooit gedink het jy sal kom nie.

Hadewyk het my diep laat nadink.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive