Friday, July 10, 2009

Om te lees is om te waag. Oor die geestelike lees van die Bybel as resonansie




Ons beskerm ons kinders teen boeke wat ons dink hulle kwaad kan aandoen. En ons wil graag hê dat hulle die Bybel lees, in die hoop dat dit hulle lewens vol en ryk sal maak.

Maar ons sensoreer ook onsself as dit by die Bybel kom. Ons lees byvoorbeeld nie “sektaries” of “liberale” teoloë of skrywers nie, want ons dink hulle idee’s sou ons kan laat dwaal.

Die Bybel self, voel ons, is ‘n boek wat ons met veiligheid kan lees. Ons ervaar immers hoe die Bybel ons kan inspireer en vir ons baie kan beteken. Ons dink: die probleem is nie om die Bybel te lees nie. Die probleem is eerder wanneer ons verkeerde interpretasies van die Bybel lees.

Maar die blote lees van die Bybel is tog al 'n waagstuk. Dit kan selfs gevaarlik wees. 'n Enkele woord van die Here kan 'n mens neem waar 'n mens nooit gedink het jy sal beland nie.

Hoekom gebeur dit dan dat die Bybel nie maar net "vryblywend" of skadeloos is nie? Dit het alles met die leeshandeling of die leesproses te doen. Wanneer ‘n mens die Bybel optel en dit lees, vloei die teks en die leser inmekaar: ‘n egte geestelike lees van die teks, raak die mens op baie maniere en op 'n omvattende manier aan. 'n Mens kan bly moeilik onbetrokke en neutraal by die lees van die Bybel. Deurdat ‘n mens die teks lees, word jy in 'n proses opgeneem wat jou onmiddellik verander. Jy hoor jouself lees, jy voel die teks, dit raak jou aan. Maar jy sien ook die teks terwyl jy dit lees - merke op papier. En jy sien hoe hulle betekenis vorm. En veral wanneer jy dit, in 'n geestelike lees, hardop doen, werk hierdie leesproses op jou in.

Op die manier vloei die teks in jou in en jy verloor jouself in die teks. Daar vind ‘n simbiose tussen teks en leser plaas. ‘n Geestelike lees van die Bybel is daarom altyd ook ‘n leeshandeling, ‘n lees-daad. Die teks praat met jou. Soms verloor jy jou so in die gesprek dat jy nie agterkom die tyd gaan verby nie. As jy jou kom kry, is dit al laat. Jy doen dus met jou gelees iets wat jou intrek in ‘n gesprek en wat jou lewe daarom kan verander.

Hierdie lees van die Bybel en hierdie hoor van die Here se woord kan baie ingrypend wees. Dit is ‘n leeshandeling wat ‘n klomp dimensies van die mens aanraak. Mense wat die woord van die Here oor Ananias en Saffira se bedrog hoor (Hand. 5:5 en 11) is deur ‘n groot vrees oorval. Toeskouers wat die dade van apostels gesien het, het die Here “baie geëer” (Hand. 5:13). Dit laat ‘n mens dink aan Psalm 119:120 waar die Psalmdigter vertel: “My vlees sider van skrik vir U; en ek vrees vir u oordele,” met Psalm 119:161 wat sê: “my hart vrees vir u woord.” En tog kan dieselfde digter sing: “Ek sal my verlustig in U insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.” Dinge wat die Here se of doen, kan jou hart laat smag na meer. Waar ‘n mens die Bybel geestelik lees is daar dus dikwels ook verlange teenwoordig: “My siel smag na U heil” (Ps.119:81).

Terwyl Jesus saam met sy dissipels die pasga volgens die voorgeskrewe tradisie vier, sê Hy: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat ek ly” (Luk.22:15). Hy vier saam met sy dissipels die uittog uit Egipte - hulle heilige geskiedenis.

Wanneer ons by die nagmaalstafel sit as die Here se “sigbare” Woord aan ons, kan dit ons byvoorbeeld oorrompel as ‘n geskenk van God, aanvuur om ons lewe in orde te kry, help om vrede met ander mense te maak of inspireer om die gemeenskap van gelowiges na te jaag. Baie is nogal op die spel as ons eers die Here toelaat om met ons te praat.

Wanneer ‘n mens die woord van die Here hoor, vier, gedenk en beleef, vind daar ‘n vereniging tussen die goddelike en menslike plaas. Die woord van die Here en die luisteraar word saamgebind in ‘n eenheid, 'n simbiose vind plaas. Maar terselfdertyd kring dit uit om baie ander dimensies van ‘n mens se bestaan in te sluit. Jou ervaringe in die hoor van die Woord het diep, wye emosionele implikasies. Die Here se woord resoneer met jou hele wese. ‘n Geestelike lees van die Bybel kan nooit net die verstand aanraak nie. Dit roep ‘n hele reeks van ervaringe, reaksies, belewenisse en gevoelens op.

Wanneer dit gebeur, word die mistieke proses voltrek, want hierdie resonansie beteken dat Iemand van buite jou in jou innerlike bestaan inkom en jou omvorm. Daar gebeur iets met jou wat nie uit jou binneste opgekom het nie, maar wat van Buite op jou inwerk. Die Woord word jou woord. Jy het dit gelees en dit kom lê nou in jou hart, in jou binneste as deel van jou. Dit steek ‘n lig aan die brand. “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig” (Ps.119:130). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps.119:105). Jou binneste word ruimer, groter, gevul deur ‘n Mistieke Teenwoordigheid wat in jou skyn: “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart” (Ps.119:32). En ons leef, droom, reageer en rig ons lewe in op grond van ons ervaringe.

Hoe onthou ons tog nie die teks wat by ‘n begrafnis gelees is nie, of by ons troue, of die gesang wat gesing is nie, of die versie wat by ons geloofsbelydenis aan ons gegee is. Dit bly klink en klink jare na die tyd nog by ons. Dit roep aangename, troostende, blye of soms negatiewe gevoelens by ons op. Die Here se woord kan diep in die menslike lewe insny.

Die geestelike lees van die Bybel behels ‘n leeshandeling waardeur ‘n mens die teks hardop lees, hoor, sien en tas. En daardeur kan jy nie onaangeraak bly nie. Want as ‘n mens die Woord so beleef, is dit soos ‘n klip wat ‘n venster tref: die krake loop deur die hele ruit.

Mense wat weet, besef waarmee hulle te doen het as hulle die Bybel optel en lees. Eintlik maak ‘n mens ‘n lewensdeur oop wat onstuitbare kragte in jou kan losmaak. “Ek staan by die deur en klop....” Ek tel die Bybel op, bewus daarvan dit is God se woord. Ek lees die Bybel en dit raak my hele wese aan. Want, uiteindelik, is dit nie ‘n Bybelteks wat ek lees nie, maar God self wat met my praat, wat in my innerlike bestaan toegelaat word en lig opsteek wat donkerte verdryf en vrese tot niet maak. Om net die Bybel te lees is al ‘n groot saak....

Wanneer ek die Bybel lees is ek dus eintlik besig om met God te praat - en al pratende kom God nader en nader aan my, om uiteindelik in my te kom woon. Die woord word so vlees en kom woon in ons...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive