Tuesday, July 07, 2009

Die mistiek van vriendskap



Soms wil jy net die pad vat want almal in die huis vryf jou teen die verkeerde kant op. Jou vrou het jou moedeloos, want sy kou en klou vas aan sekere dingetjies en jou kinders jaag jou teen die dakke uit. Nie eers jou ou getroue hond kan jou uit jou bui kry nie. Dis sulke dae dat jy wonder waarom jy dit ooit in jou kop gekry het om te trou, al weet jy goed waarom.

Dit is dan die tyd om met jou goeie vriend te kuier. Jy bel hom, jy los jou vrou, kinders en hond by die huis, klim haastig in jou motor. Julle gaan speel ‘n potjie muurbal of sit op die dorpshotel se stoep en drink ‘n opfrissertjie. En julle praat eers oor vrouens en kinders wat die vrede in jou lewe ernstig bedreig. En as jy stoom afgeblaas het en jy voel al stukke beter, begin julle bietjie ander goed gesels, want dis nou kuiertyd: geldsake, sportsake, politieke dinge, internet dinge en sommer net alles wat in die gedagtes opkom. Vir ‘n salige uur of twee laai jy die batterye voordat jy gedwee en weer met goeie moed huiswaarts keer om jou gesinslewe van vooraf in die oë te kyk.

Wat sal jy sonder jou vriende doen, dink jy soms.

Wilhelm Jordaan skryf in sy Van Alle Kante-rubriek vanoggend oor vriendskap, hoewel bietjie meer bedaard en mooier. Daar is glo mense op Facebook, skryf hy, wat aanspraak maak dat hulle tot 24 000 vriende het.

Hulle moet hulle koppe laas lees, voel ek saam met Willem.

Hoe kan ‘n mens 24 000 vriende hê, behawe in ‘n wêreld wat nie meer weet wat intimiteit is nie?

Deur die eeue, ook in Bybelse tye, was vriendskap een van die hartare van die menslike lewe. Vir die Grieke en Romeine was dit ‘n uitsonderlike ideaal. Van die mooiste boeke in die geskiedenis is oor vriendskap geskryf.

‘n Mens ag vriendskap soos jy hoog dink oor die huwelik of ‘n ouer-kind verhouding. Elkeen van hierdie drie verhoudinge het sy eie intimiteit: Vriendskap het nie die liggaamlike intimiteit van ‘n huwelik of die vertrouensvolle intimiteit van ‘n familieband nie. ‘n Ma is intiem verbind aan haar seun soos met geen van haar vriendinne nie. En ‘n pa se unieke verhouding met sy seun kan in geen ander relasie teruggevind word nie.

Daar is ‘n intimiteit tussen vriende wat nooit in ‘n huwelik gevind kan word nie. Dit is ‘n intimiteit wat gevoed word deur die deel van ‘n gemeenskaplike perspektief, deur wedersydse aanvaarding, deur ontspanne saamwees, maar wat tog ook gedy op tye van afwesigheid, afstand, selfs objektiwiteit. Dit is juis die gereelde afstand, die nie-onder-dieselfde-dak-woon wat perspektief in ‘n vriendskap bring, wat maak dat ‘n goeie vriend met jou kan praat soos niemand anders kan nie. ‘n Vriend kan saam met jou jou irriterende bure of kollega’s by die werk onder hulle dinges skop. Hy bedink soms saam met jou die lang pad van die tyd, van julle ervaringe saam, die sake wat jy nie met ‘n vrou kan uitpraat nie, die kwellinge waarvan jou kinders nie wil weet nie. En met ‘n vriend kan jy die safari aanpak, die jagtog onderneem, die staptog doen of die wedstryd gaan speel.

‘n Vriend is ‘n vriend wanneer hy sommer net by jou kan kom kuier, sonder om eers te bel om te hoor of jy tyd het. ‘n Vriendin is iemand wat die telefoon optel en die dak oor jou kop afpraat sonder om vir ‘n oomblik te dink sy mors jou tyd. En jy is haar vriendin omdat jy bly gesels al hou jou een oog die horlosie teen die muur so af en toe dop.

‘n Vriend is iemand vir wie jy een woord kan sê en julle verstaan dadelik hoeveel wêrelde word deur so ‘n woord opgeroep. ‘n Vriendin is iemand wat vir jou ‘n kort SMS boodskap stuur met jou verjaardag en jy loop weke daarna nog en glimlag daaroor. ‘n Vriend is iemand wat heimlik dink jy koop die verkeerde motor, maar wat jou desondanks en ten spyte van sulke “foute” nogtans bly aanvaar. Vriende is mense van wie jy wil hoor, by wie jy wil kuier, by wie jy gelukkig is, onbedreigd voel, aanvaar word, waardeer word, kortom, by wie jy ‘n soort liefde optel wat die liefde met jou maat of met jou ouers en kinders of jou broers en susters merkwaardig aanvul.

Niks is so lekker as om by vriende te wees, ‘n aandjie te kuier, om die ditte en datte van die lewe en die ditjies en datjies van die dag met mekaar deur te praat nie. Jy hoef nie jou woorde te tel nie, want dieper dinge as woorde borg jul vriendskap. En jy praat ook nie leë taal, slaan-taal nie, want jul word aan mekaar gebind deur goedheid en omgee. Al sê jou woorde soms inhoudelik min en al kan woorde nie altyd groot dinge doen nie, praat hulle van vreugde oor die saam-wees, oor die gedeelde lewe, oor die ervaring van dieselfde gedagtes, die frisheid van nuwe idee’s, die optel in dae van onmoed en swaarkry.

Vir ‘n vriend kan jy jou hart oopmaak sonder om te voel jy waag iets. Jy kan die masker laat sak, die praatjies maar praat. Jy kan verspot wees, die humor diep loop haal, maar steeds met respek, selfs oor die allerheiligste dinge. Jy kan kritiek gee, sonder dat die bloed loop, jy kan ‘n hou op die ken kry sonder dat jy uitpass. Juis omdat vriendskap eerlik is, is dit genesend en blywend.

‘n Goeie vriend kan ‘n mens gelukkig maak. Dit kan soms selfs ‘n huwelik red!

So ‘n vriendskap is skaars en daarom kosbaar. Daarom is die band tussen Dawid en Jonatan, Jesus en Johannes, Jakobus en Petrus, Paulus en Timoteus so opvallend. Dit is selfs in die Bybel duidelik sigbaar dat twee mense nou en liefdevol met mekaar ‘n lewensreis deel wat anders as ‘n huwelik en gesinsverhoudinge is.

‘n Verlore vriendskap is iewers soos ‘n egskeiding. Dit is ‘n kosbare band wat verbreek is. Soms is jy ‘n vriend kwyt om ‘n onskuldige rede – dalk omdat jy op ‘n ander plek gaan woon. Dan dryf omstandighede jou uitmekaar. Soms verloor ‘n mens ‘n vriend omdat hy of sy trou met ‘n maat wat selfsugtig en besitlik is.

Maar soms verloor jy ‘n vriend weens ‘n onbedagsaamheid wat jou in jou hart verwond. Terwyl kennisse en vreemde mense jou kan teleurstel, kan niemand jou verwond soos ‘n goeie vriend dit kan doen nie. Maar uiteindelik sal die vriendskap iewers op ‘n dag begin waar dit opgehou het. Die wonde sal heel en dalk nog die vriendskap verdiep. Kyk maar na Johannes, die man wat saam met die ander dissipels ook van Jesus in verraad weggevlug het. Maar sy vriendskap met Jesus lei uiteindelik tot daardie mistieke, aangrypende evangelie van hom, geskryf deur die “een wat Jesus liefgehad het.” En hy skryf die onvergeetlike Johannes 15: 13-15: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”

Daarmee vertel Jesus ons iets van die mistieke dimensie van vriendskap: in ons vriendskappe, in ons daar-wees vir mekaar, is ons eintlik iewers soos God wat in mense se lewens inwoon. Vriendskap is ‘n gawe van God. Maar vriendskap is meer as dit, ook die teenwoordigheid van God. Want deurdat ons so beskikbaar is vir die ander, doen ons wat God ook doen. Daarom is vriendskap goddelik.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive