Wednesday, July 29, 2009

Spiritualiteit as self-verbetering? Oor selfbeheptheid en nietiging....

Ek kyk vandag na ‘n program oor meditasie in die Malmesbury gevangenis. Die inwoners, waaronder veral ‘n paar gewone Afrikaanse mans, het ‘n Boeddhistiese groep gekry om hulle te help om te leer mediteer. Dit is indrukwekkend om die groep te hoor dreunsing, met al die bypassende kleredrag, gebare en seremonies.

Een van die inwoners vertel dat hy deur sy meditasie besef het hoe gewelddadig hy vroeër was en hoe hy gewetenloos ander seer gemaak het. ‘n Ander een, weer, vertel van ‘n gesprek met sy pa waarin hy, tot sy pa se ontsteltenis, vir hom gesê het dat hy nie uit die tronk ontslaan wil word nie, want as hy eers weer buite die tronk in die besige lewe is, het hy nie meer tyd vir homself en vir sy innerlike versorging nie. Hierdie man het iewers geleer om nie net te lewe nie, maar om te kyk hoe sy innerlike bestaan deur sy lewe geaffekteer word. Hy het besef hoe kosbaar is ‘n mens se siel.

Dit was ‘n interessante, selfs boeiende gesig om hierdie harde mense uit ‘n harde verlede te sien soek na die geestelike weg. Deur meditatiewe tegnieke kom hulle tot ‘n innerlike reinigingsproses. Dit is duidelik iets wat hulle, soos een dit stel, transformeer, wat van hulle ander mense gemaak het as wat hulle was – stiller, gefokusd.

Wat my aangryp is hoe gekonsentreerd hulle ingestel is op die belewing van ‘n groter ervaring. Die hande is, tipies, in ‘n gebedshouding saamgevou, die liggaam op ‘n mat in ‘n stil posisie, die kop word gereeld vooroor, op die grond gebuig. Klanke stroom egalig, stilweg, melodieus uit en resoneer met liggaamsgebare en –bewegings.

Maar tog kan ek ‘n afstand in my aanvoel oor waarop dit alles sal uitloop. Ek voel selfs ‘n bietjie argwaan, nadenkend oor hierdie self-gerigtheid en self-verbetering waarop hulle meditatiewe proses ingestel is. Die inspanning is groot. Die asem moet beheer word, ervaar word sodat, vertel hulle, ‘n mens vergeet van ander dinge en bewus is van die hier en die nou. Jy moet jou instel op jouself en hoe jy tot innerlike rus kom. In ‘n sekere sin is daar afstand neem van die onnodige en fokus op die kern.

My gevoel van argwaan het my laat nadink oor die element van nietiging wat so ‘n groot rol in die mistiek speel. Die mens wat biddend na God verlang, raak op ‘n stadium bewus van God se teenwoordigheid. Dit “skemer” as te ware deur dat hy of sy nie meer alleen, verlangend is nie, maar dat Iemand by hom of haar is. Of, soos dit gestel word, ‘n mens raak nou bewus dat God die kern van jou ervaring is. Hierdie teenwoordigheid raak jou so aan, dat jy van jouself vergeet. In hierdie moment van ekstase, verloor jy jouself juis in die grotere teenwoordigheid van God. Dit is dan dat jy die gehegtheid aan jouself kwyt raak. Wie jy is, wat jy doen maak nie regtig meer saak nie. Jou hart is lank nie meer verkleef aan jouself nie. Hoe sterker die ervaring van God, hoe sterker die onthegting aan jouself. Jy is juis nie meer bewus van jouself nie. Jy dink nie oor jouself nie, jy word juis minder – sodat God meer kan word. Alles wat met jou te doen het, word nietig. En God word alles. Dit is oorweldigend, hierdie gloeiende binnekom van God in jou lewe.

Ek is aangegryp deur die ystere greep wat die gevangenes in Malmesbury se tronk op hul lewens uitoefen. Die bewussyn van die oomblik, die vergeet van die verlede wat jou in sy greep hou en die konsentreer op wat werklik saak maak. Dit is inderdaad ‘n stukkie nietiging.

Maar tog wonder ek of Bybelse tekste tog nie vir ons wil neem na ‘n dieper stuk nietiging nie. Want in die mistiek gaan dit nie net om sekere dele van jou bestaan agter jou te laat en om iewers iets van ‘n verlore self terug te vind nie. Ek leef nie meer nie... skryf Paulus. Hy moet meer word... sê Johannes. Nie my wil nie... worstel Jesus.

Die ervaring van die egte paradys beteken dat ‘n mens die bewussyn van jou bestaan opgee. Paulus leer dit sterk: ek leef nie meer nie. Dit gaan nie om my self-verbetering en –progressie nie.

‘n Mens gee jou lewe, jou bestaan op vir die Lewe en die Bestaan by God. Jy begeer hierdie lewe by God bly en gee jou eie nietige bestaan dankbaar prys vir die groter werklikheid, omdat jy in die teenwoordigheid van die liefdevolle God staan, by die Ander een, met jou gelaat voor die Sagte Gelaat van God.

Iewers is hierdie innerlike bekyk van jou eie siel so lou, vreemd en selfs uitsigloos. Dis eensaam, hierdie stil word saam met jouself. Dit maak ‘n god van dit wat juis nietig is en wat in vergetelheid verval. Hoe lief ‘n mens jouself ook al het, is die self-liefde net sinvol as dit in relasie met die Liefde van die Ander beleef word. Liefde vir die self deur die self is ‘n vreugdelose sug na die self, eintlik selfsugtigheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive