Thursday, July 09, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: oor die simbiose tussen Bybelteks en Bybelleser





‘n Vorige geslag van kinders moes in hulle “sondagskool” elke keer ‘n “versie” uit die Bybel uit hul kop leer en vir die “meneer” of die “juffrou” die versie opsê om ‘n punt op die klasregister te verdien. Natuurlik het die gewoonte ook uitgesterf, want daar was kinders wat óf nie die versies wou leer nie óf die nie kon leer nie – dan het hulle “dom” gelyk voor die ander. Of hulle het die einde van die jaar nie ‘n diploma of ‘n seël gekry nie. En menige dominee of onderwyser is deur vies ouers uitgetrap as hulle kinders nie daardie seël by die “prysuitdeling” gekry het nie.

Joodse en Moslem seuns in godsdienstige skole moet enorme teksgedeeltes leer memoriseer – juis omdat besef word watter invloed dit uiteindelik op hul lewens sou kon hê. Ek onthou hoe die ouer geslag maklik groot teksgedeeltes uit die Bybel opgesê het. En dit was in die meeste gevalle nie ‘n kwessie van slimmigheid of afwys nie. Die Bybel was vir sulke mense ‘n leefwyse, nie ‘n ou boek wat op die rak gelê het nie. In die dienste kon ‘n mens dikwels sien hoe mense geliefde gesange en psalms uit hul kop saamgesing het. Prys die Heer met bly galme; O goedheid Gods hier nooit volprese; Op berge en in dale en baie gesange was deel van jou lewe en jou kon enige plek en enige tyd groot dele daarvan sommer maar net so uit geheue gesing het.

Wat ons in die kerk so bietjie verloor het, kontrasteer met wat in die sekulêre lewe gebeur. Ek staan natuurlik verstom oor die jongmense se vermoë om liedjies te onthou en saam te sing (laat staan maar hoeveel flieks hulle ken en watter filmsterre hulle in detail kan bespreek). Kyk maar net na enige popkonsert en jy sien hoe hul lippe die woorde saamsing, van a tot by z en van z terug tot by a. Daar is nie ‘n probleem om versies te onthou nie. En jou mond hang oop, noudat Michael Jackson dood is, hoe sy liedjies die besit van ‘n hele geslag van mense was. Hulle leer nie die liedjies nie, memoriseer dit nie. Hulle leef dit.

Dit was hoe Bybeltekste ook gewerk het. Kyk maar nou net na Petrus se pinksterpreek in Handelinge 2. Groot dele daarvan, vertel Lukas, neem Petrus net so oor uit die Psalms. As hy oor Jesus praat, haal hy lang verse uit Psalm 16 en 110 aan. Hy begin sy preek met ‘n lang gedeelte uit Joël 2:28-32.

Nie net Petrus nie. Toe Dawid self Psalm 16 geskryf het, was hy hart en siel daarin. God “leer” hom die paaie van die lewe, hoor ons. Hy het dus God se wil vir sy lewe ontdek. Nou, wanneer hy oor hierdie wil van God skryf, raak dit hom as mens diep. Hy is met sy hele wese daarby betrokke. Die teks is vir hom nie bloot ‘n leë vorm nie. Of ‘n vervelige teksie wat gememoriseer moet word nie. Wat God leer, bring lewensverwagting (vers 26). Dit verander ‘n mens totaal van wanhoop tot hoop. Die wil van die Here gryp diep in jou lewe in en draai dit volledig om. Kyk veral na Psalm 16:8-11: dit is ‘n psalm waarin die skrywer met hart en siel in sy lof van die Here betrokke is. “Daarom is my hart bly en my tong jubel.” Hier praat ons nie van kop-godsdiens nie. Ons praat van hart-sake en lied-gesange. ‘n Tong wat jubel en ‘n hart wat van vreugde sing. En die aanhaling sluit met die aangrypende rede vir die Psalmis se blydskap: “u teenwoordigheid sal my met vreugde vul” (Hand.2:28). Die Psalmis leef in God se teenwoordigheid en dit raak hom hart en siel en tong.

Petrus sing nou na wat die Psalmis oor God sing. Hy dra hierdie Psalm voor aan die Pinksterskare. “Luister na hierdie woorde!” sê hy in Handelinge 2:22. Duidelik leef Petrus uit die Bybel. Dit is waar hy sy preekstof vandaan kry.

Petrus het duidelik hierdie teks dikwels gelees. Saam met die eerste Christene het hulle gereeld die Psalms bedink. Vir hulle was die Psalms boeke wat in Jesus lewe gekry het. Petrus sing dus die Psalm wat Dawid gesing het. Dubbele vreugde – Dawid s’n word Petrus se vreugde! En Petrus se vreugde was so aansteeklik dat mense wat hom hoor praat het, “diep getref” was (vers 37). Die Ou Vertaling vertaal die meer presies: hulle was “diep in die hart getref.” En toe vra hulle, “wat moet ons doen.” Hulle harte en hulle lywe en hulle lewens is deur Petrus se Skrif-uitleg vasgevang in ‘n onomkeerbare proses van vernuwing. Hulle is deur God se woord getransformeer. Só het hulle die Bybel aangehoor: nie as ‘n teksie wat opgesê moes word nie en waarvoor hulle ‘n diploma of ‘n seëltjie moet verdien nie. Maar as ‘n teks wat op hulle beslag gelê het en hulle lewens in ‘n nuwe koers gestuur het. Petrus, staan daar in Handelinge 2:40 het hulle met baie ander “woorde” besweer en vermaan.” “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Dawid se ontmoeting van God, word Petrus se ontmoeting met God, word die Pinksterskare se ontmoeting met die opgestane Here en Messias.

Ons praat in spirituele hermeneutiek van die simbiose tussen teks en leser. Deur die Woord van die Here vir ‘n pinksterskare te lees en te wys hoedat daardie woord in Jesus se lewe ingetrek was, het Petrus die groot geestelike reis aan die gang gesit. Daarom begin hy sy preek met die asemrowende aanhaling uit Joël: die laaste dae is hier. En nou is die tyd om te profeteer, roep Petrus uit. Om die Woord van die Here te spreek, dit is wat hier op die dag van die Heilige Gees gebeur. En almal sal hierdie profesie bring. Nie net die profete nie. Ook die oues en die jonges, die vrouens en die mans. Die Woord van die Here sal in ‘n lewegewende simbiose met alle mense opgeneem word. Hier word die Woord gelees, geprofeteer, gepraat, bedink, ingeneem, herken, toegeëien en uitgeleef. Alles begin waar mense die Bybel lees, dit hardop doen, in ‘n magtige geluid wat die skares van alle kante laat saamstroom (Hand.2:4, 6, 8) en waar hierdie leeshandeling hulle harte diep raak en hulle lewens vir altyd omkeer. Hier sal jy nie ‘n vreesagtige, soekende Bybelstudie (wat beteken die teks nou?) kry nie. Hier is lewe, transformasie, simbiose, toeëiening.

Ek onthou dat ek op ‘n keer iewers gelees het hoedat iemand wat in ‘n tronk gesmyt is omdat hy geweier het om sy geloof te verraai, vir dae lank wreed mishandel is en in eensame aanhouding opgesluit is. Hy vertel na sy vrylating dat hy in daardie donker sel in groot pyn net by sy verstand kon bly omdat hy aanmekaar vir homself gedeeltes wat hy uit die Skrif gememoriseer het, ook as kind, opgesê het.

Dit is eintlik nie so vreemd nie. Paulus, vertel Lukas ons, het in die tronk in Filippi in die middel van die nag Psalms gesing. Die Woord van die Here kan ‘n stukkende lyf en ‘n gebroke gees nuwe lewe gee. Want wie die Bybelteks geestelik lees, word liggaamlik en geestelik deur daardie Woord begeesterd.

Dalk is dit nie so onsinnig om ons kinders “Bybelversies” te laat memoriseer nie. Dit sal hulle dalk eendag meer lewenskrag bring as Michael Jackson se liedjies.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive