Tuesday, July 28, 2009

Die skokkende ervaring van die lewende God se genade. En ons oorgawe daaraan in kinderlike vertroue.

Karl Rahner (1904-1984) was een van die groot teoloë van die twintigste eeu. Hy het diepsinnige werke geskryf, volgens sommige van die moeilikste tekste in die moderne teologiese wêreld. Hy het graag oor temas geskryf wat die lewe van die kerk ten nouste raak. Hy is veral beïnvloed deur die spiritualiteit wat in die tradisie van Ignatius van Loyola gestaan het. Vir Rahner was die direkte menslike ervaring van God ‘n passie. Hy het dit as die hart van sy teologie gesien.

Een van sy bekendste werke waarin hy hieroor skryf, is sy “Brief van Ignatius aan moderne JesuÏte” waarin hy, self Jesuïet, die spiritualiteit van Ignatius “vertaal” in ‘n moderne konteks. Ignatius, skrywer van die klassieke Geestelike Oefening (sien elders op die blog), se geestelike oefening wat ingestel om die mens mistagogies te begelei in die goddelike ontmoetingsproses.

In die brief skryf Rahner asof hy “Ignatius” is. Hy hervertel Ignatius se lewe in ‘n twintig-eeuse konteks. Hy onthou dat hy God twee keer direk ervaar het (hy verwys na twee geleenthede in Ignatius se lewe). Hierdie ervaring het hom gedryf om met mense te praat oor God. Hy vier God se genade. Hy praat oor Jesus as die Gekruisigde en Opgestane Een wat mense vrygemaak het in God se vryheid.

Dit was nie ‘n ervaring waaroor hy allerhande slim teologiese dinge kan kwytraak nie. Dit was ook nie ‘n ontmoeting met sensasionele, buitengewone ekstatiese gawes nie. Hy het bloot net God ervaar, “die naamlose en ondeurgrondelike, stil en tog so naby.” Hy was by God, gewoon en direk het hy naby aan God gekom en dit het hom deurgrondelik getransformeer. Hy het nie geluister oor hoe mense praat oor God nie. Dit was nie ‘n mooi preek wat hom in sy hart gegryp het nie. Hy het God self beleef en dit het hom getransfomeer.

Hierdie stelling dat ‘n mens God ervaar het, kan heel mooi en onskuldig klink vir godsdienstige mense. Maar eintlik is dit skokkend. Want vandag praat ons nie eintlik meer so in die kerk nie. Ons sit in kerke en in Bybelstudie-groepe al pratende oor God sonder dat God by ons is. Die kerk het in baie opsigte selfs ‘n plek geword waar mense nie kan verduur om in stilte alleen by God te wees nie. Hulle hou van besig-wees, ons geniet die lekker aktiwiteite, die kerk lewe, dinge is aan die gebeur. Dit erediens weergalm onder die orkeste en die luidsprekers en die getuienisse en die gebede. Ons kuier lekker knus en geselling saam met ander gelowiges en vorm selgroepies waar ons mekaar se laste drae en saam vriende kan wees. In ons gedagtes is daar eintlik nie meer plek vir God, veral nie vir ‘n onbegryplike God wat al ons verstand te bowe gaan nie. Ons het God netjies in ons Bybelstudie-gidse verklaar en ons preke help ons om ons lewens met opwindende gebeurtenisse en aksies te vul.

Alles wat die kerk sê, skryf Rahner, die totale geestelike begeleiding van die mens deur die predikant, wil uiteindelik die aandag vestig op die onbegryplike, onpeilbare, genadige ontmoeting met God, die stile eenwording met en ervaring van God in ‘n atmosfeer van totale oorgawe en vertroue. Wat tel is dat God en die mens mekaar direk ontmoet, van aangesig tot aangesig teenoor mekaar staan. Dit is, skryf die katolieke teoloog, presies die bevrydende ervaring wat Luther ook gehad het – hierdie direkte ontmoeting met God en die kragtige uitstorting van God se groot genade in sy hart. Geen preek, geen Bybelstudie, geen huisbesoek nie. Alleen maar, iewers in die stilte van alleenheid hierdie oorweldigende besef: God het my in genade kom vrymaak en in God se vryheid opgeneem. Ek sal nie meer as ‘n slaaf van ander en van myself leef nie.

Los maar daardie teologiese slimmighede wat ‘n stortvloed van gedagtes, redenasies en woorde op ander aflaai. Vergeet maar van getrou wees aan die kerk en om die kerklike strukture te probeer beskerm. Help mense om verby die sigbare, uiterlike dinge te beweeg en om van behendige slimmighede te vergeet. Wys hulle op die onmoeting met God wat onmeetbare vreugde en liefde bring, nie net in hierdie desperate wêreld van ons nie, maar ook wanneer hulle op ‘n dag hulle koppe neerlê en die angs vir die dood hulle oorval. Waar die kerk dit doen, sal die kerk egte lewe ontdek, sal mense bevry word, vry van hul eie, onvervullende godsdiens, vry van leë, besige, ontrustige, haastige gejaag agter godsdiens aan en vry om in vreugdevol in God se oneindige, onbegryplike, onpeilbare, onmeetlike liefde te gaan rus. Dit is spiritualiteit. Hier is die Gees teenwoordig. Die Heilige Gees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive