Sunday, July 12, 2009

Sonde



(Satan, sonde en die dood - William Blake, 1808)

‘n Mens kan skuldig voel oor iets waarvoor iemand jou dalk sou kon uitvang en straf. Dan vrees jy iets uiterliks en is jy bang vir iemand wat na jou kyk en jou dade as verkeerd veroordeel. Jy voel skuldig daaroor.

Sonde is veel erger as so ‘n skuldgevoel. Dit sluit sekerlik 'n skuldgevoel in dat 'n mens aan God ongehoorsaam is. Maar ‘n egte sonde-besef (teenoor ‘n skuldgevoel) is ‘n verslae, knaende gevoel en gewetenswroeging dat ek my diepste, innerlike wese aangetas het. Hier waar God wil woon, op die intiemste van intieme plekke, hier waar alles begin wat vir my innerlike vrede gee en wat my lewe in helder lig laat skyn, hier het ek donker ingedra wat God se lig, God se beeld in my uitgedoof het.

In ons moderne godsdienstige konteks het ons nie meer 'n benul van hoe erg sonde is nie. Dit is juis die diepe bedreiging van sonde – dit doof 'n gelowige se gevoeligheid vir dit wat verkeerd is, uit of dit begatelliseer sonde deur die destruktiwiteit daarvan te verberg.

Sonde beteken dat ek my innerlike lewe, die wortel van my bestaan, daar waar my hart klop, waar ek skoon water van die lewe moet indrink, dat ek dit vergif, verkrag en vernietig. As ek volhard in die sonde, kan ek uiteindelik selfs my gees tot niet maak. Dan is ek, in Bybelse sin,“geestelik dood.” En dit beteken eintlik 'n vorm van self-doding.

Sonde is, soos Luther dit al gestel het, 'n self-ingekeerdheid. Dit is wanneer ek uit selfsug leef, ‘n valse bestaan voer, wanneer ek voorgee wat ek nie werklik diep in my is nie, wanneer ek ‘n dubbele lewe leef. Ek is dus deurtrek met valsheid. Ek gehoorsaam nie meer my gewete nie. My gewete pla my eintlik nie meer nie.

Eintlik beteken sonde dan dat ek myself tot niet maak – of in die ergste vorm – myself tot niet gemaak het. In my woon die "Heilige" Gees nie meer nie. Ek doen nie net slegte dinge nie, ek het boonoop sleg geword en is sleg.

Sonde is ‘n dodelike mag wat my in ‘n greep het waaruit ek nie kan losbreek nie en waardeur ek my herhaaldelik tot niet maak. Elke keer weer steek ek ‘n dolk in my eie hart. Ek het ter helle neergedaal.

Ons het dus nie regtig meer ‘n idee van sonde nie. Ons wil nie regtig weet dat ons sleg is nie, ons tyd vra self-respek en 'n gevoel van eie waardigheid. Dit is afwykend, dink ons, as ons deur 'n sondebewussyn ons eie onwaardigheid bely. Ons godsdiens praat eerder van voorspoed, van vergifnis, van foutjies en glipsies. Ons praat van sonde soms selfs ligtelik as stoutigheid. Ons weet nie eintlik meer wat berou is nie en ons bedink nie meer die sonde teen die Heilige Gees nie. Ons vrees sonde nie meer as daardie donker, dreigende, vernietigende, verborge mag wat sataniese houvas op on het nie.

En dit terwyl ons eintlik elke dag by herhaling verslae staan oor wat om ons aan die gang is: Die korrupsie, selfsug, ongevoeligheid, hardheid, self-verryking, materialisme, omgewingsbesoedling, hatigheid, jaloesie, misdaad, moord, diefstal en ander sondes sien ons, maar ons eien dit nie as ons s'n toe nie. Dit is die ander een se probleem en foute. Of ons het daarmee leer saamleef, sonder om te besef dit sypel ons eie bestaan ook binne. Laat ons maar net rondom ons kyk as ons ‘n slag tot ons sinne wil kom.

Ons godsdiens het deur ons saamleef met sonde en ons onderskatting daarvan, ‘n soort ruilhandel geword: ons doen allerhande vroom dinge, soos bid en kerk toe gaan. En met dieselfde voete stap ons in die sonde in en uit dieselfde mond peul die sondetaal. Ons skrik nie meer terug voor wat verkeerd is nie. Ons gee dit ‘n aparte “plekkie” in ons lewe waarvoor ons “goeie” vroomheid kompenseer. Ons godsdiens self sirkel om ons eie voorspoed, wil ons gewetens sus en maak ons veroordelend en beterweterig teenoor ander wat sondig is in vergelyking met ons goeie pogings tot vroomheid.

In die Cloud of Unknowing word van ons gevra om baie realisties te wees oor onsself. In nederigheid moet ons nie oor onsself dink soos baie idols-kandidate wat met hul totale vals note vir hulle verbeel hulle is unieke, talentvolle sangkunstenaars nie.

As ons realisties na onsself kyk, neem ons ‘n beslissende stap tot genesing. Hand in eie boesem. Balk in eie oog. Vee voor die eie deur. As ons eerlik na ons aarde kyk, kan ons nie anders as om ook onsself in te sluit in die verval nie.

Hoe bevrydend word die Evangelie tog nie, as ons deur ‘n diepe sonde-besef oorweldig word nie. Ons smag dan om uit die moeras te kom. En ons vind dit in alles wat die Bybel vir ons as God se liefde voorhou. Om te dink dat God met ons ‘n liefdevolle verhouding wil aanknoop sodat ons innerlik gereinig kan word en egte lewe in ons kan voel ontkiem. God wil ons kom haal, weg van hierdie verskriklike self-vernietigingsproses waarmee ons besig is. God wil ons hand kom gryp, vasgryp, sodat ons nie langer onsself so tot niet maak nie. En God wil ons omdraai, in liefde vir ons as sy eiendom vashou, in ons kom woon en ons bevry van al die donker wat ons in ons lewe in gedra het. Dit is nooit te laat en dit is nooit te veel nie.

Hoe bevrydend is die Evangelie nie. ‘n Krag tot redding, ver bo wat ons ooit kan dink. Die weg tot die ware lewe, ‘n lewe van vervulling en vrede.

Die mistikus se ervaring van God is juis so oorweldigend omdat dit gebeur in 'n konteks van intense bewussyn van eie onheiligheid en God se suiwer heiligheid. En dit is so vreugdevol omdat God ons wil heilig, reinig en tot die volle lewe wil herstel.

Verras ontdek ons juis hoedat ons aarde wat so verderflik lyk, ook in die tyd van die eerste Christene diepe wanhoop opgeroep het: Kyk na 2 Timoteus 3:

Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. (Let veral op hoedat vroom godsdienstige mense hier ingesluit word).

Die gelowige van alle tye, verslae voor die mag van die sonde, hoor in die Evangelie van 'n groter mag, die mag van die Liefde wat ons van onsself bevry.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive